’n Blokraaisel per dag laat ouderdom wag

blokraaisel

Foto: Stevepb/Pixabay.com

Deur Nicoline de Wet

Indien ʼn uitdagende blokraaisel daagliks voltooi word, kan dit breinfunksie in die latere lewe beskerm. Navorsers verbonde aan Exeter Universiteit het bevind dat die breinfunksie van mense wat daagliks ʼn blokraaisel voltooi het gelykstaande was aan dié van mense wat tien jaar jonger as hulle is wat betref die spoed van grammatikale redenering en die akkuraatheid van korttermyngeheue.

Die data van meer as 17 000 gesonde mense bo die ouderdom van 50 jaar is tydens ʼn omvattende en kragtige internet-navorsingsprojek ondersoek. CogTrackTM- en PROTECT- aanlyn kognitiewe toetse is gebruik om kerngebiede van breinfunksionering te toets. Daar is bevind hoe meer gereeld mense aangedui het dat hulle blokraaisels voltooi het, hoe beter het hulle presteer in take wat aandagspan, redenering en geheue geassesseer het.

Luidens Keith Wesnes, professor van kognitiewe neurowetenskap aan die Universiteit van Exeter se Mediese Skool, het hulle ʼn direkte verband gevind tussen die gereeldheid waarmee raaisels voltooi is en nege assesseringstake, waaronder aandagspan, redenering en geheue. Diegene wat raaisels voltooi het, het deurgaans beter presteer, en die prestasie het progressief verbeter in ooreenstemming met die gereeldheid waarmee raaisels voltooi is.

Volgens Clive Ballard, professor in ouderdomsverwante siektes aan die Universiteit van Exeter se Mediese Skool, is dit ʼn bekende feit dat talle veroorsakende faktore van demensie verhoed kan word. Dit is derhalwe van sleutelbelang om vas te stel watter leefstylfaktore regtig ʼn verskil sal maak om mense te help om normale breinfunksionering in stand te hou.

Die aanname kan nog nie gemaak word dat blokraaisels die brein skerper maak nie, en die volgende stap is om te bepaal of dit noodsaaklik is om mense aan te moedig om woordspeletjies gereeld te begin speel met die doel om breinfunksie te verbeter. Dit is egter wel ʼn bewese feit dat ʼn aktiewe brein kan help om agteruitgang van breinfunksie te verhoed.

Die studie is aangebied by die internasionale konferensie van die Alzheimervereniging in 2017 in Los Angeles, Amerika.

Bronne:

  • Neurosciencenews.com
  • University of Exeter “Daily Crosswords Linked to Sharper Brain in Later Life”. NeuroscienceNews, 17 Julie 2017.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.