
Marilu Dippenaar het haar eie Voortrekkeruitrusting gemaak vir 2022 se Erfenisfees by die Voortrekkermonument. (Foto: Verskaf)
Op ʼn dag soos vandag waar ons ons erfenis vier, maal soveel gedagtes deur my kop. Ek sien die kappiekommando en ossewaens, die Drommedaris, die Reiger en Goede Hoop. Ek hoor “In die songloed van ons somer, in ons winternag se kou” en hoe Jopie Fourie se Afrikanerhart klop. Ek voel hoe die windjie op kerkplein waai en gaan staan by oom Paul se voete. Ek hoor weer die storie van Wolraad Woltemade en sing saggies “My Sarie Marais”.
Ek huil weer oor die verskroeideaardebeleid maar staan trots langs ons kaalvoetvrou. Net vir ʼn rukkie sien ek die Oranje-Vrystaat en Transvaal voor ek verlore raak in die uitnemendheid van Afrikaner-instellings soos die FAK en die ATKV, of soos Eloff sal sing: “Somervakansie by die see”. Ek voel weer, en nou meer as ooit, hoe my hart klop vir die Bokke om die beker huis toe te bring en ek klim die trappe van die Voortrekkermonument.
Met hierdie gedagtes wat steeds soos vonke spat oor gebeure vol prag, hoop, hartseer en toewyding aan ʼn volk stap ek deur ʼn koringland wat een van ons boere geplant het en sit ʼn kransie op sy graf neer, terwyl ek by die Here smeek om ons land se boere te bewaar teen die kwaad wat in die nag wandel. Daar flits dan gedagtes van hoop deur my en ek sien kappertjies en hoor weer tannie Laurika in my oor: “Uit Hanover bring ek kappertjiesaad, uit die tuin van nr. 3 Darlingstraat”.
Steeds wandel my gedagtes rustig deur my erfnis en land om ʼn braaivleisvuur waar ons jagstaaltjies deel terwyl ons proe aan ons plaaslike wyn. Skielik voel ek weer die vreemde sagtheid van ʼn skaapoortjie en sien hoe die beeste stuk-stuk kraal toe kom op oupagroot se plaas. Ek proe melktert en koeksisters, ek laai my pa se geweer en gaan soek ʼn koedoe in die veld. Ek sink in ons mooie taal se ryk woorde, en ek lag weer vir Leon Schuster se staaltjies en bly lojaal teenoor my vaderland.
Ek staan so ʼn bietjie stil en bewonder die stigting van die Solidariteit Beweging terwyl ek nie anders kan as om te wonder hoe die erfenis gaan lyk wat ek gaan agterlaat nie. Gaan ek ook ʼn diepgaande invloed op die geskiedenis hê? Gaan my generasie en die een daarna ook bou soos ons nou bou?
Hierdie vraag maak my wakker uit my dagdroom en ek sit in stilte op my sitkamerbank. Ek vra myself af wat is die erfenis wat ek van Solidariteit Helpende Hand ontvang het? Vinnig antwoord ek my self: “Wel, ek voel soos die rykste vrou op aarde, want ek het ʼn diepgewortelde roeping as erfenis ontvang. Almal wat voor my hier was, het vir my ʼn platform gelaat om op te bou, ʼn spasie waar ek kan groei deur te gee van myself.”

René Roux (Foto: Verskaf deur SHH)
Ons woon in ʼn land waar dit so nodig is om uit te reik na jou gemeenskap, waar tradisie, taal en kultuur behoue moet bly. Ja, op ʼn dag soos vandag kyk ons terug na ons leiers en mentors, na gebeure wat hartseer geplant het maar ander wat weer hoop gesaai het. Dit is ʼn herinnering aan die verlede en ʼn blik op die mooie toekoms. Op ʼn dag soos vandag vier ek my kultuur, my taal, die verlede en die toekoms, my persoonlike erfenis, die erfenis wat my pa ook vir my gelaat het en die erfenis wat my Skepper vir my bied. “Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi.” (Psalm 16:6 AFR53) Dankie, Here, dat die maatlyn wat U vir ons bied ʼn oneindige ligging het.
Ek maak my dogtertjie groot met ʼn diep begrip vir haar erfenis. Die Weet (ʼn e-naslaangids vir leerders – ʼn aanlyn ensiklopedie vir skooltake) van Maroela Media verduidelik dit so mooi vir ons kinders: “ʼn Volksverhaal ontstaan in die volksmond (onder ʼn sekere groep mense) en dit word van geslag tot geslag oorvertel. Op hierdie manier bly so ʼn verhaal vir baie lang tye – selfs vir eeue – lewendig.”
Mag ek en my generasie ʼn erfenis nalaat waarin ander se gedagtes kan wandel net soos myne vandag. Mag ons inspireer en bewaar, maar meer as enigiets anders, mede-millenniërs, mag ons bou!
- Besoek www.helpendehand.co.za en word deel van ons erfenis.
- René Roux is ‘n adjunk-uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand.