’n Hart so groot soos die Kaapse Vlakte

V.l.n.r. is: Shama Nathoo, Universal Accessibility Hub, wat dié kompetisie na Suid-Afrika gebring het. Tamelyn Bock van Noord-Kaap, is die wenner van Miss Wheelchair SA 2021, saam met Jacques en Lebohang Monyatsi, die eerste prinses by Miss Wheelchair World. (Foto: Verskaf)

Die skoonmakers, straatveërs en vullisverwyderaars is die mense wat in sy oë helde is. Hulle verrig stil-stil sonder trompetgeskal en onder die radar belangrike werk.

Dis een van die groepe “gesigloses” na wie Jacques Pratt (54), oudonderwyser van Milnerton en stigter van die Hope Hela Foundation, sy eie liefdadigheidsorganisasie, uitreik. Hy befonds dit self.

Jacques doen al sy lewe lank liefdadigheidswerk. Dit was die voorbeeld wat sy oorlede ma, Hela, kleintyd al aan hom gestel het. Daarom het hy ook sy organisasie na haar vernoem. Toe hy geldelik daartoe in staat gestel is, het hy vier jaar gelede uit die onderwys bedank en besluit om ʼn gedeelte van sy inkomste te gebruik om veral die mense van die Vlakte te help.

Jacques, wat in ʼn stadium as onnie van die jaar by sy skool aangewys is, vertel: “Ek het meer as 20 jaar skool gegee en my passie vir liefdadigheid aan my leerders oorgedra. So het hulle by my organisasie, Children against Crime, betrokke geraak, en ook by skoonmaakprojekte by strande, vleie en elders. Die oudpresidentsvrou, wyle Marike de Klerk, het my heelhartig ondersteun en saam met die kinders die strand voor haar huis in Bloubergstand opgeruim.

“As onderwyser wou ek die saadjie by die kinders plant en hulle laat besef dat dit nie net ʼn projek is om ʼn helpende hand na jou medemens uit te reik nie. Dit moet deel van jou lewe wees. Hoe jonger jy begin, hoe beter.”

Die plakkaat van Jacques se Hope Hela Foundation wat hy self gestig het en borg. Links onder is sy oorlede ma, Hela, wat die inspirasie agter sy liefdadigheidswerk is. (Foto: Verskaf)

Jacques en sy stigting is by mens, dier en die natuur betrokke. Sy slagspreuk is Never lose hope. It’s not about me.

Sy werk strek wyd – van gestremdes tot haweloses, bewusmaking van Afrikaans en om slagoffers van misdaad te ondersteun.

“Met projekte soos die Moedertaal, lees- en biblioteekweek was dit nie net iets wat ek op die kalender afgemerk het nie. Ek het dit aan pretlope en uitstappies soos bergklim gekoppel en die media genooi om dit by te woon. Veral die gedrukte media was my baie goedgesind.

“Ek het die Children Against Crime-projek in 2007 begin toe daar – soos vandag die geval is – een kindermoord na die ander op die Vlakte plaasgevind het. Die kind word vermis en dit eindig dan in ʼn tragedie.”

Hy het treurende ouers van moordslagoffers bygestaan met besoeke, bemoediging, deur aan vreedsame betogings deel te neem en deur net by die hofverhore teenwoordig te wees.

Mense wat sy pad gekruis het, is die familielede van Baba Jordan wat so wreed deur Dina Roderigues vermoor is, Denise Goldin, ma van die vermoorde Brett Goldin wat ook deur Anneline Kriel, gewese Mej. Wêreld, by die hof ondersteun is, en June Steenkamp, ma van die vermoorde Reeva Steenkamp. Hy het ook ʼn pad geloop met Vinod Hinocha, Anni Dewani se pa, en Linda, Amy Biehl se ma. Hy het destyds die Children against Crime – the Goldin Hands-projek gestig en het jaarliks vir ʼn herdenking van Brett se dood aan blommeleggings deelgeneem op die plek waar Brett om die lewe gebring is. Dit is deur talle mense in die vermaaklikheidsbedryf bygewoon.

Vir Denise was dit ʼn riem onder die hart dat die kinders wat Jacques vergesel het, drukkies aan haar uitgedeel het.

Hieroor sê Jacques: “Baie mense sal jou verkwalik omdat jy kinders by teenmisdaadveldtogte betrek, maar misdaad ken geen ouderdom nie. Ons kinders moet bedag wees op misdaad. Ons leef in ʼn wêreld waar jy dit nie vir kinders kan wegsteek nie.”

