ʼn Eerste burgemeester vir Maroela-fontein!

Elke dorp het ʼn voorloper nodig – iemand wat die voortou kan neem en die pas kan aangee.

Daar moet immers iemand wees wat kan seker maak die skaap is op hok, die windpomp draai sonder ʼn piep, die tuisnywerheid se koeksisters is op standaard en die straatligte brand.

Maroela-fontein is ons digitale dorp; die plek waar ons kan saamkuier tot die koeie huis toe kom. Dis ʼn plek waar ons maar nostalgies kan raak en staaltjies kan deel.

Een Maroela-fonteiner het só gewoeker dat hy die aandag getrek het van die dorpsraad, en toe dit tyd was om ʼn burgemeester vir ons dorp te verkies, het almal soos een man en vrou vir hom gestem. Ons verwelkom dus vir Hennie Brummer as die heel eerste, splinternuwe burgemeester van Maroela-fontein!

Hy het op Maroela-fontein gewoeker en tiekies versamel, artikels gelees en ons stories met sy vriende gedeel. Hy het homself bekwaam as ʼn uitblinker-leser en iemand op wie ons Maroela-fonteiners sommer baie trots kan voel.

Burgemeester Brummer woon in Bloemfontein. Hy is getroud en het een pragtige meisiekind.

Burgemeester Brummer sê Maroela Media is vir hom die bron van inligting waarsonder hy nie kan klaarkom nie. Afrikaans beteken vir hom alles: hy droom, praat en sing in ons taal. “Ons praat net Afrikaans by die huis en probeer sover as moontlik om alles in Afrikaans te doen,” sê hy.

Hy het ʼn spesiale boodskap aan alle Maroela-fonteiners: “Laat God altyd eerste wees in jou lewe.”

Nou ja, ons burgemeester is sommer net ʼn titel en hy kan maar agteroorsit sonder om ʼn vinger te roer – Maroela se span staan gereed om nog steeds al die werk te doen en seker te maak geen steen bly onaangeraak om vir jou die nuutste nuus en ander prettige inligting te bring nie. Maar ons burgemeester kan beslis oral loop spog met dié titel (en hy ontvang natuurlik ‘n baie spesiale erebalkie op sy profiel), totdat ons natuurlik weer ʼn volgende verkiesing hou en die spreekwoordelike ketting om ʼn nuwe Maroela-fonteiner se nek laat hang.

Wie weet – jy is dalk die volgende burgemeester van Maroela-fontein!

*Maroela-fontein is deel van Maroela Media, waar jy as lojale leser kan tuis voel en ʼn bietjie meer voordele kan geniet as lesers wat sommer net wil lees sonder om hulle intrek in ons dorp te kom neem. En net soos ons nuus is dit gratis om op Maroela-fontein in te teken. Dis wa’ jy hoort! Klik hier om deel te word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Spekkies

Baie geluk Hennie Brummer van Bloemfontein.

Rachel

Baie geluk Burgermeester Brummer van Bloemfontein!

Moedeloos

Baie geluk met die nuwe burgemeesterskap.

Mad Mike die Rhodesiër

Veels geluk! Dis nou ‘n voorreg om ‘n regte burgemeester te hê. Jammer daar is nie ‘n foto van hom en sy familie nie!

SWAREB1962

Baie geluk, dra die goue Afrikaans ketting met trots.