Marike* en Pieter*, wat mekaar al jare lank ken, maar verlede jaar eers op hul eerste koffieafspraak uitgegaan het, se troue was tentatief vir Mei beplan. Maar met hierdie Covid-19-pandemie, weet geen bruid watter seisoen se katalogus om deur te blaai nie.
“Ons kinders sit in Ierland, Nieu-Seeland en Pretoria en niemand vat nou ʼn kans op ʼn vliegtuig na die Wildernis nie,” skryf sy.
Hier volg haar dagboek van hoe hulle in minder as ʼn week se tyd getrou het:
Maandag:
Die staat van algehele afsondering word aangekondig en vermoedens loop sterk dit gaan baie langer aanhou. Pieter kondig so terloops af dat hy dink ons moet trou voor lockdown Vrydag. Ek weet nou vir seker dat mans niks weet van bruide se voorbereiding voor ʼn troue nie. Hul kam mos net die kuif en daag op. En boonop is ons dan nog nie eens verloof nie!
Dinsdag:
‘n Pragtige vrou van die prokureurskantoor begroet ons met die voorhuwelikse kontrak en ons teken dit met penne wat meer handreiniger as ink bevat. Die pastoor sukkel nog om uit te vind of ons nog kan registreer by binnelandse sake voor die staat van inperking afskop, want “The Walking Dead” antwoord nie fone nie.
Woensdag:
Die pastoor bevestig ons kan vroeg Donderdag trou sodat hy nog vinnig die huwelik kan registreer.
Ek skreeu van skok en opgewondenheid want nou besef ek eers: Ons trou môre en ek het nie eens ʼn ring of rok nie!
Dit is 15:00 en ek jaag winkelsentrum toe. Ek bid heeltyd dat daar tog net iewers ʼn wit rokkie is. Die groen rok wat ek wou aantrek, lyk volgens Pieter “te Pretoria” en nie reg vir die strand nie. Die winkelassistent by die tweede winkel kyk my geskok aan toe ek vra vir ʼn wit rok vir my troue môre. Sy dink seker ek het alreeds koors van die virus.
Maurice bel 17:00 en sê die ring is gereed, en ek jaag vinnig om dit op te tel.
By die huis aangekom om 18:00 staan Pieter gereed met twee glase en ʼn blikkie Grapetiser. “Kom, dit word donker,” sê hy en laai vir Mila ons hondjie in die motor. Ons gaan soek ’n mooi strand. Die eerste twee strande is reeds toegemaak en ons haas na Kleinkranz waar die mooiste sonsondergang ons begroet. “Die ring is perfek, maar die man is nog beter,” dink ek by myself.
Terug by die huis maak ek gou kos, maar die telefoon gons van almal wat gelukwens. Die rokkie word gou gewas, want geen virus mag nou naby my kom nie. Terwyl ek Pieter se wit hemp stryk, hoop ek net die wit rokkie krimp nie in die tuimeldroër nie.
Ek slaap niks nie, my kop werk oortyd…
Donderdag:
Die wekker gaan 06:00 af. Ek kan steeds nie glo ek trou vandag nie!
Terwyl ek my hare indraai en grimering aansit, neem Pieter ʼn video, want my sussies en vriendinne wil nie ʼn oomblik hiervan mis nie.
Op pad motor toe gryp ek ʼn pak knippies want hy verkies my hare in ʼn bolla. Terwyl ek spook om met 100 knippies my hare vas te maak, stop Pieter langs die pad en pluk gou ’n pienk erika vir my as ʼn handruiker. Mila weet nie wat aangaan nie, net bly sy kan saamry en salig onbewus dat Oubaas vandag trou.
By die kerk begroet André en Marlene ons. Marlene is vandag sommer blommemeisie, bloemiste en fotograaf, want die nood druk. André moet my inbring in die kerk, dus is hy vandag “pa”, strooijonker, seremoniemeester en gaan later die seën uitspreek as ons ons beloftes op die strand aflê. Ons hou ʼn veilige 2 m-afstand met ʼn lint tussen ons, soos die Covid-19-reëls sê.
Die pastoor se preek is so gepas: Jesus se eerste wonderwerk waar water in wyn verander word. Ek dink: hierdie is ook ʼn wonderwerk. My hartseer hart het verander in ʼn jubelhart. Die register word geteken en ek besef dis nou ʼn nuwe van en ʼn nuwe lewe!
Die strande is toegemaak en ons ry weer Kleinkranz toe vir die foto’s. Dit begin saggies drup en ʼn baie donker wolk begroet ons. Die sand is koud en nat, maar my hart het nog nooit so warm geklop nie. André spreek die seën uit oor ons huwelik terwyl Mila blaf asof sy dit alles beaam. Ons maak ons beloftes aan mekaar en Marlene neem nog foto’s. Die wind kom op en dit begin saggies reën. Ons ry huis toe.
Pieter en André maak die sjampanje oop. Ek en Marlene maak lekker omelette. Ek is seker een van die min bruide wat self die catering op haar troudag doen!
Dit jubel in my hart en ek dink: Geen fieterjasies, geen spanning, geen kos wat mors, geen ongelukkige gaste, geen blomme wat doodgaan, geen vervelige toesprake nie.”
Watter perfekte, lieflike troue!
(*Skuilname is op die versoek van die skrywer gebruik.)
Baie geluk!!! Ek se altyd jy het nie geld nodig om te trou nie. Wat belangrik is is dat julle mekaar liefhet en wil trou en julle lewe saam wil begin met God as julle middelpunt.
Wow julle mag jul liefde vir altyd so spesiaal wees soos julle mooi dag. Hou altyd vas aanmekaar en ook aan GOD en weet hoe nader jul aan GOD lewe in jul liefdesdriehoek met HOM hoe nader sal jul ook aan mekaar wees. Gaan maak ongelooflike onthou jy nog dae wat jul eendag met jul kleinkinders kan deel.
Hartlik geluk, julle. Mag julle ‘n wonderlike toekoms saam tegemoetloop.
Hierdie vrou klink so kinderlik opgewonde. Ek hoop hierdie man behandel haar soos ń prinses.
Van Harte geluk!