‘n Nuwe lewe vir gestremde seun danksy Pta-gesin

Dr. Mart-Mari Visser saam met Michael Kgolane na sy operasie (Foto: Verskaf)

ʼn Negejarige seun van Groblersdal in Limpopo wat gebore is met misvormde onderbene en nie kan loop nie, se maats het hom oudergewoonte langs die pad in ʼn kruiwa gestoot om saam met hulle te gaan speel, toe ʼn proses onlangs begin het wat sy lewe handomkeer verander het.

Michael Kgolane, die seun wat tot dusver oor die weg moes kom deur op sy knieë te loop of deur sy vriende gehelp te word om te kom waar hy wil wees, kry danksy die goedhartigheid van ʼn gesin van Pretoria binnekort prostetiese bene.

Die Netcare Pretoria-Oos-hospitaal het Kgolane se verblydende storie in ʼn verklaring gedeel. Volgens die verklaring het die gesin van Pretoria, wat verkies om anoniem te bly, in die Groblersdal-gebied gereis toe hulle vir Michael en sy vriende langs die pad gesien het. Die gesin het stilgehou en die kinders gevra waarheen hulle gaan. Hulle het toe geantwoord en gesê dat hulle vir Michael vat om saam met hulle te gaan speel, omdat hy nie self daarheen kan loop nie.

Dié ontmoeting het so ʼn groot impak op die gesin gemaak dat hulle besluit het om ʼn beplande oorsese vakansie te laat vaar en eerder die geld te bestee om vir Michael se mediese sorg en prostese te betaal. Dit sal beteken dat Michael meer mobiliteit en oor die algemeen ʼn beter kwaliteit lewe sal hê.

“Die gesin se ongelooflike goedhartigheid het gesorg dat Michael, ʼn seun wat nog nooit kon loop nie, ʼn suksesvolle operasie kon ondergaan om sy misvormde bene te amputeer en te vorm in voorbereiding vir die prostese wat volgende jaar gepas gaan word,” het dr. Mart-Mari Visser, die ortopediese chirurg wat die operasie gedoen het, gesê.

Michael se ma, Ditebogo, het gesê sy sal vir altyd dankbaar wees vir die gesin wat haar seun gehelp het om die prostese te kry. “Die goedhartigheid van die familie wat ons gehelp het, is ongelooflik. Ek en my gesin wil uit die diepte van ons harte baie dankie sê vir dié gesin en almal wat betrokke was by sy behandeling,” het sy gesê.

Volgens Ditebogo het Michael tot dusver op sy knieë deur die huis beweeg en wanneer hy by sy vriende wou uitkom, of wanneer hy skool toe moes gaan, moes iemand hom in ʼn kruiwa stoot omdat hulle dit nie kon bekostig om ʼn rolstoel te koop nie. “Sodra sy prostese gepas is, sal hy vir die eerste keer in sy lewe kan loop,” het sy gesê.

“Die familie het vir Michael ’n onbeskryflike geskenk van hoop dié feesseisoen gegee en hulle is ʼn inspirasie vir ons almal,” het Netcare Pretoria-Oos Hospitaal in die verklaring gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Geluk ·

Ek is so bly vir die seun dat hy nou sal kan loop!..Baie dankie aan hierdie ongelooflike mense wat dit moontlik gemaak het!!

Santa ·

Ek het gebid dat die prosedure n sukses sal wees- en die Gewer van alle goeie gawes Sy seen sal uitstort op almal betrokke

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.