ʼn Deurbraak vir Afrikaaps

Argieffoto (Foto; Jeanvdmeulen/Pixabay)

Hoewel Kaapse Afrikaans ​​sedert die 1500’s bestaan, het dié variëteit nog nooit sy eie woordeboek gehad nie.

The Conversation berig dat Afrikaaps nou behoorlik kan spog met sy eerste woordeboek, Trilingual Dictionary of Kaaps. Dié woordeboekprojek is te danke aan ʼn groep akademiese en gemeenskapsbelanghebbendes by die Sentrum vir Veeltaligheid en Diversiteitsnavorsing aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), saam met die hiphop-gedrewe gemeenskapsorganisasie Heal the Hood.

“ʼn Kaapse Afrikaanswoordeboek bevestig dit as ʼn taal uit eie reg en sal ook die identiteit van die mense wat dit praat, bekragtig,” sê Adam Haupt, direkteur van die Sentrum vir Film- en Mediastudies aan die Universiteit van Kaapstad (UK), wat hierby betrokke is.

Volgens Haupt sal dié woordeboek help om die uiteenlopende kulturele, taalkundige, geografiese en historiese sytakke wat bygedra het tot die ontwikkeling van hierdie taal sigbaar te maak.

“Sigbaarheid en die politiek van verteenwoordiging is die belangrikste uitdagings vir sprekers van Kaaps – of dit nou in die media is, wat ʼn uitstekende taak verrig het om sprekers van Kaaps te stereotipeer, of in die sprekers se betrokkenheid by regerings- en onderwysinstellings,” sê Haupt.

“As Kaaps nie as ʼn bona fide-taal erken word nie, sal jy steeds klaskamerscenario’s teëkom waar daar uitdruklik vir leerders gesê word dat die manier waarop hulle praat nie ‘respekvol’ is nie en hulle nie sukses in hul loopbaan kan verseker nie.”

Haupt meen die erkenning van Kaaps is dus noodsaaklik, veral omdat Afrikanernasionaliste Kaaps onderdruk het om die oorheersende weergawe van die taal in die vorm van Afrikaans te skep.

Die woordeboekprojek, wat nog in die beginfase is, spruit uit voortgesette samewerking tussen ʼn paar sleutelpersone.

“Jy kan sê dat dit ʼn produk is van ons belangstelling in hiphopkuns, aktivisme en opvoeding,” sê Haupt.

Quentin Williams, ʼn sosiolinguis, lei die projek en Emile Jansen, Tanswell Jansen en Shaquile Southgate dien namens die Heal the Hood-projek in die redaksie. Heal the Hood is ʼn niewinsgewende organisasie wat hiphop-opvoeding in jeugontwikkelingsinisiatiewe gebruik.

Die Trilingual Dictionary of Kaaps bevat definisies, inskrywings met hul geskiedenis van oorsprong, gebruik en opname, vertalings van Standaardafrikaans en Engels, en dit bepaal ook die betekenis van ou en nuwe Kaaps-woorde.

Gebruikers van Afrikaaps, opvoeders, studente en navorsers sal grootliks hierby baat, maar dit sal ook nuttig wees vir joernaliste, uitgewers en redakteurs wat meer wil leer oor hoe om dié sprekers te betrek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

andre ·

Hoe is dit moontlik dat hierdie taal sedert die 1500’s gepraat en ontwikkel is as dit n “slang” variant van afrikaans is. Afrikaaps het sy oorsprong in die koloniale tydperk gehad, en vandaar verder ontwikkel, soos ook Afrikaans. Die eerste setlaars het eers in 1652 in die kaap aangekom. Afrikaans of enige variant daarvan kon onmoontlik nie 100 jaar voor dit al gepraat gewees het nie. As ek my feite verkeerd het, help my asb reg, met feite.

Francois Le Cochon ·

Portugese seevaarders het reeds in die 1500’s al hier aangedoen. Miskien het ‘n seevaarder daardie tyd iemand se wyn afgevat en was “jou ma se……” toegesnou.

