ʼn Lewe met anoreksie: Van lyer tot leier

Depressie_vrou_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

ʼn Lewe met anoreksie: Van lyer tot leier

Anoreksie kom soos ʼn dief in die nag, en dié siekte is nie kieskeurig met sy slagoffers nie.

Daarvan kan Elizbé Buys getuig. Sy het gelukkige kinderjare op Ellisras gehad – sorgloos en gesond, al was haar ouers geskei.

Maar dinge het in haar tienerjare verander. “Die lewe was nie meer so kleurryk en onskuldig soos toe ek kleiner was nie. Namate my liggaam verander het, het ek uit en anders gevoel en nêrens ingepas nie. Ek het niks van myself of my liggaam gehou nie,” vertel sy.

“Almal waarsku, maar ek kon dit nie sien nie”

Soos soveel ander meisies van haar ouderdom, het sy met ʼn lae selfbeeld oor haar liggaam en ʼn gevoel van minderwaardigheid gesukkel. Haar ma, Hester, het gesien dat haar dogter maer word en vrae begin vra oor hoekom sy so min eet. Elizbé wou nie daaroor praat nie en het verskonings gesoek om nie met etenstye tuis te wees nie.

“Ek het byvoorbeeld soggens vroeër opgestaan sodat ek kon sê ek het al geëet, al het ek nie, en ʼn werkie gekry om in die middae te doen sodat ek nie oor middagetes tuis is nie. Met aandetes het ek soms baie stadig geëet en sodra almal klaar was en met ander dinge aangegaan het, het ek my kos in die asblik gegooi,” vertel sy.

Wanneer sy oor naweke by haar pa gekuier het, het sy ook verskonings uitgedink, soos dat sy by vriende sou eet, of sy het gemaak asof sy slaap met etenstye, sodat hulle haar nie roep nie. “Natuurlik het almal gewaarsku dat ek maer word, maar ek kon dit nie sien nie. Dit het my sielkundig begin beïnvloed, ek kon nie volhou met die leuens nie en het dan snaaks opgetree.”

In die ergste stadium het sy maar 39 kg geweeg. Iets soos ʼn halwe koppie pasta of ʼn halwe worsbroodjie was die enigste kos wat sy die hele dag geëet het. “Ek het soveel moontlik etes oorgeslaan en dit wat ek wel geëet het, net halfpad geëet.”

Elizbé Buys (Foto verskaf)

“Ek was vreesbevange”

Elizbé het in omtrent vier maande van gesonde tienerdogter in anoreksielyer verander.

Op ʼn dag het haar ma haar onverwags by die werk gaan haal en sonder verduideliking na ʼn sielkundige geneem. Sy is op dié dag met anoreksie gediagnoseer en na ʼn dokter verwys. Die dokter het haar geweeg, ʼn bloedtelling geneem en haar hospitaal toe gestuur.

ʼn Week lank het sy binneaarse voeding en ekstra vitamiene gekry. “Dit was nie vir my lekker nie. Die hospitaalpersoneel het my fyn dopgehou en ek wou net vergaan. Ek was so bly toe ek huis toe kon gaan,” onthou sy.

Hester onthou dat die anoreksie soos ʼn dief in die nag gekom het. “Ek het nog nooit voorheen met iets soos anoreksie te doen gehad nie en het nie verstaan wat met Elizbé  gebeur nie, dit was onbekend. Ek het daaroor nagelees om te leer, maar wat ek gelees het, het my in daardie tyd net baie bang gemaak. Kennis het nie gehelp nie, net die Here het,” sê sy.

Terug tuis moes Elizbé elke dag dieetaanvullings en kalmeerpille drink. Sy moes ook weekliks deur die sielkundige geëvalueer word. Maar dit was ʼn baie slegte ervaring wat meer skade as goed gedoen het.

“Die kalmeerpille het my soos ʼn robot gemaak. Ek onthou die sielkundige het vir my gesê ek moet groter klere koop, want ek gaan binnekort nie meer in my klein klere pas nie. Daarna was ek nie weer terug om die sielkundige te sien nie, ek was vreesbevange,” vertel sy.

Elizbé Buys (Foto verskaf)

ʼn Leemte wat versadig moet word

Haar familie het haar bygestaan, maar sy was in ʼn worsteling met die Here gewikkel. Sy moes kies om te lewe, besef dat Hy haar gemaak het en dat haar liggaam sy tempel is. Dit was ʼn lang pad. “My ouers, maar veral my ma, het my daagliks met gedeeltes uit die Woord bemoedig. Sy het my vertel dat my naam, Eliysheba, in Hebreeus ‘afgesonder vir Christus’ beteken en dat Hy nie iemand vir Homself sou maak as Hy nie vir hom of haar ʼn plan het nie.”

Hoewel sy dikwels naar geword het, het sy stadig maar seker weer aan ʼn gesonde eetprogram gewoond geraak. Namate sy die liefde van dié om haar en van God ervaar het terwyl sy weer geleer het om kos te eet, het die leemte in haar versadig geword. Sy het weer krag gekry om haar lewenspad met hoop en volharding te loop.

“Ek dink nie mense verstaan watter stryd dit is nie. Dis asof die duiwel stelselmatig jou gedagtes steel en ʼn prentjie in jou kop vorm van wie jy is en hoe jy lyk, en dit maak nie saak hoe hard jy probeer, hoeveel keer mense dit vir jou sê, hoeveel keer jy in die spieël kyk of wat die skaal sê nie, jy kan net eenvoudig nie verby die leuen sien nie.”

