’n Huis vir ’n hond, of twee

(Foto: Agnali/Pixabay)

Deur Melanie Pienaar

In die winter van 2021 word Felix, ons geliefde Skottie, onverklaarbaar siek. Twee besoeke na-ure aan veeartse en een astronomiese rekening later is hy gesond, maar na die groot skrik weet ons: Ons wil graag nog ʼn hondjie hê.

Ons oorweeg om ʼn babahondjie by ʼn teler te koop, maar die realiteit van die magdom honde wat by skuilings vir goeie huise wag, weeg swaar op ons harte en ons besluit om eerder aan te neem.

Eers spring ons weg met intensiewe navorsing oor honde-aanneming. Die nuwe hond moet immers goed by ons gesin inskakel en goed met Felix oor die weg kom. Ons begin ook om verskillende skuilings se webwerwe en sosialemediaplatforms dop te hou. Daar verskyn gereeld plasings van oulike honde, maar ons aansoeke is elke keer net-net te laat.

Terwyl ons ywerig na die perfekte hond soek, kry ek uit die bloute ʼn abses op my stuitjie wat sjirurgies verwyder moet word. Dit is letterlik ʼn lae hou. Ons begin wonder of dit ʼn teken is dat ons moet wag voordat ons ʼn hond kry.

Gelukkig is die operasie suksesvol en terwyl ek tuis herstel, plaas Scottish Terrier Rescue SA ʼn foto op hulle Facebook-blad van Roxy en Turbo, ʼn gebonde reun en tefie wat pas by die For Animals-skuiling in Orkney in Noordwes ontvang is. Aansoeke vir aanneming is oop en die enigste vereiste is dat die honde saam aangeneem moet word.

Die idee van twee nuwe honde in plaas van een maak ons benoud, maar Roxy en Turbo kyk deur die selfoonskerm tot diep in ons harte en ons besluit om die kans te waag. Ek tik met bewende vingers vir die skuiling ʼn boodskap en wag met ʼn rots in my keel vir die antwoord: Die honde is nog beskikbaar.

Nou moet ons net ʼn plan maak om die honde van Orkney af tot in Pretoria te kry. Dis immers ver en ek mag nie sit nie. Ons bespreek die situasie met die skuiling en besluit die bes moontlike plan is om eers die tuisinspeksie te doen en dinge dan van daar af verder te neem.

Aanvanklik verstaan die DBV in Pretoria nie hoekom ons die inspeksie voor die ontmoet en groet wil laat doen nie. Ek is later moedeloos van frustrasie. Gelukkig spring die vroue van Scottish Terrier Rescue SA op Facebook in en help om ʼn inspeksie te reël. Die inspeksie is suksesvol, ons doen solank die oorbetaling aan die skuiling en die skuiling reël die honde se sterilisasie.

Hoewel die skuiling oor naweke en op vakansiedae gesluit is, sê hulle ons is welkom om Felix die oggend van 24 September vir die ontmoeting te bring. Indien alles goed gaan, kan Roxy en Turbo dan sommer dadelik saamgaan huis toe. Ons weier om die moontlikheid dat dinge nié goed sal gaan nie te oorweeg. Ons weet ons vat ʼn hengse kans, maar tog voel alles rondom hierdie aanneming asof dit so bedoel is.

Vroeg Vrydagoggend, terwyl dit nog donker buite is, laai my man en kind vir Felix in die kar en vertrek. Gereelde stoppe sodat Felix bene kan rek en water drink maak dit ʼn baie lang rit. Ek dwaal soos ʼn bekommerde spook met my wondmasjien-handsak deur die huis en bid dat alles goed sal afloop. Na ʼn ewigheid klingel my foon: Sukses. Ry nou terug. Lu.

Die gevoel van verligting maak my skoon lighoofdig. Nog boodskappe volg, met foto’s by elke stop en selfs ʼn video-oproep met die nuwe honde. Ek kan nie wag om hulle in lewende lywe te sien nie.

Laat die middag dreun die motor in die oprit. Ek vibreer van opgewondenheid terwyl my man en kind twee maer, skaam bondeltjie-honde een vir een uit die motor tel en in my arms sit. Ons nuwe viervoetkinders is tuis.

Dit is gou duidelik dat Roxy en Turbo deur ʼn harde tyd is, tog is hulle liefdevolle, blymoedige honde. Hulle word vinnig deel van die gesin, en Felix beskou dit as sy vaderlike plig om hulle te beskerm.

Die moeite wat die diereskuiling se personeel en die vroue van Scottish Terrier Rescue SA gedoen het om ons tydens die aanneming by te staan het ons stom geslaan, veral aangesien hulle onder toenemende druk werk.

Minder geld, meer diere

Turbo en Roxy (Foto: Verskaf)

“Ek het nie spesifieke statistieke nie,” sê Judy van der Westhuizen van Khetani Animal Rescue in Newcastle in KwaZulu-Natal, wat gereeld in kontak met skuilings in ander stede en provinsies is, “maar daar is veral gedurende die laaste twee jaar ʼn toename in diere wat ontvang is, terwyl aannemings afgeneem het.”

Die stygende werkloosheidsyfer en gepaardgaande verlies aan inkomste dwing talle mense om na kleiner plekke te trek of by familie te gaan woon. In die proses moet hulle ook afstand doen van hul geliefde troeteldiere.

Groot bewustheid onder die publiek en steun vir die aanneming van troeteldiere help, maar baie mense het eenvoudig nie die finansies om ʼn troeteldier aan te neem en te versorg nie.

Diane Jacobs van die For Animals-skuiling in Orkney sê: “Aannemings het aan die begin van die pandemie toegeneem omdat mense verveeld was by die huis. Ons het egter gou agtergekom dat dit nie goed is vir die diere nie, want die mense kon nie noodwendig bekostig om vir hulle te sorg nie. Ons moes die aansoekvorms wysig om bewys van inkomste ook in te sluit.”

Korporatiewe borgskappe en donasies het boonop ook die afgelope twee jaar afgeneem.

Wat kos dit om ʼn troeteldier aan te neem?

Die aannemingskostes van troeteldiere wissel van skuiling tot skuiling. As jy belangstel om ʼn hond of kat aan te neem, sal die skuiling die kostes vir jou deurgee en ook verduidelik wat alles ingesluit word. By sommige skuilings is slegs sterilisasie ingesluit, en by ander dek dit ook dienste soos ontwurming, inentings, toetse vir algemene siektes en selfs ʼn mikroskyfie.

Hoe werk die aannemingsproses?

Melanie se drie Skotties bymekaar. (Foto: Verskaf)

Eers besoek jy, jou gesin en bestaande troeteldiere die skuiling en kyk na die diere. “Diere praat met mense,” sê Cilla Trexler, eienaar van Wollies-diereskuiling in Pretoria-Noord. “En ons glo een van die 1 000 diere in die skuiling gaan definitief met hulle praat. Sodra jy op ʼn dier hier besluit het, voltooi jy ʼn aansoekvorm.”

Hierna volg ʼn tuisinspeksie. ʼn Inspekteur van die DBV of die skuiling besoek die perseel waar jou nuwe troeteldier gaan bly en maak seker dit voldoen aan die volgende vereistes:

  • Dit moet veilig wees met hoë mure sodat die troeteldier nie kan ontsnap nie.
  • As die troeteldier bedags buite bly, moet daar voldoende beskutting wees teen reën en ongure weer.
  • Daar moet ten alle tye genoeg vars water beskikbaar wees.
  • As daar ander diere op die perseel is, sal die inspekteur kyk of hulle gesond en gelukkig lyk.
  • Die inspekteur mag ook vra om te sien waar jou nuwe troeteldier gaan slaap.

As die inspeksie slaag, kan jy die troeteldiere by die skuiling gaan haal en die aannemingsfooi betaal.

Wat kan jy verwag as jy ʼn troeteldier aanneem?

Die meeste skuilings doen baie moeite om die regte troeteldier by die regte eienaar te plaas, maar as ʼn voornemende aanneemouer van ʼn troeteldier het jy ook ʼn verantwoordelikheid om navorsing te doen en eerlik oor jou behoeftes en omstandighede te wees voordat jy ʼn troeteldier aanneem. Soos Sheila Meldau van Woodrock Animal Rescue sê: “Om ʼn troeteldier aan te neem is ʼn lewenslange verbintenis.”

Dit is belan

grik om in gedagte te hou dat die diere by skuilings dikwels vir jare in hokke gebly het en glad nie aan huise gewoond is nie. ʼn Aanpassingstydperk is heeltemal normaal. Jou nuwe hond of kat kan:

  • Skaam wees en selfs wegkruip.
  • Uit die bloute begin blaf/miaau.
  • Sy/haar gebied merk.
  • Skeidingsangs ervaar.
  • Jaloers of besitlik wees.
  • Angstig raak rondom vreemde mense.
  • Probleme hê met kos, soos jaloesie of ʼn geneigdheid om te ooreet.

Dit klink dalk oorweldigend, maar hierdie probleme sal vinnig met tyd en liefde opklaar. “Ek is seker die diere weet hulle het ʼn tweede kans gekry en gewoonlik kom die beste in hulle uit. Mense het hulle gefaal, nie hulle die mense nie,” sê Trexler.

Ander maniere om te help

Melanie Pienaar (Foto: Verskaf)

Al kan jy nie ʼn troeteldier aanneem nie, is daar nog steeds baie maniere om jou plaaslike skuiling te ondersteun:

  • Deel sosialemediaplasings van die skuilings in jou omgewing. Dit skep bewustheid by die publiek en moedig mense aan om aanneming te oorweeg.
  • Bied jou dienste as vrywilliger aan. Dit is emosioneel goed vir jou en die diere.
  • Skenk kos en skoonmaakmiddels. Skuilings benodig nat en droë kos vir die diere en skoonmaakmiddels vir die hokke, bakke en komberse.
  • Doen ʼn oorbetaling in die skuiling se veeartsrekening vir die diere se mediese uitgawes.
  • Maak ʼn donasie. Skuilings het baie lopende uitgawes. Benewens die versorging en vervoer van die diere is daar ook permanente personeel wat salarisse moet kry, diere wat vervoer moet word, munisipale rekeninge, ens.
  • Moet nooit jou rug op ʼn dier in nood draai nie. Bel die DBV of een van jou plaaslike skuilings. Sommige skuilings het selfs “mosesmandjies” waar diere anoniem afgegee kan word.
  • Oorweeg pleegsorg. Baie skuilings se spasie is beperk en hulle benodig vrywilligers om honde en katte in pleegsorg te neem totdat daar goeie huise vir hulle gekry kan word.

Dit klink en voel dalk oorweldigend om ʼn hond of kat aan te neem, of selfs om by ʼn skuiling betrokke te raak, maar die onvoorwaardelike liefde en lojaliteit wat jy as beloning ontvang, is absoluut onmeetbaar. Ons leer steeds gereeld hartslesse; ons honde en ons lewens sou baie armer gewees het daarsonder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.