’n ID-dokument bring menswaardigheid

Nelleke Meintjies (regs) saam met Yongama Dipa (links) en Neliswa Mangqangwana aan die vorms voltooi. (Foto: Verskaf)

Wanneer Nelleke Meintjes van Durbanville van haar prioriteite na aftrede vertel, bring dit dadelik meer vrae as vinnige antwoorde. Sy vertel aan Sarie Marais-Nell waarom sy haar daagliks daarvoor beywer dat die armstes van die armes hul eie geboortesertifikaat of ID-dokument kan bekom. 

Wanneer só ʼn persoon dan die dokument styf teen sy liggaam druk en sê hy of sy voel vir die heel eerste keer waardig – ménswaardig – dan wéét Nelleke (63): Hierdie hele proses wat dikwels vasbyt verg, is 100% die moeite werd.

Nelleke, wat haar eers as onderwyser bekwaam en daarna by Sanlam as programmeerder gewerk het, het altyd gewens sy kon iets betekenisvol vir mense doen. Sedert sy en haar gesin in 1995 in hul Durbanville-huis ingetrek het, het mense soos Elizabeth en die hawelose paartjie, Beauty en Samuel, periodiek by haar vir iets te ete aangeklop.

“In plaas van om net kos gee, het ek tyd gemaak en na hul lewensverhale uitgevra. Elizabeth het van die platteland gekom, sy was haweloos en het my gevra om te help om seker te maak of sy nog op die behuisingswaglys is en of sy amptelik van haar man geskei is. Hierdie soort navrae het ʼn ID benodig. Nadat ons die aansoek voltooi en sy haar ID-boek gekry het, het sy ook ander dokumentlose mense na my toe gebring.

“In 2010 het Beauty kom vertel dat Samuel in ʼn ongeluk was. Ek en sy het hom in die hospitaal besoek en gevind hy sal lank gehospitaliseer wees nadat een voet geamputeer moes word. Hy het sy ID-boekie tydens die ongeluk verloor. Ek het hom en sy rolstoel verskeie kere in my kar gelaai, sy ID-nommer by ʼn vorige werkgewer opgespoor, ʼn heraansoek ingedien en ons kon later sy nuwe ID-dokument by Binnelandse Sake afhaal. Hiermee toegerus kon hy vir ʼn tydelike ongeskiktheidstoelaag en uitbetaling van die Padongelukfonds (POF) aansoek doen.

“Samuel het hierdie ongeluk as ʼn tweede kans aangegryp en hom tydens hospitalisasie van sy drankverslawing gerehabiliteer. Beauty het intussen verdwyn; ons het later vasgestel sy is oorlede.”

Samuel het tydelik as groentesmous gewerk tot hy in 2015 sy POF-geld gebruik het om ʼn huis in Wallacedene (Kaapstad) te koop, asook ʼn taxi wat sy neef bestuur het. Samuel het later kerkdienste in sy huis gehou en aan verskeie familielede huisvesting gebied.

“Die manier waarop persoonlike dokumente dit vir mense moontlik maak om toegang tot ʼn huis, werk en opleiding te kry, het in my kop bly draai. Toe ek in 2014 aftree, moes ek my man deur ʼn ernstige siekte help; daarna het ek by ʼn naburige laerskool by ʼn projek ingeskakel om kinders aan die lees te kry.

“Daar hoor ek toe van plaaswerkerkinders se probleme omdat hulle nie geboortesertifikate besit nie. Ek het dadelik geweet: Hier kan ek betrokke raak.”

Na baie jare sonder ‘n ID-kaart, is Koos Bester nou die trotse eienaar van sy eie dokumente. (Foto: Verskaf)

Nelleke het in hierdie proses mense soos Maria Roux (skuilnaam) leer ken: “Maria was die 38-jarige ma van sewe kinders en reeds ʼn ouma; almal sonder ʼn geboorte- of ID-dokument. Om hierdie kringloop te beëindig, moes ons eerstens Maria se geboortedatum vasstel. Die Somerset-hospitaal waar sy gebore is se rekords van haar geboortetydperk is tydens ʼn brand vernietig. Kliniekkaarte waarop ons andersins sou kon staatmaak, is weens ʼn ander brand verlore.”

Uiteindelik moes Nelleke en Maria alle moontlike inligting by Maria se familie van haar ma se kant opspoor, dit laat beëdig en dis hier waar Nelleke die paneel leer ken het: ʼn Wes-Kaapse komitee van gesagdraende Binnelandse Sake-beamptes van verskillende dissiplines wat periodiek in verskillende dorpe vergader en aansoeke vir laat-geboorteregistrasies aanhoor.

“Dis lang, ingewikkelde prosedures en onder meer daarop gemik om ID-bedrog te voorkom.

“Ek wens ek kan vir álle jong moeders verduidelik hoeveel makliker hulle die lewe vir hulself en hul kinders maak as hulle die kind se geboorte binne die eerste jaar registreer. Na ʼn eerste verjaardag raak dit ʼn laat-geboorteregistrasie waarvan die hele aansoek in ʼn stadium stilstaan tot dié paneel dit kan evalueer. Weens Covid-19 vergader die paneel veel minder. Dis ʼn senutergende proses vir almal en beslis voorkombaar.”

Intussen het Nelleke geleer dat alternatiewe rekords soos hospitaal-, doop- of graad 1-toelatingsrekords waardevolle hulpmiddels is wanneer die familie ongeletterd is, of as brande of traumatiese verhuising alle vorms van registrasie vernietig het.

