’n Onbeplande wonderwerk

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Josh Bean/Unsplash.)

Die tyd waarin ons nou leef met die koronavirus wat die wêreld en ons lewens oorgeneem het en byna in elke nuusberig en advertensie genoem word, het die mensdom in ’n totale magteloosheid gelaat.

Waar die positiewe gevalle daagliks styg en mense meer angstig en onseker word oor die toekoms en die uiteinde van die pandemie, wend mense wêreldwyd en ook in Suid-Afrika hulle al hoe meer na God vir bemoediging, leiding en hoop.

Sommige gelowiges sien dit as ’n manier om die mensdom ’n kans te gee om hul lewens reg te maak met ons Skepper.

Stories van ateïste wat tot bekering kom, doen gereeld die rondte en getuienisse van pasiënte wat glo dat net God hulle deur hierdie siekte gedra het, word algemeen. Aanlynselgroepe, kerkdienste en dagstukkies word deel van geïsoleerdes se daaglikse roetine en teksverse van bemoediging op sosiale media hul enigste hoop.

Ons weet dat God nie net in die Bybelse tyd wonderwerke gedoen het nie, maar steeds vandag. Hy bly die God wat die onmoontlike moontlik maak.

Maroela wil graag sy lesers inspireer en hoop gee om hul vertroue op Hom te hou. Stuur gerus vir ons jou “storie van hoop” waar God ’n wonderwerk in jou lewe gedoen het. Ons mag dit dalk gebruik om ander Maroela-lesers ook hoop te gee in hierdie onseker tyd.

Hier is ’n wonderwerk wat een van ons lesers met ons gedeel het:

Toe ek die kans kry om die premiere van die rolprent Unplanned te gaan kyk, het ek nie twee maal gedink nie, want sien, ek is ook deel van daardie statistiek …

My storie is nie ’n gewone storie nie. My storie is anders as die normale tienermeisie wat swanger raak en vir ’n aborsie gaan om haar ouers die verleentheid te spaar of die jong vrou wat swanger raak in ’n verhouding wat alreeds op die rotse is.

In my geval was ek getroud. Ja, getroud vir ’n paar jaar al. Ons het reeds ’n dogtertjie van 18 maande gehad en het nie beplan vir nog ’n kind nie. Nie in daardie stadium nie. My man (toe) het pas weer begin studeer en ons het tydelik by my ouers ingetrek om kostes te spaar sodat ons sy studies kon betaal.

Tydens die besoek aan die dokter waar die tweede onwelkome swangerskap bevestig is, was my man vreeslik ongelukkig. Hy het beskuldigend verwys na ons tydelike situasie, finansiële uitdaging en ons ooreenkoms om nie nog ’n kind te kry nie. Die dokter kon sy ongelukkigheid nie miskyk nie en het genoem dat aborsies wettig was en dat dit ons keuse sou wees om die swangerskap te beëindig indien ons sou wou.

Ek wil nie graag in te veel detail ingaan oor my (eks) man se persoonlikheid en ons verskille nie, maar hy het geëis dat ons die swangerskap beëindig. Die dokter het pille voorgeskryf wat ek moes drink en volgens hom sou ’n spontane miskraam plaasvind. So maklik soos dit.

Daar was geen sielkundige ondersteuning nie, geen verduideliking van hoe dit my later uitmekaar sou skeur nie en hoe lank dit sou neem om myself te vergewe vir die afskuwelike besluit wat my hele lewe sou verander nie.

Gedurende hierdie tyd kon ek nie reguit dink nie en ons word mos geleer dat die man die hoof van die huis is, en aangesien ’n man altyd in belang van sy gesin optree, het ek hom slaafs gevolg terwyl hy die leiding neem.

Ek het ook nie in daardie stadium ’n baie intieme verhouding met God gehad nie en ek het Hom dus glad nie geken in die besluit nie.

Tydens ’n langnaweek het ek die pille begin drink en ná ’n week het steeds niks gebeur soos die dokter voorspel het nie. Ons is terug die dokter toe en hy het voorgestel dat ek moet ingaan vir ’n skraap om van “alles” ontslae te raak.

By die dagkliniek was die proses vinnig, koud en emosieloos. Ek was alreeds die volgende dag weer terugwerk toe met ’n siektebrief waarop “mediese redes” gekrabbel was. Mediese redes. Nie moord nie. Wel, mens kry mos nie ’n dag siekteverlof vir moord nie.

Ons lewe het aangegaan. Dit moes aangaan. Ek weet nie hoe nie, maar dit moes.

Ek kan goed onthou dat ek nie regtig vreeslik pyn gehad het nie. Net ’n ongelooflike brandgevoel. Dalk was die brandsensasie ’n vergelyking van hoe dit voel om naby die hel te kom. Ek het gevoel ’n monster soos ek het die hel verdien!

Dit was ’n baie moeilike tyd vir my. Net my man en ma het geweet wat ek gedoen het. En God. Hy het geweet. Ek dink Hy was baie teleurgesteld in my.

