’n Nuwe raam vir my verandering

(Foto: Pine Watt/Unsplash)

Ek het die afgelope paar maande net wéér besef hoe moeilik “verandering” is. Ons almal weet dis onafwendbaar, maar ʼn skielike draai in ons goed-deurgetrapte paadjies veroorsaak spanning. Ons beur met alle mag teen die stroom om daardie ongemak te vermy of net ʼn bietjie uit te stel maar as daardie perde van verandering, blink van salpeter eers stal ruik, is dit huis toe, boetie.

Ek trek op die oomblik uit ʼn huurwoonstel wat al lank my en my hondekinders se stadsvertoef was. ʼn Knus plekkie waar stilte en vrede sonder uitsondering huismaats was. Toe ek hoor my tuinwoonstel gaan omskep word in ʼn werkplek en dat ek moet oppak, was die gevoel van verlies massief.

Drie maande se stadige afskeid en die soeke na ʼn nuwe troeteldiervriendelike plek in dieselfde buurt waar berg, mens en hond aan my bekend en na aan die hart is, was uitmergelend. As dit by blyplek kom beteken “pet friendly” boonop meestal “katvriendelik” en selfs al word honde toegelaat moet ʼn mens doodseker maak jou bure is hondemense. ʼn Geblaf, al is dit net nou en dan uit die grys bekkie van ʼn dowe driebeen Jack Russel, kan vinnig ʼn stokkie voor die oor-die-wasgoedlyn-geselsies steek.

So hang die swarigheid oor my en bekommer ek my dat ek nie weer ʼn plek daar onder die Duiwel se Piek gaan kry waar ek (en my honde) so ongelooflik tuis en veilig sal voel nie. Intussen stap die tyd aan en my tasse moet stadig maar seker gepak word. Binne steeks, steek ek wel voelers uit maar elke wenk of voorstel val met ʼn plofgeluid plat.

So lê ek toe ʼn week of wat gelede weer in die na-nag en tob toe ek my foon nadertrek vir my “Google feed”. En net daar, met die eerste artikel, staan al twyfel se gevalle soldate op en salueer. Perspektief..!

Die betrokke Amerikaanse sielkundige praat oor “reframing” – eenvoudig gestel, om anders na iets te kyk. Om jou storie ʼn nuwe raampie te gee. Sy gebruik ʼn voorbeeld van haar studentedae, toe haar professor tydens die laaste lesing van haar studiejare ʼn glas optel en stadig ʼn bietjie water ingooi.

Die meeste studente het gedink: “Ag nee, hier kom die ‘glas half vol/ leeg’les”, maar toe die vraag (aan die studente): “Wat dink julle weeg die glas?” Die klas kry lewe, hande skiet op en raaiskote word gewaag – soveel en soveel en soveel milliliter… Die studente krap kop, haal hulle (destydse) sakrekenaars uit en maak somme, maar steeds skud die dosent haar kop. Na ʼn goeie klompie minute se geraai en debat steek die dosent haar hand op en stilte daal oor die lesingsaal.

“Hierdie glas se gewig hang af van hoe lank jy dit vashou. Hoe langer jy dit vashou, hoe swaarder word dit.”

Die dinge wat ons pla en waarteen ons skop word net moeiliker met weerstand en wroeging, veral wanneer ons daardie glas langer en langer vashou. Soms moet ons maar net aanvaar die lewe het sy kinkels en kabels en hoe meer vloeibaar ons is, hoe gouer beweeg ons aan. En wie weet wat om daardie draai wag? Dalk ou Forest se “box of chocolates”.

In my geval het die glasstorie vir my die Welkom-grasmatjie van die Onbekende afgelewer. Die oomblik toe ek vrede maak met my vertrek uit my klein oase, duik ʼn plek op wat nie méér nommerpas kan wees nie.

My treklorrie kom.

Soos Albert Schweitzer gesê het: “Alles val uiteindelik in plek. Tot dan – lag vir die verwarring, leef vir oomblikke en wéét, alles gebeur vir ʼn rede”.

  • Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM. Lizma kan elke Vrydagmiddag 12h45 op Die Kwik Styg op RSG gehoor word. Sy is die aanbieder en regisseur van die reeks oor klimaatsverandering.

Meer oor die skrywer: Lizma van Zyl

Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.