ʼn Alternatiewe vakansietyd vir dié jongelinge

Foto: Verskaf

ʼn Gesinsvakansie by die see is iets waarna die meeste kinders die hele jaar lank uitsien – Ma se behoorlik bekoorlike ontbyt, sandkastele saam met Pa en kaartspeletjies of branderpret saam met boeties en sussies.

Maar daar is kinders en jong mense vir wie dié lugkastele van sandkastele nooit realiseer nie, omdat hulle nie gesinne het nie. Daarom neem die Echo-jeugontwikkelingsentrums hul jong inwoners elke jaar op ʼn seevakansie.

Stigter Jaco Strydom verduidelik dat die Echo-gemeenskappe as alternatiewe families dien vir jong mense wat deur hulle ouers en die samelewing aan hulle eie genade oorgelaat is. “Gesinne gaan saam op vakansie, daarom vat ons ons gesin ook see toe oor Desember,” sê hy.

“Ons probeer om een keer per jaar met ʼn groep jongmense uit ons Echo-huise in Pretoria en Johannesburg by die see te gaan kamp – van hulle het nog nooit die see gesien nie. Op die seekampe word daar op geestelike groei en groepsbou gefokus, terwyl daar ook genoeg tyd is om as gemeenskap saam pret te hê.”

Verlede jaar het 52 van die Echo- jong mense by Sodwana en Winklespruit gaan uitkamp.

Echo is ʼn geloofsgemeenskap wat omgee vir jong mense in nood. Daar is huise vir kinders én vir jong volwassenes, elk met mentors om die jonges te lei en te help ontwikkel. “Die hoërskoolhuise fokus op jong mense ouer as 14, omdat daar min instellings is wat bereid is om jong mense in hierdie ouderdomsgroep in te neem,” sê Strydom.

“By die Echo-huise kry jong mense in nood die geleentheid om deel van ʼn nuwe gesin te word, hul skoolloopbaan te voltooi en tot geestelike volwassenheid en finansiële selfstandigheid te groei.”

Daar is tans 14 huise in Pretoria, Johannesburg en Kaapstad. Buiten die hoërskoolhuise is daar ook naskoolhuise vir jong mense uit ʼn kindersorgagtergrond tussen die ouderdom van 18 en 24.

“Jong mense in hierdie huise moet óf begin werk óf studeer. Al ons huise werk op ʼn saamwoon-beginsel, wat beteken dat daar ook jong mense woon wat nie noodwendig in nood is nie, maar wat graag ʼn verskil wil maak in iemand anders se lewe,” verduidelik Strydom.

Daar woon ook tans sewe jong mense in die Echo-plaashuis naby Frankfort in die Vrystaat. Dié projek fokus op emosionele en geestelike groei, werksgereedheid en vaardigheidsontwikkeling vir jong mense uit die bestaande Echo-huise en ander kindersorgprogramme.

Foto: Verskaf

Behalwe vir die program op die plaas sien hulle ook weekliks die maatskaplike werker op die dorp vir terapie, skakel in by aksies van die plaaslike gemeente en neem deel aan ʼn weeklikse uitreikaksie waar hulle ontdek dat hulle ook geroep word om ʼn bydrae te lewer in die breër gemeenskap.

Op Kersdag het die Echo-familie ʼn groot Kerspartytjie rondom ʼn braaivleisvuur gehou en ʼn paar geskenke uitgedeel. Die Nuwejaarspartytjie se gesellige samesyn was ook bittersoet, want ʼn klomp van die hoërskoolleerders maak klaar met skool en pak hul tassies om te gaan studeer.

“Baie nuwe kinders trek in 2019 by die huise in en daar is nog heelwat voorbereidings om te tref. Ons hoop dat dié nuwe groep ook vinnig tuis sal voel in ons omgeegemeenskap, sodat hulle gesond kan word en groei tot ʼn plek waar hulle hul eie roeping ontdek,” sê Strydom.

Sy droom vir die jong mense wat in die Echo-huise woon is dat hulle sal groei tot op ʼn plek waar hulle besef dat hulle nie bloot slagoffers is nie, maar ʼn bydra het om te lewer en ʼn verskil kan maak.

Echo maak op skenkings staat en verwelkom enige ondersteuning, hetsy ʼn finansiële bydrae, of klere, kos, beddens, palette, skryfbehoeftes en ander basiese benodigdhede. Besoek hul webwerf www.echoyouth.co.za om betrokke te raak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.