ʼn Blink toekoms wink …

Morné van Wyk (foto verskaf)

Morné van Wyk is Rustenburg se eie Jan Knaphand. Sy hande staan vir niks verkeerd nie: van klankstelsels in motors installeer en voertuie regmaak, tot konstruksiewerk by huise of braaiers bou.

Dit is te danke aan sy vakleerlingskap by Sol-Tech, waar hy hard werk en studeer om ʼn meulmaker te word.

Morné het aan die begin van hierdie jaar vir Sol-Tech se elektrisiën-kursus ingeskryf, met sy pa wat vir die studiekostes sou sorg. Die bedrag was egter groter as wat die begroting toegelaat het en Morné het by Helpende Hand vir ʼn studielening aansoek gedoen. Kort voor lank kon hy agter die draaibanke inskuif, want die Virseker Trust het vir hom ʼn rentevrye studielening toegestaan.

Dié veelsydige vakleerling het by HTS Rustenburg gematrikuleer, waarna hy vir byna ses jaar in die konstruksiebedryf gewerk het. Hy was eers drywer op verskeie masjiene en het later huise se fondasies gelê. In die aande het hy klas gedraf om sy N1- en N2-kwalifikasies in elektronika te verwerf. Maar hy wou meer doen, meer bereik, en het daarom besluit om verder te gaan leer.

Sol-Tech werkswinkel (foto: Adéle Changuion)

“Ek doen nou my N3 Industriële Elektronika en Wetenskap en leer om meulmaker te word by Sol-Tech. ʼn Meulmaker is ʼn elektrisiën en ʼn passer, dis twee ambagte in een. As ek net ʼn elektrisiën gebly het, sou ek nooit my N3 Meganies en Tekeninge wat ek op skool gedoen het, gebruik het nie, so ek sou daai vakke gemors het. Toe besluit ek, terwyl ek nou swot kan ek net sowel so veel as moontlik swot,” verduidelik hy.

Nou leer hy steeds die elektriese vaardighede, maar ook meganiese tegnieke daarby, soos om boorpunte skerp te maak, staalblokkies te vyl, te sweis, met gas te sny, te slyp en met hidrouliese en ander gereedskap te werk. Daar is ook baie leerwerk tussen al die praktiese oefening, want die vakleerlinge skryf toets.

Wanneer hy aan die einde van 2018 sy kwalifikasie verwerf, hoop Morné dat hy werk in Rustenburg kan kry, want dit is waar sy verloofde, Clarise, vir hom wag. “Deur die week woon ek by gawe mense in Mayville terwyl ek klas draf; hulle help my met verblyf en kos omdat Rustenburg so ver is. Maar oor naweke kan hy nie wag om huis toe te gaan nie. Ons bly op ʼn kleinhoewe en het ʼn lekker huisie en groot erf.”

Sol-Tech werkswinkel (foto: Adéle Changuion)

Hy is baie tevrede met die opleiding wat hy by Sol-Tech kry. “Die werkwinkels en klasse het baie teoriewerk en nog meer praktiese werk. By elektries moet ons elke keer eers teorie leer voordat ons die prakties mag doen. Daar is rye en rye borde waarop die elektriese toestelle bedraad word. By die meganiese afdeling is daar slypmasjiene, sweismasjiene, hidrouliese stelsels, rye en rye pompe en nog meer. Daar is elke week ʼn nuwe projek om aan te werk. Ek is baie dankbaar dat die Virseker Trust se lening dit vir my moontlik gemaak het om by Sol-Tech te kom leer.”

Wanneer sy klasse by Sol-Tech drieuur of vieruur die middag klaar maak, draf hy nog saans klas om sy N3 te voltooi of leer vir die meulmaker-teorietoetse.

Morné se mikpunt is om met elektronika te werk, soos om elektroniese kringbane en klankversterkers te herstel. Klank is sy eintlike passie: “Dis nou luidsprekers en klankversterkers vir huise en veral motors. Ek installeer klank in die meeste van my vriende en hulle vriende se voertuie, want ek is baie goed daarmee. Ek kan ook klankversterkers wat geblaas het, regmaak, omdat ek elektriese kennis het. Ek is ʼn jack of all trades en ʼn master of sound,” sê hy met ʼn breë glimlag.

Morné is nog nie ʼn dag spyt dat hy besluit het om ʼn ambag te leer nie, al kon hy dit nie bekostig nie. “Doen nou aansoek vir ʼn studielening van die Virseker Trust, hulle sal jou met jou studieskostes kan help sodat jy iets in die lewe kan bereik,” is sy raad.

  • Maroela Media en die Virseker Trust werk saam om Afrikaanse onderwys en ander Afrikaanse inisiatiewe te ondersteun. Kry ʼn verpligtingvrye Virseker-kwotasie.
  • Virseker is ʼn produk van Auto & General Versekeringsmaatskappy, ʼn gemagtigde finansiëlediensteverskaffer. B’s & V’s geld. (FDV-lisensienommer: 16354)

Wen ʼn bootreis!

Neem deel aan Maroela Media se kompetisie en staan ʼn kans om ʼn bootreis saam met Groot FM te wen. Bepalings en voorwaardes geld. Lees meer.

Oops! We could not locate your form.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.