’n Klein gebaar maak ’n groot verskil

bejaardes-gesondheid-sorg-aanraak

Foto: Matthias Zomer/Pexels.com

Solidariteit Helpende Hand se maatskaplike werkers het die afgelope week ’n opname by tehuise vir bejaardes gedoen, om vas te stel watter hulp hulle benodig in hierdie krisistyd. Met die opname het Solidariteit Helpende Hand besef dat slegs ’n klein gebaar ’n groot verskil by bejaardes kan maak.

Dit was opvallend dat die grootste behoefte van bejaardes ’n behoefte aan kontak is. Tehuise het alreeds voor die afsonderingsdatum begin om bejaardes se besoeke op te skort, om sodoende die verspreiding van die Covid-19 virus te beperk. Slegs die personeel en nooddienste mag die tehuise binnegaan, maar met streng maatreëls. Hierdie maatreëls is noodsaaklik en gaan nog vir ’n wyle noodsaaklik bly om die bejaardes virusvry te hou. Maar die isolering bring mee dat bejaardes al vir ’n wyle van hul families geskei is en dit veroorsaak dat hulle baie meer as gewoonlik na hul kinders en kleinkinders verlang.

Die bejaardes ervaar verskeie emosies in hierdie tyd, onder meer, angs, onsekerheid en eensaamheid. Solidariteit Helpende Hand wil kinders en kleinkinders aanmoedig om in hierdie onseker tyd moeite te doen om daar te wees vir hul bejaardes. Deur ’n klein gebaar, soos ’n WhatsApp-video-oproep of ander kommunikasiekanale kan kontak met ouers en grootouers behou word.

Jy kan selfs jou ouer of grootouer aanmoedig om vir jou enige staaltjie te vertel en dit met ons op ons Facebook-blad Helpende Hand (deel van die Solidariteit Beweging) te deel. Deur jou staaltjie vir ons te vertel, staan jy ’n kans om ’n heerlike boekprys van Maroela Media te wen.

Die opname het verder getoon dat die meeste tehuise die volgende basiese dinge benodig. Ons doen ’n beroep op ons gemeenskappe om deur ’n klein gebaar te help dat ons die nodige aan ons tehuise kan voorsien. Enige bydraes kan afgelewer word by ons Josef Silo’s, waarna ons dit na die spesifieke tehuise sal versprei.

Die lys van basiese benodigdhede is soos volg:

Mediese behoeftes:

  • Ensure-voedingsaanvulling
  • Alcophyllex-hoesstroop
  • Allergex
  • Acc200
  • Paracetamol
  • Vitamiene
  • Koorspenne (niekontak- infrarooi termometer)
  • Volwasse doeke

Reinigingsmiddels:

  • Latex-handskoene
  • Maskers
  • Dettol
  • Jik

Sosiale behoeftes:

  • Bordspeletjies
  • Legkaarte
  • Blokkiesraaisels
  • Tydskrifte
  • Breipenne en wol

Maak die tyd van isolasie ’n tyd waarin ons uitreik na ander en die krag in mekaar ontdek, sodat ons met nuwe oë en harte die toekoms kan ingaan.

Hoe werk die kompetisie:

1) Gaan hou van die blad, Helpende Hand – Deel van die Solidariteit Beweging.
2) Plaas ’n video, geskrewe storie of enige kreatiewe wyse waarop jy ’n storie kan deel op jou Facebook-profiel en ‘tag’ Helpende Hand – Deel van die Solidariteit Beweging. Gebruik die hutsmerk #DeelJouStorie
3) Stuur ook jou inskrywing na [email protected]
4) Video’s nie langer as 2 minute nie. Geskrewe stories nie langer as 2 bladsye.
5) Wenners word 5 Mei aangekondig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johan ·

Klein gebare maak reuse verskille. Ons sou graag ook daar ver wou help, maar die plaaslike nood in die ouetehuis waar ons woon, laat dit nie toe nie. Gelukkig word ons mense baie goed versorg, maar dis die ou ekstratjies wat voorsien word – veral vir die wat maar net hier afgelaai is en moet sien en kom klaar. Wat ‘n wonderlike voorreg om daar te wees om ‘n verskil te maak. Ons dank die Here vir Helpende Hand. Julle doen wat Jesus sou gedoen het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.