ʼn Gratis koppie koffie vir een emmer rommel

Argieffoto (Foto: Pixabay)

ʼn Restaurant in Plettenbergbaai in die Wes-Kaap het vandeesweek ʼn slim inisiatief begin om dié dorp se strand skoon te hou: Vir elke emmer rommel wat jy na die restaurant bring, kry jy een gratis beker koffie – dít met ʼn spierwit, skoon strand om dié koffie te geniet.

Dié inisiatief deur Moby’s, ʼn seekosrestaurant op die strandfront, het sedert Woensdag soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei met talle wat die restaurant vir sy inisiatief en vindingrykheid geloof het.

Dianne Visser, die restaurant se bestuurder van openbare betrekkinge en sosialemediabemarker, het Donderdag aan Maroela Media vertel Moby’s wou ʼn inisiatief begin wat doeltreffend sou wees, maar wat ook potensieel deur baie mense ondersteun sou word. En een van die heel doeltreffendste maniere om mense te lok is natuurlik met ʼn gratis koppie koffie.

“Ons het gedink aan ʼn manier om mense aan te por om betrokke te raak en te help om die strand skoon te maak én te hou – en die idee van gratis koffie het by ons vasgesteek,” vertel sy.

Visser sê die restaurant het 5 ℓ-emmertjies in hul restaurant wat belangstellendes enige tyd van die dag kan kom afhaal om die rommel te gaan optel. Daar is egter net een vangplek: Rommel is nie noodwendig ʼn probleem op dié strand nie.

“Dit mag waarskynlik ʼn uitdaging wees om met ʼn vol emmer rommel terug te kom – maar nie onmoontlik nie. Maar op dié manier kan ons Plettenbergbaai se strand so mooi as moontlik hou,” vertel sy.

Ná die plasing op sosiale media, was daar ook talle vrae oor kinders, vertel Visser. “Kinders wil mos nie noodwendig koffie hê nie,” terg sy. “Ons het dus besluit om vir elke kind wat met ʼn vol emmer rommel na ons toe kom, ʼn roomys te gee. Die mense se terugvoer tot dusver is wonderlik – ons kan reeds sien dat hierdie ʼn projek is wat baie doeltreffend sal wees.”

Nature’s Valley Trust het die restaurant intussen ook op sosiale media geloof vir dié inisiatief. “Baie geluk aan Dianne Visser en die Moby’s-restaurant in Plett – hierdie is ʼn baie oulike veldtog en ons is opgewonde dat strandfront-restaurante inisiatief neem om rommel van ons strand af te hou.”

Vir meer inligting oor die restaurant, besoek sy amptelike webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

brenda ·

Dis n wonderlike idee; maar is daar nie meer in Plett werkers wat strande skoonhou nie? My kind het jare daar gewoon en daar was nooit n rommelprobleem nie?

Afrikaanse Knaap ·

Ek dink dis regtig ‘n goeie idee.
Restaurant eienaars reg oor SA kan dit gerus begin toepas.
Ek sal rommel op tel of straat vee vir ‘n koffie of ‘n koeldrank of ‘n roomys.
Die staat kan ook gerus mense begin beloon vir goeie gedrag.

Karen Kloppers ·

Fantasties !! Mense is soms snaaks, sal niks ekstra doen as hul nie daarvoor beloon word nie! Dit kan by skole en oral in SA werk. Ek bly in dié vuilste dorp ooit nl Brits in NW . Skaam my dood

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.