“Eenkeer het ʼn kosbare, skaars bron ons gered toe ons tydens navrae in die Koo-vallei buite Montagu op ʼn boekie afgekom het waarin ʼn boervrou ʼn handgeskrewe weergawe opgestel het van die gesinne en kinders wat op hul plaas gewoon het ter wille van die 1960-sensusopname. Volgens daardie naamlyste en elke kind se geboortejaar daarby, kon ons ʼn dokumentlose persoon se ouderdom gesagdraend uitwerk.

“Terwyl ek mense help met hierdie prosesse, besef ek gereeld my beperkinge: Ek is nie opgelei om sielkundige of maatskaplike probleme op te los nie; ek kan nie vir hulle ʼn werk of inkomste verseker nie. Tog kan ek hulle help om daardie eerste belangrike tree te gee – identifiserende dokumente wat toegang verseker tot opvoedkundige, behuisings- en werksgeleenthede.”

“Ek is nooit veroordelend nie en raak nie betrokke by die redes waarom mense in hul moeilike posisie beland het nie. Ek sien wel dat slegte dinge met mense kan gebeur wat dit geensins verdien nie.

“Toe Covid-19 ons in 2020 tref, het die Durbanville-gemeenskap die Community Action Network (CAN) gestig. Op CAN se WhatsApp-groep word behoeftes en bronne dikwels met mekaar verbind. Deur hierdie groep het ek gehoor dat baie kinders in Fisantekraal – ʼn gemarginaliseerde woongebied 10 kilometer buite Durbanville – dringend hulp met geboortesertifikate benodig.”

Sedert Nelleke een namiddag in Oktober 2020 in ʼn Fisantekraal-agterplaas haar boek op ʼn omgekeerde houttol oopgevou en vier, vyf kinders begin help het met die lang proses vir geboortesertifikate, het die stroom kandidate wat hulp vra nog nooit opgehou nie.

“Mense moet broodgeld gebruik vir taxis na Bellville se Binnelandse Sake – R60 per persoon vir ʼn retoerrit. As ʼn ma haar kind moet saamneem, kos dit R120. Dikwels is die rye te lank en word Fisantekraal-aansoekers nie op die eerste dag gehelp nie. Om ʼn tweede keer te gaan, verg nogeens kosgeld. Om dán te hoor jy moet ander dokumente ook verskaf, jy moet weer terugkom – kan ʼn mens iemand verkwalik wat dán moed verloor?”

Mettertyd het Nelleke ʼn ooreenkoms opgebou met taxibestuurders wat op afgespreekte oggende ʼn bussie met volledig toegeruste kandidate Binnelandse Sake toe neem. “Dan ry ek 05:15 van my huis af Fisantekraal toe; sien toe dat almal die bussie haal sodat hulle vanaf 06:15 voor Binnelandse Sake wag – lekker vroeg sodat hulle onder die eerste besoekers tel en hopelik vinnig gehelp word. Ongelukkig gebeur dit steeds dat mense dán hoor hulle kort ook nog ander dokumente, al het ons hard probeer om die voorgeskrewe riglyne te volg.”

Nelleke se NG-gemeente help die taxi-onkostes betaal, en die beamptes van Binnelandse Sake ken reeds vir Nelleke as helper.

“Hierdie personeel het hul hande vol. Hulle maak ʼn punt daarvan om billik te wees teenoor almal wat wag. Hulle bevoordeel my nie, ek moet ook my beurt afwag, maar ons het ʼn goeie samewerkingsverhouding.

“Wanneer ʼn Fisantekraal-kandidaat en ʼn beampte besig is met dokumente, hou ek my op die agtergrond, maar tog bereikbaar, ingeval haakplekke opduik waarmee ek kan help.”

Tydens wagtyd buite in lang rye beleef Nelleke Bellville soos min van haar tydgenote: Hoewel Voortrekkerweg se verkeer rondom hulle toet en raas, heers ʼn gemoedelike atmosfeer tussen die wat in die ry wag, naburige winkeliers wat ID-foto’s neem, verkopers met gesigmaskers, peuselkos en swart penne.

As afgetredene verkies Nelleke Meintjes om haar gemaksone te verlaat en soveel as moontlik mense te help om belangrike dokumente te kry. (Foto: Verskaf)

Wanneer hulle tot binne die kantore vorder, beduie mense vir mekaar waar om te sit en hoe om aan te skuif. Mammas vroetel met babas aan die bors terwyl kleuters raserig rondhardloop. En soms kom ʼn jubelende pasgetroude paartjie uit ʼn syvertrek gestap – en deel almal spontaan in dié vreugde.

Net nog ʼn dag in die lewe van ʼn afgetrede vrou wie se behulpsaamheid soos ʼn goue draad deur haar lewe vleg.

Hoe kom nuwe mense telkens by jou uit? “Ek reageer op Please call me-oproepe! En in Fisantekraal ken die mense reeds my wit Honda.”

Is jy soms spyt jy’t met hierdie projek begin? “Daar kom tye dat ek besef ek het nou meer op my bord as waarvoor ek beplan het, maar ek was nog nooit spyt nie. Ek wens eerder ek het ʼn tweeling – nog iemand wat soggens vroeg kan ry, meer mense help, opvoedingswerk kan doen sodat elke nuwe baba dadelik geregistreer word.”

Wat is hierdie ouma van drie se ander lekker tydverdrywe? “Ek ís bietjie van ʼn werkoholis; ek geniet hierdie selfopgelegde taak. Gelukkig is my man ʼn bobaasbraaier en ons kuier graag saam met ons kinders, kleinkinders en vriende.

“Tog, elke keer as die legkaartstukke uiteindelik suksesvol inmekaar pas en nog iemand druk sy dokument uit verligting teen sy bors, raak ek opnuut dankbaar vir dié stukkie menswaardigheid wat ek in nog ʼn persoon se lewe kon inbring. Dan sien ek kans om die volgende uitdaging aan te pak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Madeleine

Wel gedaan!