’n Huis is soveel meer as net bouplan en bakstene

(Foto verskaf)

Die verlange na ʼn huis leef in ons almal. ʼn Veilige plek waarheen ons kan gaan en nie bevraagteken word nie.

Ek het die afgelope maand of wat baie gedink aan wat “huis” nou eintlik beteken en hou van dié beskrywing deur Maya Angelou.

My gedagtes het huiswaarts begin trek met ʼn onlangse nuusstorie oor die verkoop van ʼn bouval van ʼn huis in Kaapstad se suidelike voorstede vir ʼn verstommende R3,4 miljoen. ʼn Plek wat skielik stil moes word, nadat vlamme gulsig deur die kamers gelek en die dak in puin gelê het. Die verkoopprys van die baksteenslagveld (wat deur ʼn eiendomsagent ewe optimisties as ʼn “fixer-upper” beskryf is) het almal verstom en vir ʼn week of wat die plaaslike eiendomsmark aan die praat gehad. Ek het nie soseer oor die prys getob nie, maar gewonder wat in daardie huis gebeur en van daardie mense geword het.

ʼn Paar dae later stap ek laatmiddag met my honde deur ʼn woonbuurt onder Tafelberg, wat bekend is vir sy duur Duitse motors en een argitektoniese wonder op ʼn ander. En toe eensklaps voor my, ʼn ou verlate huis wat amper verskonend op die hoek staan. ʼn Huis wat verláát is. Geen perfek-gegrimeerde gesig op ʼn verkoopsbordjie nie; gras wat al so lank is dat dit in die al hoe sterkerwordende wind golwe maak; baksteenmure wat die lelike letsels van verwaarlosing en 50-jaar-plus se vuishoue van die elemente begin wys. En die melankolie trek deur my lyf soos die bitsige Kaapse koue. Dit voel asof hierdie huis wéén; asof sy haar mense mis. En ek wonder weer: wat het van hulle geword?

(Foto verskaf)

In een van haar boeke beskryf Nora Roberts “ou huise” meesterlik:

They were filled with memories, with the faded echoes of voices. Drops of tears, drops of blood, the ring of laughter, the edge of tempers that had ebbed and flowed between the walls, into the walls, over the years. Wasn’t it, after all, a kind of life?

And there were houses, he knew, that breathed. They carried in their wood and stone, their brick and mortar, a kind of ego that was nearly, very nearly, human.

En soos die belofte van lente begin tintel word die huis oorkant my in die Overberg gesloop. ʼn Onaantreklike blou en wit blok van ʼn vakansiehuis, maar een waarvan die mure vir dekades lank die warm asems van ʼn oupa en ouma en hulle kinders en kleinkinders saam met die sout seelug geabsorbeer het.

Die proses om die gebou in puin (en pyn) te lê was vinnig en brutaal. Eintlik indrukwekkend.

(Foto verskaf)

Die betekenislose hoop bourommel van so lank se lief en leed het my laat besef hoekom ek die laaste maand of wat ʼn huismelankolie gehad het – dit was die aanloop tot vandag, 1 September – Lentedag maar vir my, my ma se sterfdag.

Ek mis die huis waar daar altyd ʼn warm bord kos of vars-uitgedrukte lemoensap, of tee en koekies reggestaan het; waar my pa buite in die tuin in die son sit en wag het vir ʼn lekker opvanggesels. Waar die kwikstertjies ewe astrant op die kombuisdeur se trappies sou klim en hulle koppies skugter insteek om my ma se oog te vang. Ook vir hulle was daar altyd ʼn lekker dingetjie. My pa wat sy kleinseuns leer balskop, terwyl die braaivleisvuur se vlamme al hoe vroliker knetter. En ek dink terug aan soveel familie-etes om my ma se mooi gedekte tafel toe ons almal op spesiale geleenthede voltallig aangesit het.

Met my ouers se afsterwe in 2014, presies drie maande na mekaar, het alles uitmekaar geskiet. Vreemdelinge woon nou in die huis wat vir so lank my heenkome en hawe was. Ek het in al die jare na hulle dood nog net twee keer daar verbygery, want verlange stoot in my bors op totdat my keel wil toetrek. Ek sien hoe my pa en ma buite staan wanneer my kuier ten einde loop en dit groettyd word. My ma so klein langs my pa en haar effense hartseer glimlaggie terwyl sy waai en waai totdat sy my nie meer kan sien nie.

Huise kom en gaan en elkeen is spesiaal, maar ʼn ouerhuis is onvervangbaar.

Ek mis myne elke dag, al vir agt jaar.

Moederskip.

  • Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM. Lizma kan elke Vrydagmiddag 12h45 op Die Kwik Styg op RSG gehoor word. Sy is die aanbieder en regisseur van die reeks oor klimaatsverandering.

Meer oor die skrywer: Lizma van Zyl

Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

annie ·

Ons voorvaders het vol bravade hul pragtige Kaaplandse opstalle feitlik verniet weggegee uit woede vir die jongste uitsprake van die Engelse goewerneur en die bloedige tog noord aangepak. Vroue en kinders het gely, maar trek na vrede en geluk was die vooropgestelde droom. En nou? Nou wil die nasate terug. Buitelanders bly knus in die Kaap en omtrekke. Wynplase is onbetaalbaar onbeskikbaar en die res is deur voormalige Oosterlinge en plakkers van elders gevul. Soms moet mens eers bid vir raad en dan doen. Moet die Vader nou ons dwase aksies omkeer?

Delia ·

Wow…wat n pragtige artikel.
Ek het ook n amper 50 jaar lange ouerhuis gehad. De Wetstraat 70 en toe sterf my ma in 2016.
Die nuwe eienaars het die hele tuin en al die bome uitgehaal.
Gelukkig kan niemand my herinneringe wegneem

Treurwilger ·

Pragtige artikel!
En weer ‘n waardevolle stukkie geskiedenis deur “annie” hierbo.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.