Jack ·

Ag nee wat, feite het niks met die saak te doen nie. Daar is al lankal ‘n denkskool onder die “afrikaaps” praters wat hoog opgee dat Afrikaans nie deur afvallige nederlands sprekendes ontwikkel is nie maar deur veral die Khoi. En as dit voor 1652 begin is het blankes mos geen aanspraak daarop nie, of hoe? En dan mag ons nie praat van taalsuiwerheid en die Afrikaanse spel en grammatika reëls nie.

piet ·

Afrikaans het so baie dinge van ander tale af ontleen dis allermins suiwer. Selfs ‘n woord soos “kraal” kom van Portugeus af. Deur ‘n geleende woord net anders in Afrikaans te spel of uit te spreek, beteken vir my niks. Dis steeds ‘n geleende woord.

Johann ·

Wonderlik, 15 tale, 16 as mens Pretoriaans by tel, dit sal actually awesome wees, wat ‘n blessing!

Snowball ·

‘n Dialek is ‘n variëteit van ‘n taal, gepraat deur ‘n sekere groep gebruikers (wat soos in die geval met Afrikaaps, baie sterk identifiseer daarmee ) – met ‘n spesifieke/alternatiewe uitspraak en woordeskat wat verskil van die algemene/standaard taal. Soms berus dit op sosiale stand en word ‘n sosiolek genoem.
Frans het bv 28 dialekte – variëteite binne een taal, Afrikaaps is ‘n dialek van Afrikaans en geen woordeboek gaan die teenoorgestelde bewys nie.

piet ·

Is Afrikaans nie maar meerendeels ‘n dialek van Hollands nie?

Snowball ·

piet, Dalk so 300 jaar terug toe Afrikaans gesien was as ‘n ‘kombuistaal’, (toe dit gepraat is deur mense uit verskillende lande, wat noodgedwonge hier saamgegooi is en mekaar moes verstaan) kon dit nog gesien en dalk herken word as ‘n dialek van Hollands, met leenwoorde uit Khoi, Maleis, Portugees en Frans; ten spyte van die stewige wortels wat in Nederlands sit en die feit dat ons hier en daar Nederlands begryp, het Afrikaans onafhanklik van sy eerste treë in Nederlands ontwikkel tot ‘n taal in eie reg. Die ooreenkomste met Nederlands is daar, maar ‘n dialek is dit beslis nie meer nie.

piet ·

Persoonlik dink ek Afrikaans het so baie by ander tale ontleen dat dit volgens my nie rerig as ‘n suiwer nuwe taal beskou kan word nie. Deur nuwe spelreels, sintakses, nuwe woordjies te skep wat oulik mag klink, doen dit nie eintlik vir my nie. Afrikaans is maar ‘n bastertaal en nie juis uniek na my mening nie, het net te veel ander wortels wat dit in ‘n meerdere mate/grootliks beinvloed.

Snowball ·

Daar is nie iets soos ‘n suiwer taal nie – taal is dinamies, verander en pas aan soos die gebruikers se behoeftes verander en groei en soos dit blootgestel word aan ander invloede/ander tale. Engels vandag lyk nie naastenby soos Old English (5de – 7de eeu) nie. Italiaans het gevorm uit die ‘vulgêre’ vorm van Latyn soos gepraat deur die gepeupel en ongeletterdes..
Taal is maar soos ‘n vrou – jy moet dit liefhê en respekteer om dit te waardeer, anders word dit net iets wat jy misbruik en daarmee saam ontbloot die karakter van die taalgebruiker.

MakersMark ·

Wat ‘n spul snert. Vanaf die 1500’s ? En nou is daar ‘n “kaapse afrikaans” woordeboek……..so wie het die taal opgeteken 100 jr voor “veer” en papier in die kaap arriveer het ? 95 present van afrikaans spruit uit hollands so hoe kon “afrikaaps” vanaf 1500’s bestaan het sonder hollands? Afrikaaps is ‘n dialek oor jare gespruit uit gebruikstaal onder sekere bewoners van die kaap provinsie.

jou gewete ·

Absolute onsin, weer die goedbedoelende verwoesters. hoe kan die dialek meer as 150 jaar voor die Afrikaanse taal begin ontstaan het al gepraat gewees het. dink Julle ons is ape of dalk die anc om sulke snert te glo

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.