Hester het haarself dikwels vir haar dogter se siekte verwyt. “Ek het soms geraas en baklei, waar ek eerder liefde en aanvaarding moes gee. Miskien was ek te besig met my eie gevoelens van wanhoop, vrees, twyfel en magteloosheid.”

Die genesingsproses was stadig, maar vandag kyk Hester met soveel dankbaarheid en trots in haar hart na Elizbé. “Haar geloof, deursettingsvermoë, passie en liefde vir ander is eindeloos en ek is geseënd om haar my dogter te mag noem!”

breek-vry_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Gesond na liggaam én gees

Vandag is daar geen einde aan Elizbé se ambisie en passie om, as sportwetenskaplike en diep gelowige mens, ʼn verskil aan die mense om haar se liggaam én siel te maak nie. “God het die pad waarop ek moet stap vir my uitgelê. Met behulp van ʼn studielening van die Virseker Trust kan ek nou daardie pad stap,” sê sy.

Haar stryd teen anoreksie het Elizbé gedryf om in 2016 deeltyds by TriFocus Fitness Academy te begin studeer. As alles glad verloop, kwalifiseer sy volgende jaar as spesialis van voeding, sportkondisionering en sportwetenskappe. “Met dié kwalifikasie kan ek veral ouer mense, jong kinders, swanger vroue en mense met spesiale behoeftes help,” verduidelik sy.

Nadat sy anoreksie oorkom het, het sy besluit dat sy mense eerder wil help om na oefening te kyk as aanmoediging om die wedloop van die lewe met volharding te hardloop, en om voedsel te sien as aanmoediging om die Brood van die Lewe daagliks te eet, soos Johannes 6:35 sê. Dit is vir haar ʼn geestelike én fisieke kwessie.

Ná skool het sy ʼn diensjaar gedoen en teologie begin swot, maar nie voltooi nie. Daarna het sy sertifikate in emosionele intelligensie, sportvoeding en vroeë kinderontwikkeling verwerf. Maar twee jaar nadat sy met Arnu getroud is, wou sy weer swot. Omdat hulle nie geld gehad het om vir studie te betaal nie, het hulle die internet vir moontlike beurse en lenings gefynkam. Met ʼn beurs van die Virseker Trust wat al haar studiekoste gedek het, kon sy die volgende tree waag om haar droom te bewaarheid.

Wanneer dié 28-jarige sportvrou nie aktief aan haar droom werk en swot nie, is sy lief daarvoor om tyd saam met haar man deur te bring. “Ons kan ure lank gesels oor ʼn beker koffie, flieks kyk, musiek luister, of met ons hondekinders, Bella en Dodi, speel. Familie is ook vir ons baie belangrik en ons ruim weekliks tyd in vir ons ouers, broers en sussie.”

student-werkende-jongmens

Foto: Pixabay.com

ʼn Toekoms vol hoop

Vandag benader Elizbé voedsel, soos alles anders, vanuit ʼn fisiek en geestelik gesonde plek. “Ons is tot meer in staat en gelukkiger wanneer ons sterk en gesond is, eerder as net maer. Ons karakter en wie ons is, is wat ewige waarde het. Dít is wat ek vir veral kinders met spesiale behoeftes of tienermeisies met ʼn ongesonde selfbeeld wil probeer leer wanneer ek my weeklikse oefenprogram by skole gaan aanbied.”

Deel van haar droom is om haar eie praktyk te bedryf waar sy mense kan help om ʼn gesonder leefstyl aan te pak. Sy wil ook saam met Arnu meer tyd aan die niewinsgewende organisasie wat hul familie bestuur, genaamd Living Hope Adventures, bestee. “Ons hart is om hoop vir die underdogs van die mensdom te bring, sowel as diere. Met ons liefde vir koffie – ons is albei gekwalifiseerde baristas! – wil ek en Arnu graag ʼn koffiehuis vir selgroepe begin, noem dit ʼn koffiekerk. Verder is dit ook my droom om ʼn boek te skryf wat vertel van hoe groot God was in al die uitdagings van my lewe, en as spreker op te tree, sou die Here wou hê ek moet.”

Elizbé en Arnu is baie opgewonde oor die toekoms. “Ek het hoop vir Suid-Afrika. God het ons land en al sy mense net so lief as wat Hy enige ander land het en ek glo met my hele hart dat dit nie die einde is, soos wat baie mense dink nie. God het al in die verlede ʼn nasie gered danksy een man se geloof, Hy kan dit weer doen. Maar ek glo dat ons ons deel ook moet doen.”

ʼn Mens moet nooit ophou hoop of droom nie – dit glo sy vas. “Ons elkeen is op hierdie aarde geplaas met ʼn plan, ʼn roeping. As jy Hom soek in al jou weë, sal Hy jou paaie gelyk maak. Dit gebeur dalk nie wanneer of hoe jy gedink het nie, maar vir ons God is niks onmoontlik nie.”

Op haar voorarm, langs haar horlosie, het Elizbé Jesus se laaste woorde aan die kruis laat tatoeëer: Tetelestai – dit is volbring. “Dit herinner my dat ek deur Christus se genade lewe.”

  • Maroela Media en die Virseker Trust werk saam om Afrikaanse onderwys en ander Afrikaanse inisiatiewe te ondersteun. Kry ʼn verpligtingvrye Virseker-kwotasie.
  • Virseker is ʼn produk van Auto & General Versekeringsmaatskappy, ʼn gemagtigde finansiëlediensteverskaffer. B’s & V’s geld. (FDV-lisensienommer: 16354)

Wen ʼn bootreis!

Neem deel aan Maroela Media se kompetisie en staan ʼn kans om ʼn bootreis saam met Groot FM te wen. Bepalings en voorwaardes geld. Lees meer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae