’n Boei vir bejaardes in die grendeldae

(Foto: Verskaf.)

Die grendeldae raak lank en uitgerek vir bejaardes. Met geen kuiertjies van kinders, familie of vriende nie en met minder aktiwiteite is dit ’n groot uitdaging om die dae op ’n positiewe manier verby te kry.

Hoewel die fisieke welstand van seniors vir Helpende Hand ʼn prioriteit is, het hul maatskaplike werkers agtergekom dat dié tydperk emosioneel en geestelik nóg meer uitmergelend vir bejaardes is. Hulle het vereensaam en depressief geraak. En terwyl regulasies vir die oorgrote meerderheid van Suid-Afrikaners verslap het, moet tehuise, oorde en instansies vir senior burgers steeds aan baie streng inperkingsregulasies voldoen.

Om dié negatiewe gevolge teë te werk, het Helpende Hand die Grendelgenoot-projek van stapel gestuur. Benette Welman, projekorganiseerder, verduidelik dat Helpende Hand se maatskaplike werkers landwyd met alle instansies vir senior burgers gesels het om te bepaal wat die behoeftes is, hoe dit verander en op watter manier, hoe groot of hoe klein ook al, hulle ʼn verskil kan maak in seniors se lewe in hierdie tyd.

Uit die terugvoer van die maatskaplike werkers oor die behoeftes van die seniors, is die inhoud van die grendelpakkie saamgestel. Dit word weekliks uitgestuur en bestaan uit ʼn geestelike boodskap, ʼn emosionele boodskap, ʼn liggaamlike aktiwiteit om die immuunstelsel ’n hupstoot te gee en gemoedere te lig, en ʼn lekkerluisterstorie wat voorgelees word. Verder ontvang bejaardes aktuele inhoud wat opbeur, resepte, en kinderstemme van oral oor wat vertel hoeveel hulle na oupa en ouma verlang en wat hulle alles gaan aanvang sodra die grendelstaat gelig is.

Feitlik al die terugvoer wat gestuur word, beklemtoon die waarde van die inhoud. Die bejaardes is opgewonde daaroor en ervaar dit as pret. Een tehuis het laat weet dat die inwoners saam lag oor die stories en aktiwiteite en dat hulle die video’s baie geniet. Hulle deel dit selfs elektronies met hul kinders.

Nina en Dawie Smith van Melkbos in die Kaap het byvoorbeeld laat weet dat hulle op Maandae, wanneer hulle ʼn koppie koffie op die stoep geniet, met groot opgewondenheid wag vir die week se aflewering.

“Dan word daar lekker geluister en die oefeninge probeer. Lekker saamlag of -huil vir die voorlesing van die verhaal. Die handwerkies is baie oulik en ons sal nog almal probeer. Resepte word neergeskryf vir later se uittoets. Ds. Noeth se oordenking is altyd iets om na uit te sien. Elkeen se bydrae word na geluister en baie waardeer. Doen so voort.”

Op Piet Retief in Mpumalanga het ʼn aftreeoord laat weet dat sy inwoners aanvanklik nie kon glo dat ʼn organisasie spesifiek aan hul behoeftes gedink het nie en dat dit hulle baie spesiaal laat voel het.

Die Grendelgenoot is vir die eerste keer in die eerste week van Augustus uitgestuur en die mikpunt is om tot Desember daarmee vol te hou, of totdat die grendelstaat ook vir senior burgers gelig word. Die doel is om dit so wyd as moontlik te versprei om elke Suid-Afrikaanse senior se grendeldae so bietjie meer opwindend te maak.

“Die Solidariteit Beweging se krisisfonds het in die afgelope vyf maande daarvoor gesorg dat Helpende Hand op verskeie maniere ons mense kon ondersteun,” vertel Welman. “Die Grendelgenoot is Helpende Hand se bydrae tot die Krisisfonds ten einde om te sien na die welstand van ons senior burgers, selfs in ʼn tyd wat ons nie fisiek by hul kan wees nie,” sê Welman.

Sy is opgewonde oor elke tehuis wat vra om by die poslys gevoeg te word, elke senior wat laat weet dat die pakkie vir ʼn lag of ʼn traan gesorg het.

“Hoewel die tegnologie dikwels ʼn uitdaging is as dit by die ouer garde kom, is dit nou die enigste manier hoe ons hulle kan bereik en ons is dankbaar vir elke tehuis se bestuur wat moeite doen om te sorg dat die inwoners dit kan kyk of luister, selfs ook die seniors wat nie eens selfone het nie. Ons mag nie ons seniors vergete agterlaat nie. Ons moet alles in ons vermoë doen om hulle deur hierdie eensame tyd van isolasie en afsondering te dra.”

Welman moedig mense aan om hierdie pakkies na oupas of oumas, ooms of tannies of enige bejaarde met wie jy in aanraking is, te versprei. Die publiek kan die grendelpakkies van Helpende Hand se webwerf aflaai, of die telegramkanaal, “Grendelgenoot”, volg om die weeklikse grendelpakkies te kry.

  • As jy ook ʼn verskil wil maak, maak ʼn skenking aan die Solidariteit Beweging se krisisfonds. Lesers kan skenkings maak aan die Solidariteit Beweging se noodfonds by Helpendehand.co.za of by Krisisfonds.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.