ʼn Nuwe seisoen vir Radio Pretoria

Foto: Verskaf

Foto: Verskaf

Vanoggend is Radio Pretoria se luisteraars só gegroet: “Goeiemôre en baie welkom by Pretoria FM.”

Vanaf sy eerste uitsending in 1994 het Radio Pretoria verskeie uitdagings beleef en moes omtrent baklei om sy plek op die lug te behou. Amper 22 jaar later, word daar nuwe asem in dié stasie geblaas. Met sy nuwe leuse “hoop, glo, lééf in Afrikaans” begin Pretoria FM vandag uitsaai as die Afrikaanse stasie wat die grootste gebied in Suid-Afrika bedien. Lees meer hier.

Dié stasie spog nie net met ʼn nuwe naam nie, maar ook ʼn splinternuwe baadjie. Sarina Frauenstein, nuusredakteur, sê hulle is baie opgewonde oor Pretoria FM se toekoms en verduidelik ook die nuwe kenteken van Pretoria FM. “Die nuwe kleure dui op nuwe lewe by ons kanniedood-stasie. Die voorkoms is vars en vrolik – nes ons mense.” Sy verklaar ook die gebruik van die verkleurmannetjie wat ook te sien is in die nuwe handelsidentiteit. “Ons verander van kleur, maar nie van geur nie.”

Volgens Willie Spies, besturende direkteur, is dié verandering deel van die visie om die voorste gemeenskapradiostasie vir Afrikaanssprekendes te wees. “Dit vorm deel van ons ontwikkeling van struggle-radio tot toekomsradio. Dieselfde puik luistergenot, maar selfs beter as ooit tevore.”

Pretoria FM het ’n verskeidenheid aktualiteitsprogramme wat uitsaai onder die vaandel, Klankkoerant. Volgens die omroepers van dié programme, is die doel van Klankkoerant om luisteraars op die hoogte te bring van plaaslike en internasionale nuusgebeure met ’n mengelmoes van goeie musiek. Onderhoude word met kenners gevoer om sodoende die luisteraar in te lig en te bemagtig. Dié programme word Maandag tot Saterdag uitgesaai en bestaan uit ’n oggend-, middag- en laatmiddagprogram.

Elsje van Jaarsveld, ʼn omroeper wat voortaan tussen 09:00 en 13:00 sal uitsaai, sê sy is baie opgewonde oor die nuwe seisoen wat by die radio aangebreek het en vertel wat mense te wagte kan wees tydens haar skof. “Dit kan beskryf word as ʼn joernaal- of tydskrifprogram. Luisteraars kan uitsien na gesprekke met kreatiwiteitskenners en raadgewers oor verskeie onderwerpe wat vir mense saak maak. Dit gaan nie nuus wees nie, maar wel aktueel.”

Die laatmiddagprogram sal voortaan van 16:00 tot 19:00 aangebied word deur MD Greyling en Estel Terblanche. Volgens die programregisseur, Jake Stolts, sal hierdie program luisteraars se pad huis toe so ’n klein bietjie korter maak.

Volgens Hennie Koortzen, stasiebestuurder van Pretoria FM, het dié stasie ʼn jong dinamiese span wat radio tot ʼn nuwe vlak in die land gaan voer. “Ons maak voorsiening vir oud en jonk en fokus op wat saak maak in ons omgewing en die gemeenskap.”

Dit is inderdaad ʼn nuwe seisoen wat aangebreek het vir dié stasie.

Vir ’n volledige programrooster besoek gerus Pretoria FM se webwerf of volg hulle op Facebook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Anchen Dreyer ·

Veels geluk met die groot stap op julle opwindende reis! Mag die pad vorentoe nuwe horisonne uitwys met pragtige uitsigte!

Johannes ·

Eerstens, baie geluk en voorspoed met die pad vorentoe. Ek wil ook graag van die geleentheid gebruik maak om Adele Changuion te komplimenteer met haar goeie taalgebruik. Dit is opvallend hoe min mense in al die media weet dat die volgende die korrekte taalgebruik is: “om iemand op die hoogte van sake te bring”, i. p. v. om iemand op hoogte van sake te bring. Dit is baie verfrissend om dit in Adele se skrywe raak te sien. Baie dankie aan almal wat bygedra en gehelp het om hierdie groot stap vir ons as Afrikaners moontlik te maak.

Frans ·

Ek glo dit is nodig dat daar weer n afrikaanse uitsaaier op die lug is wat siuwer Afrikaans sal praat.Sterkte en hou asb die taal siuwerOns sal julle seker nie hier in die Ooskaap kan opvang nie

Annemarie ·

Frans, jy kan ons op internet en DSTV kanaal 887 opvang. jy kan ook ons “app” op jou slimfoon aflaai en heeldag na ons luister! Geniet dit :-)

Annemarie ·

Frans, jy kan ons op internet en DSTV Kanaal 887 opvang. Jy kan ons ook op jou slimfoon aflaai. Geniet dit!!

Stoere Boer ·

Jy kan hulle op TV opvang, netnie seker presies watter kanaal nie asook “stream” op jou rekenaar of selfs selfoon.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.