’n Klein kudde, maar ’n groot droom: Nick Serfontein deel sy suksesverhaal

Nick Serfontein, Boer van Jaar 2019 tydens ‘n media toer na sy plaas in Kroonstad. (Foto: Verskaf.)

Uitnemendheid begin by ’n droom wat met hartstog en deursettingsvermoë nagejaag word. Nick Serfontein is ’n sprekende voorbeeld daarvan.

Hy is verlede jaar deur Landbouskrywers Suid-Afrika aangewys as Boer van die Jaar 2019, ’n gesogte titel in die landboubedryf. Sowat 70 uitgesoekte gaste, onder andere, media en vorige wenners van die toekenning, het sy plaas in Kroonstad tydens ’n spesiale toer, verlede week besoek.

Nick se suksesverhaal het in 1982 begin toe hy met ’n groot droom en sowat 30 Bonsmara-beeste op ’n klein stukkie grond begin boer het.

“Al wat ek wou doen, is om met rooibeeste te boer.” Nick is tans die voorsitter van die Sernick-groep, ’n besigheid met ’n omset van meer as ’n miljard rand per jaar, en wat aan sowat 660 mense werk verskaf in ’n gebied in die Vrystaat, waar meer as 70% van die inwoners werkloos is.

Nick het oor die jare probeer om al sy behoeftes as boer met ’n nuwe besigheid te vul. Mettertyd het sy boerdery só gediversifiseer dat dit vandag uit verskeie ondernemings bestaan wat elk afsonderlik en suksesvol bedryf word. Hy het stelselmatig die waardeketting betree totdat hy vandag sy gunsteling-rooibeeste deur die hele waardeketting kan bring – vanaf sy plaas tot by die verbruiker se vurk. Die Sernick-groep is een van die grootste boerderye in die land en Nick is ’n megaboer in sy eie reg.

Die Sernick-groep bestaan tans uit ’n voerkraal, Bonsmarastoetery, navorsingsentrum, voerfabriek, ontbeningsfasiliteit, abattoir, slaghuise en ’n opleidingsentrum. Laasgenoemde is een van Nick se vele pogings om ’n verskil in sy gemeenskap te maak.  Dié droom het in 2015 vlerke gekry toe Nick besef het hy wil met erns ’n daadwerklike verskil in sy onmiddellike omgewing maak. Waar anders as in die landboubedryf? Hy het boeredae en opleidingsessies vir opkomende boere begin aanbied.

“Gedurende hierdie tyd het die desperaatheid en durf van die boere my onmiddellik bygeval en ek het besef die behoefte is groter as wat ek gedink het. Dié boere het net ’n geleentheid gesoek om ook ’n lewe te maak. Dit wat ek beleef het, het my aangespoor om ’n ope brief aan president Cyril Ramaphosa te skryf.”

Dié brief sou later groot opslae maak en het soos ’n veldbrand versprei waarna president Ramaphosa Nick persoonlik uitgenooi het om deel te word van sy adviespaneel vir grondhervorming, waarop Nick toe gedien het. Hy is ook bewus van die uitdagings in die land.

“Ek weet ons land se infrastruktuur laat veel te wense oor. Die pad na Bothaville vanuit die Vrystaat is onrybaar. En dit nogal na die grootste graankapitaal in ons land!”

Dít is hoekom hy aktief oplossings soek. In 2018 het hy en die Werksfonds hande gevat en ’n opleidingsentrum gestig.

“Ons wil graag opkomende boere help om ’n volhoubare boerdery te bestuur, en ook ’n positiewe bydrae tot hul gemeenskappe maak. Dit is so lekker om die trots en vreugde waarmee die deelnemers hul sertifikate tydens die opleidingsentrum se jaarlikse prysuitdeling seremonie, ontvang, te beleef. Dit gee my hoop.”

Nick se droom was on met rooibeeste te boer. Vandag boer hy met duisende rooi Bonsmara’s. (Foto: Verskaf.)

Nick glo vas dat as kommersiële boere en die sakesektor hande vat, hulle ’n werkbare oplossing vir grondhervorming kan kry.

“Die oplossing gaan nie van die regering se kant af kom nie. Hulle sal heel moontlik die voorgestelde veranderinge in die wetgewing aanvaar en verander, maar ek glo die regering sal ons nie te na kom nie. Hulle wil nie dieselfde pad van Zimbabwe stap nie.”

Hy meen daar is genoeg staatsgrond en ongebruikte grond wat eers benut kan word.

“Dit help nie ons is almal kwaad vir mekaar nie, ons kan eerder vorendag kom met ’n werkbare oplossing wat in almal se voordeel is. Dit is tyd om vas te byt en ’n keuse te maak om deel te word van die oplossing. Rol jou moue op en raak betrokke. ‘Move people, jirre julle moet move’ – is die woorde van Antjie Krog in een van haar gedigte. “Kom julle, dit is tyd om te move!”

Liza Bohlmann, voorsitter van Landbouskrywers Suid-Afrika het tydens die toer oor Nick se toekenning en prestasies gesels.

“Nick is nie net ’n uitstekende sakeman nie, maar ’n man met ’n vrygewige hart, wat lief is vir sy mense en omgee vir sy werknemers. In ’n tyd van onsekerheid, waar ander dalk huiwerig is om in ons land te belê, is Nick se strategie anders. Dit is juis in sulke tye wat hy inspring en steeds in sy gemeenskap en besigheid belê. Dit is wat ’n goeie leier doen. Wanneer ander moed opgee, soek hy steeds ’n oplossing. Nick, jy poog daagliks om ’n verskil te maak in die gemeenskap, landboubedryf en land. Ons waardeer dit opreg.”

Bohlmann het ook die borge vir die toer bedank. “Sonder Sanlam, Rovic Leers en Bayer Suid-Afrika, sou die toer en kompetisie nie moontlik wees nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Chantel ·

Ons in Kroonstad, sien hierdie man se toegewydheid teenoor die gemeenskap en dis wonderlik. Hy bied werklik ‘n verskil veral in jongmense wat wil boer. Dankie Nick vir hierdie bydra in ons dorp

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.