Ek was eensaam en alleen en het elke oggend my dag met selfverwyt en selfhaat begin. Ek het innerlik begin worstel oor hoe ek God kon speel oor ’n lewe. Ek het begin nagmerries kry en depressief geraak. Wanneer ek met my man daaroor wou praat, het hy dit weggepraat en gesê dit was nou deel van die verlede en verby en het my emosies en hulpkrete geïgnoreer.

Ek was te skaam om vir berading te gaan. Skaam om iemand te vertel wat ek gedoen het en alhoewel ek vreeslik verward en emosioneel was, het ek probeer normaal wees ter wille van my amper 2-jarige dogtertjie wat haar mamma nodig gehad het.

Die lewe het aangegaan. Met of sonder my … of so het ek gedink.

Drie maande daarna tydens ’n werkpartytjie op ’n Vrydagmiddag het ek vreeslik sleg begin voel – lighoofdig, naar, ongemaklik en sommer net mislik.

Ek is daardie middag ná werk dokter toe (dieselfde dokter wat die aborsie en skraap gedoen het). Hy ondersoek toe my ore, keel, kliere en druk op my maag en noem later iets van ’n “uterus wat duidelik vergroot is” en dat ek dadelik moes gaan vir ’n dringende skandering. Ek het angstig gewonder of ek nie dalk ’n gewas het nie (my verdiende loon) en het in my emosionele deurmekaar kop al gedink aan moontlike kanker en toekomstige chemobehandeling.

Later daardie aand toe ’n vriendelike dokter die sonar se skerm na my gesig draai en ek ’n groot bewegende baba op die skerm sien, begin ek onbeheersd en histeries huil! Hulle moes my dogtertjie uit die kamer neem sodat sy nie haar ma in daardie toestand sien nie. Maande se emosies en toe die skielike skok het uiteindelik sy tol geëis.

Ek het gehuil omdat ek kon sien dat daar ’n groot baba in my maag is. Ek het gehuil omdat ek nooit mag gehuil het oor ek my baba doodgemaak het nie. Ek het gehuil omdat ek besef het dat ek besluit het om my baba dood te maak en God het besluit sy sal lewe! Ek het gehuil omdat hierdie baba ’n aborsie én ’n skraap oorleef het. Ek het gehuil omdat ek met my eie oë ’n Goddelike wonderwerk aanskou het! Ek het gehuil omdat daar ’n kans sou wees dat die baba nie normaal sou kon wees nie (ná al die medikasie en trauma). Ek het gehuil omdat ek God se werk uit Sy hande wou neem en wou besluit oor ’n lewe. Ek het gehuil oor ek ’n slegte ma en mens was.

Ons is terug dokter toe met ’n sonarfoto van ’n 20-weke oue babadogtertjie en al wat hy kon doen, is om sy skouers op te trek. Hy was stom en sprakeloos. Hy kon absoluut géén verklaring gee van hoe ’n fetus ’n aborsie én skraap kon oorleef nie. Hy het iets genoem van dat hy alles gedurende die skraap in die baarmoeder verwyder het, maar nie weet wat gebeur het nie. Hy het dadelik ’n afspraak by ’n ginekoloog gereël.

Die weke wat daarop gevolg het, was hel. Ek het met myself geworstel en geweet dat indien die baba enige afwyking of abnormaliteit sou hê, dit my skuld sou wees en my verdiende loon. My straf! Ek het vreeslik gebid, bely en tyd saam met God begin spandeer en Hom beter leer ken en uit desperaatheid aan Hom ’n belofte gemaak dat indien my baba normaal sou wees, ek sou juig en getuig van die absolute Goddelike wonderwerk waar Hy ons nietige selfsugtige mense wys dat Hy steeds in beheer is. Selfs in lewe en dood.

Twee weke voor haar geboorte stuur God haar naam vir my en dit beteken “volgeling van Christus” en toe ek besef wat haar doel op aarde gaan wees, weet ek dat Hy my ook volkome vergewe het. Ek kon eers heelwat later myself vergewe.

Sy weet nie van hierdie reis nie en ek weet ook nie of ek dit vir haar moet vertel nie, want ek weet nie hoe sy daarvoor gaan voel nie en ek vrees dat sy my mag haat, daarom my anonieme skrywe om ons storie te vertel en by die belofte te hou wat ek met ons Here gemaak het.

As ek vandag na haar kyk – ’n gesonde, volmaakte, pragtige, intelligente en talentvolle jong vrou wie se hart aan die Koning van die heelal behoort – weet ek dat sy besig is om haar doel op aarde te leef.

  • Unplanned is ’n inspirerende ware verhaal met skokkende feite wat enige iemand se persepsie oor aborsie vir altyd sal verander.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Raadslid ·

Kom ons bid ook dat die duisende van ons broeders en susters wat by valse kerke is ook die waarheid sal sien en sal terugkeer na die ware kerk van Jesus Christus.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.