’n Monument vir vryheid en reg

Die brons reliëfpaneel wat blokhuise en doringdrade uitbeeld. (Foto: Verskaf)

Aan die voet van die Paarlberg, ver van enige slagveld, konsentrasiekampterrein of onderhandelingstafel, is ʼn monument versteek wat die Anglo-Boereoorlog gedenk. Ek kom heel toevallig daarop af, terwyl ek na Kaapse lafenis vir die keel eerder as ʼn erfenis op soek is, maar die ontdekking is ewe verkwikkend as die wyn.

Die historiese wynlandgoed Laborie huisves die unieke monument wat op die stryd van die Kaapse Afrikaners en ander Kolonialers fokus wat in die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) die republieke van Transvaal en die Vrystaat aktief gesteun het of dit simpatiek gesind was.

Ons stap tussen die wingerde na die omheinde monument wat in 2005 onthul is, nadat ons die sleutel by die wynproelokaal gekry het. Ongelukkig is ʼn monument selfs nie op ʼn wynlandgoed van vandalisme gevrywaar nie en word dit daarom toegesluit.

ʼn Wingerd vol herinnering

Die brons reliëfpaneel wat die inperking van kolonianers uitbeeld. (Foto: Verskaf)

Rustigheid en eerbied ritsel deur die blare rondom ons, maar ook deur my gemoed. Die argitek wou ʼn plek van stille bepeinsing skep, waar bedink kan word watter leed en swaarkry ons voorouers in die oorlog moes deurstaan; oor die beginsels van vryheid en reg en oor diegene wat daarvoor gestry het. Sy poging was beslis geslaagd.

Aan die linkerkant lees ek die agtergrond van die oorlog en monument wat op borde aangebring is. Dit vertel in ʼn neutedop dat die Anglo-Boereoorlog op 11 Oktober 1899 uitgebreek het en dat die eerste skote op die twaalfde op Kraaipan geklap het toe generaal De la Rey ʼn Britse gepantserde trein buitgemaak het. Die Boere het hulle magte dadelik gemobiliseer, want hulle het besef dat hulle slegs die oorlog kon wen as hulle kon toeslaan voordat te veel Britse soldate die land bereik. Hulle het goeie wapens gehad, hulle was uitstekende ruiters en skuts, en hulle het die land waarin hulle geveg het beter as die vyand geken, maar uiteindelik het die geweldige oormag tog te veel geword.

ʼn Verrassende ontdekking is dat die monument fisiek die plek aandui waar daar by twee geleenthede in die Anglo-Boereoorlog, op 27 Junie 1900 en 10 November 1900, massasaamtrekke van hoofsaaklik vroue gehou is wat teen die Britse oorlogvoering en die mishandeling van die Boerevroue, -kinders en krygsgevangenes beswaar gemaak is.

Ek draai van die inligtingsbord weg en loop met trappies tussen die rotse deur na die eerste van twee bronsbeelde – ʼn lewensgrootte vrou. Die beeld simboliseer die vroulike Rebel as steunpilaar van haar mense, wat in haar maatskaplike beperktheid tog meer as haar deel gedoen het om teen onreg te rebelleer en vir vryheid en reg te stry. Sy is trots Afrikaner en stry saam met haar broers en susters van die Boererepublieke van Transvaal en die Oranje-Vrystaat. Sy staan op teen die onderdrukkende Britse Empire wat haar selfs van haar taal beroof het.

Vrouerebelle se groot rol

Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog het die Kaaplandse vroue – Afrikaans, Engels en ook van ander nasionaliteite – in beduidende getalle tot die stryd toegetree deur 16 protesvergaderings oor die hele Kaapkolonie te organiseer. Hulle het teen die onderdrukkende Britse Empire met sy bloedige anneksasieoorloë, sy verskroeideaardebeleid en sy verdrukking van almal wat nie pro-Brits was nie geprotesteer.

Die leier van die vroue was Maria Koopmans-De Wet van Strandstraat, Kaapstad. Sy is deur vooraanstaande vroue bygestaan, waarvan ʼn klompie ook spioene van die Boere se geheimediens was. Hul afdeling het as die Kappiekommando bekend gestaan.

Die brons reliëfpaneel wat die teregstelling van Kaapse rebelle uitbeeld. (Foto: Verskaf)

Talle Engelse vroue het in noue samewerking met Koopmans-De Wet en kie opgetree. Deur hul toedoen het Emily Hobhouse na Suid-Afrika gekom om die toestande in die konsentrasiekampe te ondersoek. Hulle het haar tydens haar reis bygestaan en verder gehelp om die haglike toestande in die konsentrasiekampe te verbeter.

Onder leiding van Koopmans-De Wet is meer as £100 000 kontant, mediese voorraad, voedsel en kleding wêreldwyd ingesamel om die lyding te verlig en krygsgevangenes oorsee by te staan. Haar woning, wat vandag ʼn museum is, is indertyd as pakhuis vir die noodvoorrade gebruik. Die vroue het ʼn petisie teen die Britse oorlog in Suid-Afrika aan koningin Victoria van Engeland gestuur. Dit is deur 64 000 vroue onderteken, maar die koningin het nooit ontvangs daarvan erken nie.

