ʼn Droom het waar geword, sê Garsies-leerder oor Nasa ruimteskool

Divan Beukman en Almé Engelbrecht (Foto: Verskaf)

Divan Beukman en Almé Engelbrecht (Foto: Verskaf)

Divan Beukman, ʼn leerder van Hoërskool Garsfontein in Pretoria, het vandeesweek gesê hy is sprakeloos nadat sy droom om Nasa se ruimteskool in Houston, Texas, te besoek danksy weldoeners bewaarheid is.

Beukman het in Augustus vanjaar saam met Almé Engelbrecht van die Hugenote Hoërskool in Wellington in die Wes-Kaap teruggekeer van ʼn besoek aan dié ruimteskool.

Dié skool is ʼn jaarlikse projek van die Amerikaanse stigting vir internasionale ruimteonderrig (FISE) wat ten doel het om ruimte-gebaseerde akademiese onderrig te gee aan hoërskoolleerders en wat ook dien as ʼn inleidende kursus en oriëntering tot die lugvaartnywerheid.

Die interdissiplinêre program het 50 studente van 25 lande die geleentheid gebied om onder die mentorskap van verskeie ingenieurs, wetenskaplikes en kenners in die lugvaartnywerheid vir twee weke te studeer aan die Universiteit van Clear Lake en om hul eie “sending na Mars” te beplan en te konseptualiseer.

Die interdissiplinêre program het 50 studente van 25 lande die geleentheid gegee om die ruimteskool by te woon (Foto: Verskaf)

Die interdissiplinêre program het 50 studente van 25 lande die geleentheid gegee om die ruimteskool by te woon (Foto: Verskaf)

Beukman meen dié geleentheid was in alle opsigte ʼn droom wat waar geword het. “Ek het nog altyd daarvan gedroom om eendag Nasa toe te gaan, maar nooit geweet hoe my droom bewaarheid sou word nie. Ek was nog altyd geïnteresseerd gewees in die grootsheid van die heelal. Die hemele het vir my nog altyd die glorie van God weerspieël en die werke van sy hande verklaar. Dit was werklik ʼn voorreg om dié skool te kon meemaak,” het hy gesê.

Hy het vir die tydperk by ʼn gasfamilie in League City in Houston tuisgegaan.

Dié skool het ook die leerders ʼn geleentheid gebied om in “spesialisgroepe” te werk in afdelings waarin hulle die meeste belangstel of vaardig is. “Ek was in die Mars-verkenningspan. Dié span was onder meer verantwoordelik om ʼn Mars-verkenningsvoertuig asook ʼn ruimtepak te ontwerp. In my span was daar studente van Kanada, Frankryk, die VSA, Italië, Costa Rica, Wallis, Texas en Bolivië.

“Hulle het onder meer vir ons verduidelik hoe sogenaamde HAM-radio’s hulle help om met die internasionale ruimtestasie (ISS) te kommunikeer. Later het ons ʼn geleentheid gehad om met kommandeur Jeff Williams, wat tans aan boord van die ISS is, via die ARISS-skakel te gesels.”

Divan besig met sy deel van die aanbieding (Foto: Verskaf)

Divan besig met sy deel van die aanbieding (Foto: Verskaf)

Die leerders was ook by die neutrale dryfvermoë-laboratorium (NBL) waar die wêreld se grootste onderdak-swembad is en ook toetsmodelle van die ISS.

“Dié modelle word weer gebruik om die ruimtevaarders op te lei om buitevoertuig-aktiwiteite te doen. Dit behels dat hulle buite die ruimtetuig moet gaan om herstelwerk te doen of verstellings te maak,” het hy verduidelik.

Beukman meen ʼn hoogtepunt van dié skool was om die Johnson-ruimtesentrum in Houston te besoek. “Ons kon alles oor die geskiedenis van mense in die ruimte beleef. Dit was soveel anders as om na ʼn dokumentere program op televisie te kyk en ʼn geleentheid om baie te leer.”

Die leerders het aan die einde van die program ʼn geleentheid gehad om hul tradisies en kulture met die anders studente te deel deur middel van die kultuur-uitstalfees.

“Vir ons tradisionele gereg het ek ʼn malvapoeding gemaak, en Almé vla. Vir die Suid-Afrikaanse item het ons ’n eg Suid-Afrikaanse gedig op gesê met Afrika-geluide en musiek in die agtergrond en ʼn skyfievertoning aangebied wat die mense ʼn idee kon gee van Suid-Afrika se diverse kulture en pragtige natuurskoon. Ons het afgesluit deur ons volkslied voor te lees en die betekenis te verduidelik.”

Leerders moes aan die einde van die program ʼn aanbieding van hul beplande Mars-sending doen. Nasa, die ruimteskool, sprekers, asook die gasfamilies het dié geleentheid bygewoon.

“Ek kan nie begin om te verduidelik wat ek beleef en ervaar het nie. Woorde sal nooit kan beskryf hoe ongelooflik hierdie ervaring en geleentheid vir my was nie. Ek is dankbaar vir almal wat dit moontlik gemaak het,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

E.K. ·

Dit was vir my ‘n voorreg om die outjie met ‘n paar rand te help – en heeltemal daarvan vergeet! En uit die bloute kry ek nou die dag die mooiste dankie-sê brief van Divan met sy hele dag-tot-dag program toe hy by NASA was. Dit was elke sent werd en ek is so bly ek kon (danksy Maroela natuurlik wat die oorspronklike berig geplaas het) help om sy droom te bewaaarheid. Welgedaan Divan, bly jy het dit so geniet!

Anoniem ·

BAIE groot voorreg. Baie geluk en ek is baie bly saam met jou. God is GROOT !!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.