’n Lewensdoel: Daarom is dit so uiters belangrik

Heidi Mollentze (Foto: Verskaf)

ʼn Lewe sonder ʼn doel is een van die grootste oorsake van depressie – daarom is dit so te sê lewensbelangrik vir jou om jou lewensdoel te vind en dit voluit na te streef.

Só sê Heidi Mollentze, lewensafrigter van die Greatness Coaching. Heidi is ʼn bekroonde aktrise wat gereeld op ons televisieskerms kuier in gewilde reekse soos Erfsondes en Die Vierde Kabinet, asook sepies soos Villa Rosa en Egoli. Sy was ook in talle teaterproduksies te sien.

Heidi het egter haar persoonlike ontwikkelingshoed opgesit en gesels oor die volgende vier weke in ʼn inspirasiereeks met Maroela Media oor onderwerpe soos jou lewensdoel, emosionele intelligensie, selfvertroue en hoe om die uitstelmonster ordentlik vas te vat.

In dié gesprek fokus sy op jou lewensdoel, verduidelik wat dit presies is en hoe jy die Japannese beginsel van ikigai kan gebruik om dit te bepaal.

“Vra jouself af waaroor jy passievol was toe jy tussen 7 en 14 jaar oud was. Dit is gewoonlik waar die saadjies vir ʼn lewensdoel geplant word,” sê sy.

Heidi waarsku egter ook dat ʼn lewensdoel beslis nie net gaan oor dit wat vir jou lekker is om te doen nie.

“Dit is die plek waar dit wat jy lief is om te doen, wat die wêreld nodig het, dit waarvoor jy betaal kan word en dit waarmee jy goed is mekaar ontmoet, en dus waar jou lewensdoel lê. Dit is wat die Japannese ikigai noem; gaan doen gerus meer navorsing op die internet hieroor.”

(Grafika: Kanbanzone.com)

Heidi sê om deur die ikigai-beginsel te werk hoe jou nie dae of weke te neem nie.

“Kry ʼn uur, skink vir jou ʼn koppie boeretroos en werk hieraan. Dit is so belangrik en gaan soveel vir jou persoonlike ontwikkeling beteken.

“As jy eers jou ikigai ontdek het, moet jy voluit daarvoor gaan. Onthou, dit is nooit te laat om jou lewensdoel te vind nie.”

  • Heidi Mollentze het in Maroela Media se ateljee kom kuier en met Esté Meyer Jansen gesels oor ʼn mens se lewensdoel en hoe die Japannese beginsel van ikigai jou kan help om dit te vind. Luister na die volledige gesprek boaan hierdie berig.
  • Greatness Coaching met Heidi Mollentze kan op Facebook en Instagram gevolg word of bel Heidi by 079 815 6305 om ʼn persoonlike ontwikkelingsessie te bespreek.
  • Luister hier na Maroela Media se reeks gesprekke met Heidi Mollentze.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Cheryl

Grootste snert onder die son. Jy kan alleenlik jou doel in Jesus Christus ontdek en uitleef. Niks anders kan daardie leemte vul nie.

Johann

So tragies dat jy Japan toe moet hardloop terwyl daar op jou bedkassie ‘n boek behoort te wees met die beste raad. Ook maar goed nie almal volg ikagai nie want die wêreld sal oorvol brandweermanne en cowboys en kroeks gewees het!

Atta

Hoeveel het ikigai Japan gehelp om sy selfmoordsyfers te laat afkom?
Ek vind eerder my lewensdoel daarin om Jesus Christus te verheerlik as om eksotiese self help programmetjies te volg wat net selfverheerliking ten doel het.

OW

Jou lewensdoel word in die eerste plek bepaal watter geestelike gawe/s jy ontvang het.Elke mens het ten minste een ontvang.As jy sekere talente ontvang het, is dit ondergeskik aan bogenoemde gawes en dit word in ‘n groot mate bepaal watter breinprofiele dominant aan jou as mens gegee is.As jy bv ‘n dominante linkerbrein is sal jy tipies loobane volg waar wette,regulasies,maw alles wat liniêr korrek is volg.Nie dat jy nie jou regterbrein kan gebruik nie.As jy bv van musiek hou en ‘n instrument wil speel en jy weet niks van musiek af nie, kan dit aangeleer word.Baie mense is ewe… Lees meer »