Te midde van een van die ergste droogtes in Suid-Afrika wink daar ’n stukkie hoop wat nie net aan inwoners van die Noord-Kaap hoop bring nie, maar vir vroue oor die hele land.
Dié hoop kom voor in die vorm van ’n boks. Diane Steenkamp van Ceres noem dit die Hartsboksieprojek, terwyl Marietjie van Biljon van Kaapstad dit die Boervrou Bederfboks gedoop het. Beide dié inisiatiewe het een doel voor oë: om ’n persoonlike geskenkpakkie aan ’n boervrou in ’n droogtegeteisterde gebied te bring.
Die Hartsboksieprojek wat deur Steenkamp en haar span, Christene Conradie en Elreze Pohl, gedryf word, is vroeg Augustus vanjaar spontaan begin ná Steenkamp ’n koerantberig van Johan van Wyk in Die Burger gelees het.
Daar is aanvanklik bokse vir 30 vroue verpak, maar verwagtinge is gou oortref toe 1 500 gevulde bokse, waarvan 1 200 reeds aan vroue uitgedeel is, ingesamel is. Teen November hoop hulle om ’n totaal van 2 000 geskenkboksies aan verskeie dorpies te kan gee. Dit sluit gebiede soos Pofadder, Calvinia, Middelpos, Nuwerus en Loeriesfontein in. Ook Sutherland, Springbok, Gharries, Boesmanland en Koringhuis kan binnekort hulle geskenkbokse te wagte wees.
’n Soortgelyke inisiatief, genoem die Boervrou Bederfboks-projek, wat in Kaapstad deur Marietjie van Biljon en Suzanne Meyer-Nell byna ’n week gelede van stapel gestuur is, hoop om, soos Van Biljon dit stel: “Vroue aan die boks te kry. Ons doel is om teen einde Oktober 100 boervroue in die Loxton-omgewing – en hopelik die wyer wyke ook – met unieke bederfbokse te verras.”
Waar dié idee sy oorsprong vandaan het, kan baie spekuleer, maar wat seker is, is dat dié projek vroue landwyd aan die beweeg het. Vanaf Upington, Vryburg, Paarl, Pretoria, Kaapstad, Ceres, Somerset-Wes, plekke in die Oos-Kaap en Vrystaat – noem maar op, oral word daar geboks!
Van Biljon sê grappenderwys dat wanneer vroue saamstaan, hulle nie sommer “omgeboks” kan word nie.
Dit is die hart in dié inisiatiewe, die Hartsboksie- en Boervrou Bederfboksprojek, wat egter die verskil meebring. Steenkamp meen dat Karoomense wil kan antwoord. Elke boks bevat ’n brief wat deur Elreze Pohl geskryf is, waarop die skenker haar naam en kontakbesonderhede bysit. Vroue kan selfs hul eie brief van bemoediging skryf.
“Uit so ’n brief kan daar ’n band tussen vroue groei. Soos net vroue kan omgee” sê Van Biljon.
Op die vraag hoekom dié luuksheid en nie eerder voer koop vir die diere nie, antwoord Van Biljon: “As jy nie die vroue in stand gaan hou nie, het jy nie ’n fondasie nie. Vroue is die planmakers. Wanneer die kinders se tekkies kleiner raak of ’n matriekafskeidsrok gereël moet word, maak die vroue plan.”
Dit is dan juis ook hierdie gee en gee waar vroue in droogtegeteisterde gebiede hul eie behoeftes eenkant sit.
Daarom bevat so bederfboks basiese goed soos, onder meer, ’n kleurvolle serp, ’n pen en notaboekie, ’n tydskrif, hande- en lyfroom, seep, koffie en/of tee, gedroogte vrugte en die jongste toevoegsel, Weetbix. Steenkamp verduidelik dat sy voel die hartklop van ’n plaas begin by die vrou. Dit is dan ook die rede agter die serp binne elke boks, want ’n serp was voorheen om, of op, die skenker se hart gevou.
“Die vriendskappe wat reeds gevorm is, is ongelooflik”.
Nadat Van Biljon en Steenkamp kontak gemaak en wenke begin uitruil het, noem Steenkamp dat hulle die volgende dag Carnarvon toe gaan. Van Biljon sê haar suster, Trudie Human, boer in daardie distrik. Ná ’n gesoek sien Steenkamp daar is ’n boks met Trudie se naam op. Hulle albei huil oor die foon. Van Biljon sê hulle troos mekaar asof hulle mekaar al jare ken.
Trudie het haar Hartsboksie saam met medeboervroue tydens ’n VLV-vergadering ontvang. Die brief van Trudie aan Steenkamp, nadat sy haar boks oopgemaak het:
Engel Diane
Gister ontvang ek ’n bederfboks gepak met liefde uit jou hand. Ek bêre dit tot vandag, want ek wil stil wees, rustig wees, ontvanklik wees vir álles wat hierdie boks inhou en uitstraal. Van die oomblik wat ek dit oopmaak, voel ek liefde, omgee, ’n band wat die Heilige Gees tussen ons vasbind. Dit gaan moeilik, party dae is jou vlees en gees stukkend gewaai saam met die stof en die westewind. Ander dae sweef jy soos ’n arend. Maar een ding wat die droogte ons leer is die wonder van God se werk deur sy kinders. Wow! Ons buig laag in Sý teenwoordigheid. Vir alles wat jy in hierdie boks gepak het, sê ek dankie. Ek beskou hierdie Gift en Gebaar as ’n pay it forward en sal dit aangee as die opdrag kom. Baie seën en liefde. Trudie Human. Rosenhof, Carnarvon.
- Indien jy ook ’n boks wil stuur, donasie wil gee of net ’n woord van bemoediging aan ’n medevrou wil oordra, kontak: Diane Steenkamp by [email protected] of 084 247 2513; Marietjie van Biljon by 082 808 2256; Suzanne Meyer-Nell by 082 926 7383.
Ag man…tjank ek nou. Eks in. Gaan ook ‘n boks stuur vir ‘n spesiale vrou. Maak nie saak vir wie nie……..hulle is ALMAL spesiaal. Die fondasie van elke huis.
Ons het in Vryburg ons Boks vol Hoop. En die reaksie, bokse, nog meer en nog groter bokse, van hardebaard mans wat my bel en sê hulle pak ook bokse vol Hoop, van die oom wat sy vrou se boks help oopmaak en o.a die string pêrels kry, vir haar aansit..,,, want sy ouvrou verjaar daai selfde dag…,Ons boks vol Hoop, word gesinsbokse, bokse vir tieners, koshuiskinders, babas, ouma in ouetehuis en elke Boks vol Hoop word by my afgegee met presies dieselfde storie:”Esther weet jy hoe baie het die pak vd boks vir my, my gesin, my man, my huwelik, my gees beteken”. Elke boks vol hoop is gevul met trane van omgee. Ek salueer Noordwes en Vryburg se omgee vroue, mans en kinders. Super dankbaar EN super trots op my mense!!!