’n Laaste Afrikaanse kerk in die middestad

Die Paul Kruger-kerk se aangesig vanuit die ooste. (Foto: Verskaf)

Deur ds. Gustav Opperman

In die volksmond staan sy as die Paul Kruger-kerk bekend. Ons praat van “sy”, want sy is die moeder van al die Gereformeerde Kerke in Pretoria. Jy moet mooi kyk om haar raak te sien, want daar waar sy op die hoek van WF Nkomo- en Kgosi Mampurustraat (voorheen Kerk- en Potgieterstraat) staan, is sy gedeeltelik deur bome en halfvoltooide toringblokke verberg. Jy sal haar ook nie sommer hoor nie; die Sondagoggendklokgeluide en psalmgesang tussen haar mure kompeteer met ʼn eindelose getoet van kliëntsoekende taxi’s.

Sy is die laaste Afrikaanse kerk in die middestad van Pretoria.

Oorkant die straat staan nóg ʼn nasionale gedenkwaardigheid: die huis van president Paul Kruger, die Gereformeerde Kerk Pretoria se bekendste lidmaat en die laaste president van die ou Zuid-Afrikaanse Republiek. ʼn Paar blokke verder, in ʼn oostelike rigting, staan sy standbeeld op Kerkplein – wat só genoem is omdat die destydse Hervormde Kerkgeboue wat tot 1907 daar gestaan het, die sentra van die negentiende-eeuse pioniersgemeenskap was. Op Sondae dien die grasperke op Kerkplein as sokkerveld en loop oom Paul se standbeeld van tyd tot tyd onder vernielsugtiges deur. Dit is die rede hoekom daar sprake is dat die monumentkompleks in die middel van die plein liefs na ʼn veiliger standplaas verskuif moet word.

Dit is egter nie moontlik om dieselfde met die Paul Kruger-kerkgebou te doen nie. Daar waar sy staan, sal sy bly staan, of sy sal uiteindelik ook maar eendag val, soos wat dit met die ander Afrikaanse kerke in die middestad gebeur het. Neffens die plein, in Bosmanstraat, staan daar nog ʼn juweel – die tekenbord van Van Rijssen, die destydse knap Hollandse argitek wat vir die ontwerp van die Paul Kruger-kerk verantwoordelik was. Daar word nog in die Bosmanstraatkerk gepreek, maar nie meer in Afrikaans nie, en die eens statige gebou se loodglasvensters word met plakband aanmekaar gehou. Die ewe historiese Hervormde Kerkgebou in Du Toitstraat is in 2018 aan die Suid-Afrikaanse Reserwebank verkoop.

Nagmaal word bedien by die Paul Kruger-kerk in die 1900s. (Foto: Verskaf)

Die Paul Kruger-kerkgebou is stom – soos sy nog altyd was – en tog is sy die perfekte klankbord vir al die stemme en geluide van binne en buite. In haar beginjare in die vroeë 1900’s het sy die geknars van die invallende Britse soldaatstewels en offisiersbevele weerklank, so ook die klap van die osdrywerswepe. Vandag is dit die eindelose stadsverkeer en die geroep van straatverkopers. Binne die stewige mure word die evangelie geabsorbeer, en elke stukkie grein op elke houtbank getuig van oordeel en ʼn genade onbeskryflik groot:

Kom in sy huis, o bondsvolk saam; verhef sy lof en prys sy Naam!

Dit was ook dié psalm wat tydens die inwyding aangehef is en die gemeente al singende agter oom Paul die trappies bestyg en die verstommende binneruim betree het.

Die orrel, wat uit 1893 dateer, het telkemale seënbede gespeel. Insgelyks is die troumars gereeld vir diegene wat argitektoniese prag en geskiedkundige waardigheid as agtergrond van hulle groot dag verkies, gespeel. Baie waterdruppels het die mat voor die preekstoel benat – waar verbondsouers hulle kinders aan die genade van die Here kom opdra het, ná hulle self ʼn dekade vantevore met hulle nuwe rokkie en pak “ja” gesê het vir ʼn toegewyde lewe in diens van die Verlosser. So het die statige Paul Kruger-kerk die lewens en seisoene van die kerk- en Afrikanervolk oor dekades heen versier.

Die Paul Kruger-kerk vanaf die westelike gallery. (Foto: Verskaf)

Soos almal van ons wys sy ook uiteindelik nou al haar ouderdom, en die verweer sypel oral in. Die geute werk nie altyd meer so goed nie. Die reusagtige Jakarandaboom, wat nog deur Schieke geplant is, gooi jaarliks sy blare op die dak wat verstoppings veroorsaak. Die muf slaan teen die mure uit. Die orrel het dringend aandag nodig. Die kolossale weerkaatsende glasvensters van die saalgebou moet vervang word. Die tuin en die veiligheidsheining moet in stand gehou word en soos elders word die gemeente jaarliks aan kinders en middels armer.

Arie Stavast is tans predikant in die gemeente. Hy volg in sy vader, wat ook daar die Woord verkondig het, se voetspore. Dominee Arie is moedig. Hy glo solank daar nog lidmate in die gemeente is, hulle nie sal toelaat dat dié besonderse kerkgebou tot niet sal gaan nie. Dit is waar, maar hulle gaan hulp benodig …

  • Die Laaste Afrikaanse Kerk is ʼn dokumentêre video wat deur Gustav en Ina Opperman in opdrag van Solidariteit Helpende Hand vervaardig word. Die video word op 9 Oktober by die kerkgebou bekendgestel en daar sal ook groot makietie gehou word tydens die Krugerdag-vieringe op 10 Oktober. Om hierdie dokumentêr te sien of om meer daaroor te lees, besoek gerus Helpende Hand se webwerf hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Elmarie

‘n Teken van die tye – ongelukkig. Dit gebeur oral en ai dis sleg. Mens kan net hoop. Hoop dat die lieflike ou kerk sal bly staan.

Groen Ghoen

Ai, tragies. Is daar genoeg gewillige “helpende hande” om al die gate in die dyke toe te stop? Ek sluit myself hierby in.

Cecilia

Pta middestad is nou deesdae so gevaarlik jy kan nie j lewe daar wasg sonder n skietding aan jou sy nie.
Net snaaks dat d huidige regering al ons Afrikaanse skole en Universiteite gedwing het om Engels sprekendes toe te last. Maar ons kerke los hulle uit.
Wys maar net hul is nie gelowig nie

Frank

Pragtig en statig. Die ou mense kon!!!

Toy

Dit is so hartseer om te sien hoe alles tot niet gaan