ʼn Nuwe huis vir Helpende Hand se tuissorgprogram

Foto ter illustrasie. (Foto: iStock)

Solidariteit Helpende Hand se tuisversorgingsprogram gaan 2023 op ʼn hoogtepunt begin nadat weldoeners onlangs vir dié inisiatief ʼn sentrum geskenk het waar die program van volgende jaar af aangebied sal word.

“Ons is werklik opgewonde oor hierdie skenking en omdat ons nou ʼn ankerplek vir die opleidingsprogram het, kan die aanbod aan studente sowel as die gemeenskap uitgebrei word,” sê dr. Elsha Hermann, Helpende Hand se hoof van maatskaplike ontwikkeling.

Die Theodora-sentrum vir gestremde persone is in Garsfontein geleë en dit is ʼn paar jaar gelede gestig met die doel om vir volwasse intellektueel en fisiek gestremde persone ʼn beskermende werkomgewing te bied.

Die sentrum is deur die Nel-egpaar begin spesifiek met die hoop om vir hul gestremde seun ʼn plek te bied waar hy ná skool kon werk en so ook ʼn nuwe doel in die lewe kon vind.

Johan Nel (die broer van die gestremde seun) vertel aan Maroela Media dat sy broer kort voor die Covid-19-pandemie by die sentrum dood is en in April vanjaar het hulle besluit om die sentrum permanent te sluit.

“Ek en my ouers het gevoel die tyd is reg om aan te beweeg. Ons het met ʼn paar mense gesels en koppe bymekaar gesit oor toekomsmoontlikhede vir die sentrum en ek het toe vir my ouers voorgestel dat ons by Helpende Hand hoor of hulle dit sal kan benut.

“Dit is awesome dat my broer se nalatenskap op hierdie manier voortleef en dat die sentrum nou verder gebruik gaan word om mense en die gemeenskap te dien. Ons is opgewonde oor die nuwe moontlikhede wat hieruit gaan ontstaan,” sê Nel.

Volgens Hermann was daar in die afgelope paar jaar ʼn groeiende behoefte aan bekostigbare tuisversorging vir bejaardes, mense met gestremdhede, kinders met spesiale behoeftes en mense wat aansterk ná operasies.

Om in hierdie nood te voorsien het Helpende Hand in 2021 ʼn tuisversorgingskursus begin wat aan studente, wat passievol is oor die versorging van mense, goeie opleiding in dié veld bied.

“Mense dink dadelik dat dit versorging is wat net by iemand se huis plaasvind, of dat dit beperk word tot bejaarde persone wat tuissorg benodig, Dit is egter glad nie waar nie.

“Daar is regtig ʼn wye verskeidenheid opsies wat jy kan oorweeg. Tehuise stel versorgers aan en van die studente wat die program voltooi het, is by hospitale in diens geneem. Sommige studente werk by klinieke waar hulle basiese dienste lewer, en au pairs wat kan sê dat hulle het ʼn kursus in tuisversorging voltooi het gee vir ouers bykomende gemoedsrus.”

Hermann moedig mense wat in die tuisversorgingskursus belangstel aan om in te skryf en sy benadruk dat daar nog heelwat rentevrye studielenings beskikbaar is vir dié kursus. Klik hier om aansoek vir so ʼn studielening te doen.

Voornemende studente kan tot 15 Januarie aansoek doen. Die minimum toelatingsvereiste is gr. 10, en die onderrigtaal van die kursus is Afrikaans. Besoek https://helpendehand.co.za/versorging/ vir die aansoekvorm en meer besonderhede oor die kursus.

Vir enige navrae, stuur ʼn e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.