’n Prinsespop elk vir vier besonderse meisies

Die pop Sara kry ‘n nuwe huis. (Foto: Verskaf.)

’n Negejarige meisie in die noorde van Pretoria spog nou met só ’n spesiale lappop. Die pop genaamd Sara beteken prinses volgens die Bybelvers in Genesis 18:14.

Sara met haar blonde wolhare en ’n pienk-en-wit-geruite kappie, rokkie en broekie, is ’n uitsonderlike lappop, wat net vir dié meisie gemaak is. In ’n sakkie, wat aan Sara se maag vasgewerk is, is dié boodskap in ’n briefie vir haar geskryf: “Is daar enigiets wat te moeilik is vir die Here? Sara beteken prinses. Onthou God is jou hemelse Vader. God is ook koning oor die heelal. Dit beteken jou hemelse Vader is die koning van alles. Dit maak jou die koning se dogter m.a.w. ’n prinses. Onthou dat niks vir God onmoontlik is nie.”

’n Anonieme skenker van Swede het onlangs vir Marianda Schlebusch, projekorganiseerder van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK)-Kultuurnetwerke, met ’n spesiale versoek genader. Sy wil vier Geloftepoppe vir vier meisies bestel. Sy het vir elkeen ’n naam gegee, elkeen van die poppe lyk ook verskillend, soos dié skenker spesifiek versoek het, en elkeen van hulle het ʼn eie spesiale boodskap.

Die poppe is Vrydag in samewerking met Helpende Hand aan vier meisies van onder meer ses, agt en nege jaar oud in Krauseville en Andeon in Pretoria oorhandig. Die skenker het versoek dat die lappoppe aan meisies gegee moet word wat dit veral nodig sal hê. Helpende Hand het gehelp om hulle uit te soek.

Toe Schlebusch die Sara-pop aan die meisie in Krauseville gegee het, het sy hoorbaar na haar asem gesnak. Nog ’n keer toe sy hoor dat haar pop se naam “prinses” beteken. Sy kon nie wag om Sara vir haar boetie te wys nie en haar ma het gesê die spesiale pop kan nou saans by haar slaap.

Die FAK het verlede jaar met die projek, onder Schlebusch se leiding, begin om Geloftelappoppe spesiaal vir Geloftedag te maak. Sedertdien wil almal ’n “stukkie onthou hê”. Nie eens die Covid-19-pandemie en gevolglike nasionale inperking kon oumas in die Pretoriase middestad keer om dié poppe te maak nie. Waar hulle voorheen weekliks bymekaar gekom het om dié poppe te maak, het elkeen regdeur die inperkingstyd die Geloftepoppe in hulle kamers by die Blommefonds se Union Park-woonstelle in Arcadia gestop, hul gesigte borduur, hulle aangetrek en hul wolhare gevleg.

“Op Geloftedag verlede jaar het hierdie poppe en hulle spesiale storie harte aangegryp. Besoekers aan die Voortrekkermonument en die FAK se Liedjietuin het in rye gestaan om ’n pop te koop en lank nadat die poppe uitverkoop is, het bestellings nog ingestroom. Die oumas – soos ons hulle noem – het dadelik weer begin werk aan die nuwe poppe,” sê Schlebusch.

Die vier poppe is gemaak in opdrag van ‘n skenker en aan vier besonderse meisies uitgedeel. (Foto: Verskaf.)

Schlebusch het kort voor die aankondiging van die nasionale inperking ’n sak met leë poppe, dons en hul onderskeie rokkies en broekies by die opsigter van dié woonstelblok gaan aflaai. Tussenin die ongebleikte linneslopies het sy sjokolade weggesteek sodat die oumas darem aan iets kon smul terwyl hulle die Geloftepoppe aanmekaargesit het. Met die onlangse afhaal van die nuwe Geloftelappoppe het Schlebusch die oumas ook van nuwe voorraad voorsien.

Hierdie projek het nie net ’n kreatiewe werksomgewing geskep nie, maar ook drie niewinsgewende organisasies saam laat hande vat. Die FAK is ’n Afrikaanse kultuurorganisasie sonder winsbejag, die Blommefonds bied verblyf aan behoeftige bejaardes en Eleos ondersteun minderbevoorregte gesinne in die weste van Pretoria deur hulle te bemagtig met vaardigheidsprogramme.

Buiten die oumas by die Blommefonds se Union Park-woonstelle in Arcadia, Pretoria, wat die poppe aanmekaargesit het, maak nog ’n ouma, Vironica Roos, die poppe se rokkies, broekies en kappies sodat sy na haar kleinkinders kan omsien. ’n Mamma, Grizelda Snyders, sny die poppe uit lap, werk hulle aanmekaar en werk ook hul wolhare vas sodat sy weer met die ekstra inkomste voedsame kos vir haar vierjarige dogtertjie kan koop.

Bestel vandag jou stukkie “onthou” teen R280,00. Prys sluit koerier uit. As jy as vriend by die FAK aansluit, kan jy gratis ’n Geloftepop kry.

Jy kan ook die Blommefonds help deur ’n skenking van R15 per SMS met die woord “Support” na 49040 te stuur sodat hulle die bejaardes waarna hulle omsien, kan help. Meer inligting is beskikbaar op die Blommefonds se webwerf.

Vir navrae stuur ’n e-pos aan Marianda Schlebush by [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Trotse Boervrou

Trane in my oë. SO TROTS. Baie dankie.

Elsabe

Vroeg op hierdie Sondag-oggend kom lees en beleef ek hierdie lappop-projek en word so weemoedig oor die snak-asempie van die klein dogtertjie oor haar eie stukkie besitting – haar prinses lappop. Moontlik haar enigste stukkie speelding terwyl soveel kinders meer het as wat hul kan behartig. Ek wens die skenker uit Swede, waaruit hierdie al groter wordende liefdes-gebaar gebore is, ongekende seen vanaf ons Vader.