’n Lappop help skuld delg

Die lappop wat gehelp het om die rebelle se skuld te delg (links voor). (Foto: Elize Perrin)

Deur Elize Perrin

Nie net het Doris Brasch, Carike Keuzenkamp en vele ander dit besing nie, maar dit verskaf ook reeds van die Voortrekkerdae af baie plesier aan menige jong dogter. Die unieke lappop is selfs na die rebellie van 1914 as ʼn fondsinsamelaar aangewend.

Die prys

Oktober 1914 was nie die mooiste maand in die geskiedenis van Suid-Afrika nie. In dié tyd het ʼn gewapende opstand teen die destydse regering uitgebreek wat tot baie geweld gelei het. Verskeie oud-Boereleiers soos generaals CR de Wet, Koos de la Rey en Manie Maritz was betrokke. Teen Kersfees is die rebellie, teen die hoë prys van lewensverliese, onderdruk.

Duisende rebelle is beboet. Oorlogskuld weens skade het hul ook in die gesig gestaar. Die meeste rebelle was arm en kon nie betaal nie, wat weer eise in howe tot gevolg gehad het. Verlies aan huise, huisraad en eiendom het soos ʼn swaard oor hul koppe gehang.

Die gebeure het die vroue nie onaangeraak gelaat nie. Die idee vir ʼn vrouebetoging het by mevroue Brummer en Fred Beyers ontstaan. ʼn Landswye oproep aan vroue om hieraan deel te neem het ook in die pers verskyn. Afgevaardigdes van oor die hele land het opgedaag. Op 3 Augustus 1915, die vooraand van die optog, is ʼn biduur in die Verenigde Kerk in Pretoria gehou.

Cecelia van Heerden (staande) saam met ene mevrou Adendorf en nig Pietersen tydens die 1915-optog. (Foto: Elize Perrin)

Tussen vyf- en sesduisend vroue het op 4 Augustus 1915 op die hoek van Beatrix- en Vermeulenstraat vir ʼn optog na die Uniegebou byeengekom. Die vroue is volgens provinsies ingedeel met die Vrystaatvroue aan die voorpunt. ’n Petisie wat deur ongeveer sestigduisend vroue van regoor die land onderteken is, is opgestel om aan Lord Sidney Charles Buxton te oorhandig. Hy was die dienende goewerneur-generaal. Mevrou Hendriena Joubert, weduwee van kommandant-generaal Piet Joubert, was aan die spits van die optog. Die vroue het in rye van vier bymekaar ingehaak en die optog só aangepak. Mans het aan die flanke saamgestap om moontlike intimideerders weg te hou.

In genoemde petisie is op die vrylating van generaal CR de Wet aangedring, asook die versoek tot amnestie vir almal wat in 1914 aan die gewapende protes deelgeneem het en veroordeel is. Daar is ook versoek dat diegene wat na die betoging nog verhoor moes word, vryskelding sou ontvang. Die vermindering van eise en boetes het ook deel van die petisie uitgemaak.

Buxton wou nie sonder raadpleging met generaals Louis Botha, Jan Smuts en die kabinet reageer nie. Die vroue het hom ʼn dag gegun om terugvoer aan hul te gee.

Alhoewel die optog geen onmiddellike sukses behaal het nie, is geglo dat dit wel ʼn stille invloed op die destydse regering uitgeoefen het om hulle beleid van Afrikaneronderdrukking te versag.

Die volgende oggend is die geskiedkundige gebeurtenis met ʼn onthaal in die dieretuin afgesluit. By hierdie geleentheid het mevrou Joubert die vroue toegespreek en ʼn lappop ten bate van die Helpmekaarfonds, wat kort tevore in Reitz gestig is, laat opveil. Genoemde fonds is vir Afrikaners gestig waardeur hulle mekaar geldelik kon bystaan om boetes en oorlogskuld te betaal. Cecelia van Heerden, boervrou van Victoria-Wes, het die hoogste bod van ses pond en vyf sjielings aangebied. Dit was ʼn besondere hoë prys vir daardie tyd van armoede en swaarkry.

Die Helpmekaarfonds was uiters suksesvol en alle skuld is uit die fonds gedek. Die grondslag vir ʼn Helpmekaar Studiefonds is selfs gelê en kon tot stand kom. Die later bekende hartchirurg, Chris Barnard, was een van die begunstigde studente uit hierdie fonds.

Die 1915-optog se program. (Foto: Elize Perrin)

Die koper

Die Helpmekaarfonds het Cecelia van Heerden, Karoovrou van die plaas Besterskraal in Victoria-Wesdistrik, na aan die hart gelê en was gevolglik aktief by fondsinsamelings vir hierdie doel betrokke. Uit ʼn skrywe van AA Tomlinson, gedateer 1 November 1915, word Van Heerden daarvoor bedank dat die lappop wat sy gekoop het na Swellendam gestuur kon word vir besigtiging. Tomlinson versoek Van Heerden in dieselfde brief om die geleentheid in die pers bekend te maak. Dit blyk ook deel van ʼn fondsinsameling te gewees het. Die agt-en-twintig sentimeter lappop is in 1971 deur die Van Heerdenfamilie aan Victoria-Wes se streeksmuseum geskenk.

Sake van nasionale belang wat Cecelia na aan die hart gelê het, is ook vurig deur haar ondersteun. Nie net het sy die optog in 1915 bygewoon en die lappop ter ondersteuning van die Helpmekaarfonds gekoop nie, maar het sy ook die 1940-vrouedemonstrasie in Pretoria meegemaak. Genoemde optog na die Uniegebou het op 22 Junie uit protes teen die oorlog plaasgevind.

Hendrina Cecelia Van Heerden, eggenote van Gabriel Willem van Heerden, het op 19 Desember 1960 op tagtigjarige ouderdom finale rus gevind. Die sewende geslag Van Heerdens boer tans op die familieplaas, Besterskraal.

Tafels met artikels ter stuiwing van fondse vir die Helpmekaarfonds. Foto: Elize Perrin)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.