Hy reik ook na kankerstryders uit en het Tafelberg saam met Byron MacDonald, kankerlyer en omroeper, ten bate van Alzheimersiekte uitgeklim. Jacques se ma het 15 jaar lank Alzheimersiekte gehad.

Jasques het ‘n presidensiele toekenning ontvang vir sy liefdadigheidswerk in die deernis-afdeling. (Foto: Verskaf)

Hy neem graag aan pretlope soos The Silent Walk ten bate van dowes deel waar hy al saam met bekendes soos Helen Zille en Patricia de Lille gestap het, en is ook as seremoniemeester en borg by ongewone skoonheidskompetisies soos Mej. Doof Suid-Afrika betrokke. Hy het onlangs gehelp om verblyf vir deelnemers aan die Miss Wheelchair-kompetisie in Kaapstad te borg.

Individue wat dit nie breed het nie en self by hul gemeenskappe betrokke raak, lê hom na aan die hart, soos Sipho Njengezi wat fiksheidsklasse op die strand by Kalkbaai aanbied, King Slave Boris, kletsrymer (rapper) wat boodskappe teen geweld en bendes deur middel van lirieke aan die gemeenskap oordra, en vroue in Parkwood en Delft op die Vlakte wat sopkombuise bedryf.

“Ek koop die bestanddele, help kook, roer, opskep en uitdeel.”

As oud-onnie het hy Ellen Pakkies besoek en die kinders met hul huiswerk by haar naskoolsentrum gehelp. Aan ʼn biblioteek op die Vlakte het hy boeke en opvoedkundige speelgoed geskenk.

Hy het ook vir Heiron Joseph Nel, kwadrupleeg en mondskilder wat hy op die TV-program, Kwêla, gesien het, ondersteun deur vir hom opdragkunswerke te gee.

“Gestremdes wil nie bejammer word nie. Hulle probeer so normaal as moontlik leef,” benadruk hy.

Hy koop Afrikaanse skrywers van die Vlakte, wat hul boeke self uitgegee het, se werk waarna dit op sy boekrak pryk. En bosse blomme by die blommeverkopers van Adderleystraat in bloedsweettye.

Met praatjies by skole beklemtoon hy die belangrikheid van lees. “Ek was self op my dag ʼn lui leser,” bieg hy.

Tydens die hoogtepunt van die pandemie het hy maskers aan ʼn plakkergemeenskap in Dunoon geskenk.

“Ek het aanvanklik glansmense vir my projekte gebruik, maar nou span ek straatbewoners en skoonmakers in. Hulle word dan my celebs. Bekendes kry genoeg aandag.

“ʼn Mens oordeel nie iemand wat op straat beland nie. Jy behandel hulle met menswaardigheid.”

Jacques het die vermoorde Anni Dewani se pa Vinod Hinocha tydens die moordverhoor op sy dogter ondersteun deur gereeld die hofsaak by te woon. So het hulle vriende geword. (Foto: Verskaf)

Daarom het hy vir ʼn bergie op sy verjaardag kos, koek en eetgerei gegee, ʼn Kersmaal vir straatbewoners en pizzas en koeldrank vir die skoonmakers by ʼn nabygeleë winkelsentrum.

Oor die presidensiële toekenning wat hy in die deernisafdeling gekry het, is hy nederig-dankbaar. ʼn Madiba-hemp is ook aan hom oorhandig wat hy later op ʼn geselligheid gedra het toe hy Mandla, Madiba se kleinseun, ontmoet het.

Hy is ʼn diereliefhebber en behoort aan die Bunny Huggers vereniging (hy en sy troetelkonyn Milly is onafskeidbaar) en ondersteun ook diereorganisasies met donasies en kyk waar daar nood is vir diere wat operasies moet ondergaan of wat beseer is. Hy voer 18 straatkatte by sy ou skool en het hulle laat steriliseer.

Jacques raak ook by diere betrokke wat weens brande ly, omdat mense gewoonlik net aan hul eiendom dink wat in die slag gebly het.

Jacques glo uit sy hart aan tweede kanse (daarom besoek hy ook gevangenes) en dat jou vrygewigheid nooit oor jouself moet gaan nie, maar oor ander.

Ma Hela sou trots gewees het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.