ʼn Groot opskop vir universiteit se 150ste bestaansjaar beplan

Sinki Mlambo. Foto: Facebook.

Studente wat vrugte op die dorp gaan steel het, besonder skraps geklede manstudente wat verby destydse bioskoopgangers in die hoofstraat gehardloop het, ʼn swem in die Calvyn, die duikweg wat deur manmoedige studente verspoel is, ʼn stootskraper wat teen ʼn boom vasgeketting is en ʼn draffie oor Over de Voor se gras.

Dié staaltjies, en meer, gaan opklink wanneer die destydse Potchefstroomse Universiteitskollege (PUK), later bekend as Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO) en tans die Noordwes Universiteit, in November sy 150ste bestaansjaar in dié dorp se Snowflake-gebou gaan vier. Die universiteit is op 29 November 1869 gestig, met vyf studente en twee lektore.

Sinki Mlambo, oudstudent en seremoniemeester van die dag se viering, sê dat die dag uiters belangrik is om die universiteit se herkoms en wat dit vir studente beteken het te onthou. “Dit is soos om huis toe te gaan. My hart onthou die vormingsjare wat ek by die universiteit deurgebring het en hoe my tyd daar my help vorm het as individu en verantwoordelike burger van Suid-Afrika.”

Mlambo, wat vandag haar eie kommunikasie-en-mediaskakelonderneming in Johannesburg bestuur en ook ʼn TV- en glanspersoonlikheid is, was in die Oosterhof-koshuis. Sy was ook primaria van die koshuis en het twee termyne in aktuele sake in die universiteit se studenteraad gedien. “Elke keer dat ek terugdink aan my studentedae, dink ek aan ʼn Smartie-boks se ‘wotalotigot’-slagspreuk. Dit was net meer as ʼn universiteit, dis waar ek familie gemaak het.”

Sy glo die feesviering sal ook ʼn gulde geleentheid wees om netwerke te verbreed en sakeverhoudings te bou. “Oud-Pukke domineer die plaaslike sakewêreld en hier sal mense die kans kry om verder geleenthede te ontgin.”

En het hulle kattekwaad as studente aangevang? “Natuurlik, ons was studente!” lag Mlambo. Sy onthou in haar rol as primaria dat hulle eenkeer ʼn hoender op kampus gevang en as geskenk aan die Excelsior-manskoshuis gegee het. “Die Oosterhof-koshuis se embleem is ʼn hoender. Ons het ook elke jaar, wanneer ons die rektor gegroet het, ʼn kuiken aan hom of haar geskenk.”

Over de Voor koshuis. Foto: PUK150 Facebook blad.

Dr. Pieter Mulder, die voormalige leier van die Vryheidsfront Plus, vertel dat hy ʼn koshuisinwoner en primarius van Over de Voor-manskoshuis was, terwyl sy vrou, wat hy tydens sy studentejare ontmoet het, die primaria van Vergeet-My-Nie-vrouekoshuis was. Mulder het ook in die studenteraad as voorsitter gedien.

“Dis eintlik ʼn wonderwerk dat die universiteit staan soos wat hy vandag daar staan. Die geboue het nie sommer uit die lug geval nie, dit het harde werk en sweet gekos. Destyds wou die regering ook nie bystand gee om die universiteit op die been te bring nie. Die eerste rektor, Ferdinand Postma, moes in daardie jare [1921] boere nader vir finansiering, wat maar net met ʼn paar waatlemoene kon help. Die waatlemoene is weer verkoop en so is geld ingesamel om geboue op te rig,” vertel dr. Mulder.

Hy onthou ook sy dae in die Alabama-geselskap en die toere wat hulle oor die land gedoen het. “Dit was besonders,” sê hy.

Prof. Callie Coetzee, wat saam met voormalige PUK-rektor prof. Theuns Eloff die feesviering reël, onthou ook met deernis sy studentedae. Ook hy was in Over de Voor en was in 1969 die voorsitter van die studenteraad, toe die universiteit sy eeufeesjaar gevier het. “Die viering het oor ʼn hele jaar gestrek en belangrike simboliek na vore gebring.”

Karlien koshuis in 1979. Foto: PUK150 se Facebook blad,

Een van die simbole was die monument wat die studenteraad in 1969 laat oprig het. Vandag se studente ken die monument as die Wasgoedpennetjie. “Die monument bestaan uit drie dele: die stewige basis van die universiteit, die ligkolom wat die wetenskap van die universiteit verteenwoordig en studente wat kom en gaan.”

Tydens die onlangse 50-jaar-studenteraadreünie, wat vroeër die maand gehou is, het Coetzee en die res van die studenteraad die monument besoek. “Kyk net wat het die universiteit geword, ʼn wonderdaad van die Here wat Hy ryklik geseën het.”

Hy vertel dat studente destyds net so vol kwajongstreke soos vandag is en dat daar gereeld ʼn stopstraatteken in die koshuis beland het. “Die destydse faktotum, ons almal het hom prof. Bossie genoem, het sy stootskraper sonder toesig op die terrein gelos en studente het die stootskraper met ʼn ketting aan ʼn boom vasgemaak. Toe hy wegtrek, pluk hy die boom wortel en al uit.”

Coetzee sê dat die studente ook daarin geslaag het om die faktotum te flous om ʼn swembad te bou. “Hulle het gesê dat die rektor toestemming vir die swembad gegee het, maar toe hy halfpad met die gat is, kom hy agter dat hulle vir hom jok.”

Hoe gaan hulle feesvier?

Coetzee nooi oud-alumni uit om die dag saam te kom vier, soos net Pukke kan.

Op 30 November sal die feeskomitee ʼn oggend- en middagprogram by die Snowflake-gebou hou.

Die president van die Republiek van die Tarentaal. Foto: PUK150 se Facebook blad.

Die dag se program sluit optredes deur bekende PUK-kunstenaars soos Johan van Rensburg (van Noot vir Noot-faam), Danie Niehaus, Anna Davel en “die Bourbons Broers” – met Ghapi en ander kunstenaars, in. Daar sal ook sing-songs en toesprake deur die President van Tarentaal, ’n humoristiese ou PUK-tradisie, wees.

“Dit gebeur net een keer in ʼn leeftyd. Ons wil van die geleentheid gebruik maak om dankie te sê, die uitsonderlike prestasies te vier en nostalgies te raak. Om 150 jaar te oorleef, in moeilike omstandighede, is eintlik ʼn wonderwerk,” sê Mulder.

Vir meer inligting rakende die feesviering en om kaartjies vir die dag te bekom, kan lesers die PUK150 Facebook-blad, asook die PUK150-webwerf besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Positief ·

Baie geluk Pukke… Kom ons kyk hoe goed dit gaan met die kommentaar. Deesdae klae Afrikaners oor als al is dit goeie nuus.

Piet ·

Bravo. Vier fees en geniet dit.
Geluk me Mlambo jy maak inderdaad ‘n verskil.

Hans ·

Het verneem dat die vieringe eintlike ‘n privaat inisiatief is,omdat die universiteitbestuur hulle distansieër het.

Nog n Overs-man ·

Sal graag die feesgeleentheid wil bywoon.

Tog jammer die NWU erken nie amptelik hierdie besonderse mylpaal nie, daarom dat die vieringe nie op die PUK kampus aangebied mag word nie….

Voor voor, Over de Voor!

Louwrens ·

150 fantastiese jare, as n oud puk is dit net hartseer dat die universiteit hulle blykbaar gedistansieer het van die feesvieringe en mag niks op die kampus gehou word nie. Miskien kan maroela agter die kap van die byl kom.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.