ʼn Allemintige R8,4 miljoen vir welsynsorganisasies ingesamel

tekkie-tax-2016-01

Die span wat jaarliks Tekkie Tax se sukses verseker saam met die karaktertjie Happy. Foto: Verskaf.

Tekkie Tax vier om twee redes fees hierdie November!

Dié nasionale geldinsamelingsprojek het vanjaar daarin geslaag om R8,4 miljoen in te samel vir verskeie welsynsorganisasies. Tekkie Tax daag mense elke jaar om die laaste Vrydag in Mei R10 vir die veldtog te skenk sodat hulle hul drafskoene op dié dag vir liefdadigheid kan aantrek. Die projek het nou al meer as R22 miljoen ingesamel oor die afgelope vier jaar wat dit gehou word. Dié geld is versprei onder organisasies wat werk met kinders, mense en diere in nood, mense met gestremdhede, asook onderwys en opleiding.

Die tweede rede vir die feesviering was die bekendstelling van die Tekkie Tax-karakter “Happy”, ʼn yslike groen hart wat vreugde gaan bring oral waar hy saam met die Tekkie Tax-span saamkuier.

Byna 400 welsynsorganisasies, maatskappye, bekendes en verteenwoordigers van verskeie sakesektore het Tekkie Tax se feesontbyt by die Indaba Hotel in Fourways, Johannesburg, bygewoon waartydens die dubbele goeie nuus bekend gemaak is. Die skreeusnaakse Roland Styles het as seremoniemeester die gaste vermaak met sy pittighede en Freddy Trout was die gasspreker wat sy lewensverhaal met die gehoor gedeel het.

Daar was ook talle toekennings gewees vir diegene wat baie hard gewerk het om hierdie bedrag geld in te samel:

  • FNB was die maatskappy wat die meeste plakkers en veters verkoop.
  • Polokwane Nasorgsentrum het die meeste plakkers as ʼn welsynsorganisasie verkoop.
  • Almal Skool in Pretoria was die welsynsorganisasie wat die meeste veters verkoop het.

“Tydens die 2015-projek was daar 449 maatskappye wat aan Tekkie Tax deelgeneem het. In 2016 het dit toegeneem tot ʼn ongelooflike 952 maatskappye. Altesaam honderdduisend paar Tekkie Tax-skoenveters is vanjaar verkoop,” het Annelise de Jager, die stigter en beskermvrou van die projek, gesê.

“Ek is trots en dankbaar oor die groei wat hierdie projek toon, maar veral oor die reuseverskil wat Tekkie Tax maak in die lewe van hulpbehoewende mense en diere. Dankie vir elkeen wat die afgelope vier jaar aan die projek deelgeneem het.”

De Jager het gesê daar is egter nie rus vir die Tekkie Tax-span nie. Hulle werk reeds volstoom aan die 2017-projek.

  • Maak sommer nou ʼn nota in jou dagboek of ʼn knoop in jou oor: Die volgende nasionale Tekkie Tax-dag is op 26 Mei 2017. Gaan loer in by www.tekkietax.co.za as jy meer inligting soek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Denise ·

Dit is fantasties !!!!! Nou wil ek net weet wie is die welsynsorganisasies asseblief ek vra net!!!!

Alida ·

Word Helpende Hand ook gehelp met hierdie projek of is dit weer net vir sekere mense.

Alida ·

Ons sal ook graag die verspreidingslys wil sien waar die fondse heen gaan. Ons wat dit ondersteun het, het reg om te weet hoe dit versprei word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.