ʼn Kat met nege lewens én drie neuse

Misty die kat met drie neuse (Foto: Verskaf)

ʼn Rondloperkatjie wat net ʼn paar maande gelede besluit het om ʼn kleinhoewe buite Vredenburg aan die Weskus sy nuwe tuiste te maak, het nou die hele gemeenskap behoorlik aan die gons.

En dit is geen wonder nie – Misty is geen gewone gemmerkat nie. Dié kietsie spog met drie neuse op sy gesig.

Misty het Desember verlede jaar by Dianne en André Fischer se huis op ’n kleinhoewe buitekant Vredenburg opgedaag. Omstreeks 21:00 het dié klein gemmerkatjie van ongeveer twee maande oud in ’n verwaarloosde toestand vanaf die Fischer-egpaar se stoep geroep. Hulle het hom dadelik ingeneem en hy is Misty gedoop.

Op 18 Desember verlede jaar het die Fischers vir Misty na dr. Anel van der Merwe by die Vredenburg Dierehospitaal geneem om die merke op sy gesig te behandel. Volgens Van der Merwe was ’n groot deel van sy neus en omliggende vel geïnfekteer.

“Ek het aanvanklik gedink dit is ’n ringwurm-infeksie en hom daarvoor behandel. Jong katjies is geneig om sulke infeksies te kry. In Misty se geval was die infeksie baie erg. Daar was ook ’n moontlikheid van ʼn onderliggende snuffels-infeksie. Ek het hom daarvoor ook behandel. Hy het mooi herstel,” vertel Van der Merwe.

Soos Misty se neus gesond geword het, het die Fischers begin opmerk dat sy neus in “twee gedeel is”. Van der Merwe het vertel dat hulle aanvanklik gedink het dat dit moontlik ’n snywond is en dat hy daarvan sal herstel.

Op 1 Maart vanjaar het die Fischers weer vir Misty na dr. Van der Merwe geneem om ’n inenting te kry. Nadat die infeksie en rowe ten volle herstel het, kon Van der Merwe vir die eerste keer Misty se abnormaliteit raaksien. “Ek kon toe duidelik opmerk dat Misty drie apart gevormde neusies het. Twee van die neuse is duidelik sigbaar. Die derde neus is nog nie heeltemal gevorm nie,” verduidelik Van der Merwe.

Volgens Van der Merwe is dié ongewone verskynsel ’n geboortedefek, maar kan Misty ʼn heel normale lewe lei ten spyte daarvan.

Volgens Dianne is Misty vandag dolgelukkig, perdfris en gesond. Sy vertel dat alhoewel hy bietjie sukkel om te ruik, pla die defek hom verder glad nie. “Hy is gelukkig en neem omtrent die hele huishouding op horings!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Sandra Roelvert ·

Dankie dat julle vir Kieterkat ‘n huis gegee het en die mooiste naam ” Misty” Ek glo dat Misty julle nog baie sal vermaak.

Sonskyn ·

Ag, jinne, dis die mooiste ou dingetjie! En die feit dat hy/sy 3 neusies het is ‘n bonus in my oe – ek is mal oor hulle neusies en die ou dingetjie het DRIE!!!! Ek het self ‘n klein katjie aangeneem wat ons op die Fisantekraal pad opgetel het. Taxi is wydsbeen bo-oor haar, maar gelukkig was sy oukei (behalwe vir ‘n paar skraap plekkies)!

Oujongvrou ·

Dankie dankie dat julle die ou dingetjie ingeneem het. Katte is die weeskinders van die diere. Julle gaan erg geseën word.

RHG ·

Kyk mooi. Sy neus was oopgekloof. Die deel bo is die neusskeiding wat ontbloot is en die “nuwe neusie” moet daaraan en aan groter deel geheg word. Dit was ‘n besering.

hercu ·

of hy nou een neus het of drie, maak nie saak nie, feit is dat hy ‘n huis het en versorg word

misty, jy is ‘n gelukkige kietter kat ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.