Kaapse Rebel – ʼn eretitel

ʼn Entjie verder met die klippaadjie langs kom jy voor ʼn manlike bronsbeeld te staan. Hy is ʼn Kaapse Rebel wat teen onreg in opstand kom. Sy een vuis is gebal, simbolies van sy rebellie en opgekropte woede. Die ander hand is oop en strek vorentoe met die palm na bo – ʼn gebaar van openheid en toegeneentheid teenoor sy naaste.

Die eerste van die vele stene wat aandui waar vegtende Kapenaars vandaan gekom het. (Foto: Verskaf)

Dié opstandelinge is op negatiewe wyse deur die Britte die ‘‘Cape Rebels’’ genoem. Die Afrikaanse term “Kaapse Rebelle” het na aanleiding daarvan ʼn positiewe eretitel in die volksmond geword. Voortrekkerleier Andries Pretorius was die eerste amptelike Kaapse Rebel in die geskiedenis. Die eerste Kaapse Rebel wat gefusilleer is, was die Voortrekker Thomas Dreyer, wat in die Slag van Boomplaats in 1848 krygsgevangene geneem en deur die Britte na Bloemfontein geneem en voor die stadshuis doodgeskiet is.

Altesaam 16 750 manlike Kapenaars het as Rebelle saam met die Republikeine teen die Britse leër geveg. Van die wat gevang is, is 44 deur vuurpelotons doodgeskiet, of hulle is aan windpompe en galge opgehang. Baie is op onbekende plekke begrawe, dikwels in swart woonbuurte tussen die hutte, sodat hul naasbestaandes ook daardeur in hul hart en gees gestraf kon word. Dit was die peil waarop Brittanje sy anneksasie-oorloë gevoer het.

‘Lojaliteit diep gegrif’

Buiten die twee bronsbeelde kom ʼn mens ook sewe brons reliëfpanele op rotse langs die paadjie teë. Dit beeld die 16 massavergaderings, die verskroeideaarde-veldtog, die inperking van Kolonialers, doringdraad en blokhuise, onderdrukking deur die krygswet, Kaapse Rebelle wat gefusilleer word, en konsentrasiekamp-lyding uit.

Aan die rand van die monumentterrein omarm granietblokke die bronsbeelde beskermend. Dit dra die name van die dorpe en distrikte waaruit Kaapse Rebelle gekom het – altesaam sestig as ek reg getel het. Van Kakamas, Richmond, Prieska en Malmesbury, tot Garies, Uniondale, Vryburg, Sutherland, Aberdeen, Darling en Pofadder. Die lys hou aan.

Terwyl ons sleepvoet regmaak om van die gewyde grond afskeid te neem, vang my oog ʼn granietsteen. Die woorde daarop gegraveer kom uit Maria Koopmans-De Wet se toespraak wat op 9 Julie 1900 in Kaapstad, ten aanhore van meer as 1 500 vroue, voorgelees is. Ek lees dit, 122 jaar later, met trane in my oë:

Lojaliteit is diep in die hart van die Afrikaner gegrif. Dit kom omdat hy God vrees. Ons broers wat in die oorlog geval het, met die Bybel in die een hand en die Mauser in die ander, en die veld laat weergalm het met die psalms wat hulle gesing het; wie kan anders as om hulle te eer? God en die geskiedenis sal hul geregtigheid laat geskied. Wat ons susters aangaan wat onophoudelik gebid het, die weduwees en die wese het vir hul land gely, en God alleen weet wat dit beteken. Daardie manne sowel as vroue is die afstammelinge van die fiere Nederlanders wat met die seën van God sigvry geveg het, van die magtige Spanje, en van die Hugenote wat aan die wêreld gewys het dat geloof krag gee om wondere te doen. Die oorlog het die vereniging van Afrikaners van hierdie land tot stand gebring. Vroeër het ons dit geweet dat ons broers en susters was, nou voel ons dit. Daardie gevoel sal nooit uitsterf nie, want die wortels daarvan is in ons lewende siel gevestig.

Met die hek van dié besonderse monument weer veilig teen vandale gesluit, tref dit my dat die Anglo-Boereoorlog se rimpeleffek vandag nog gevoel word. Die pyn en opoffering kan en moet nie ontken word nie, maar die krag en trots wat daaruit voortgespruit het, is ewe werklik in die harte en hande van die nageslag. Daarvan oortuig dié monument my opnuut.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Dies ·

Jyt gehoor van die pa wat oor 100 jaar oor n eiland gelieg het, en die pa na n eiland onder hulle gewys het en gesê het : ‘ my seun dit WAS engeland’!!!

Dies ·

Ek glo die mooiste, het jy nie raakgesien.
As jy by die hek in stap, reg tussen 2 groot rorsblokke ( 10 teen 1 onder blare) staan die woorde : Die onbekende REBEL.
Die monument is n moet en laat my trots voel oor ons voorvaders en ‘ vooemoeders’.
Terloops Maria Koopa s de Wet lê begrawe in die ou Wynberg begraafplaas (agter AFBOB en n engelse kerkie.)

Wat Wou ·

O aarde die mooi bewaarde geheim is uit . Oor ses maande sal dit nie meer daar wees nie.

Harley Davidson ·

Wat help monumente as jy nie ‘n land het nie en slegs ‘n belasting betalende gas is in ‘n land waar jy gebore is.

Johann ·

Iets baie besonders. Vreemd dat baie van ons nou eers daarvan bewus word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.