’n Roos vir Manie Jackson

Manie Jackson het sy eie roos, en boonop is sy roos een sonder enige dorings. (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)

Die sanger Manie Jackson is een van die talle Suid-Afrikaanse bekendes wat kan spog dat ʼn unieke roos na hulle vernoem is, en boonop is sy roos een sonder enige dorings.

Dié roos, met sy besonderse pienk kleur, is Saterdag tydens Ludwig Rose se jaarlikse roosfees amptelik gedoop en aan die publiek bekendgestel.

“Dit is als te danke aan my vrou, Christel, wat saam met Ludwig Taschner en sy span gewerk het om hierdie besonderse roos te laat kweek,” het Jackson tydens die bekendstelling van die roos gesê.

Die “Dorings vir ma”-sanger het met die bekendstelling hulde aan sy ma, Ina, gebring wat binnekort haar 73ste verjaardag vier. Sy is ook die skrywer van Jackson se gewilde treffer se lirieke, terwyl Dennis East die musiek geskryf het en die produksie van “Dorings vir ma” behartig het.

Ludwig Rose skop elke jaar Oktobermaand met ʼn roosfees af en vanjaar se fees duur tot 10 Oktober.

Dit is hier waar Pretoria se koning van rose sy jongste rose bekendstel en dikwels ook ʼn bekende vereer deur ʼn roos na hulle te vernoem.

Die eer het al mense soos Thuli Madonsela, Elize Cawood, Christa Steyn en Cora Marie te beurt geval en Maroela Media het self ook ʼn roos wat na die grootste Afrikaanse liedjie van alle tye, “Kinders van die wind”, vernoem is.

Die Manie Jackson-roos het ferm blomblare met ʼn interessante tweekleur-mengsel van donker pienk en wit. (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)

Die Manie Jackson-roos is reeds van 2019 af beskikbaar, maar Covid-19 se inperkingsmaatreëls het telkens die bekendstelling van die roos gepootjie.

Taschner het gesê die Manie Jackson-roos het ferm blomblare met ʼn interessante tweekleur-mengsel van donker pienk en wit. Die roos groei tot ʼn sterk digte bos van middelslag hoogte. Dié roos sal goed vertoon as dit in groepe geplant word, maar sal net so gemaklik in ʼn pot aard.

“Dit is wonderlik om te kan sê die roos het geen stekels nie. Ja, ʼn doringboom het dorings, maar ʼn roos het eintlik stekels,” het Taschner verduidelik.

Ludwig Rose se roosplaas is in Maart 1971 begin waar Taschner hom gevestig het as ʼn pionier in die kweek van rose in houers. Voorheen kon rose slegs in die winter gekoop word as gesnoeide, kaalwortelplante. Taschner het die rooswêreld vir ewig  verander en met sy kundigheid kon Suid-Afrikaanse tuiniers rose reg deur die jaar kies en aanplant volgens hulle blomme, geur en groeiwyse.

“Dit is vir my ʼn groot eer om deel te wees van Taschner se 50-jaar‑vieringe en net so ʼn groot eer om 40 jaar na groot musiekgeeste soos Cora Marie en 25 jaar na Bles Bridges ook ʼn roos na my vernoem te hê,” het Jackson gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Petra ·

Dis ‘n pragtige roos ♥ Baie geluk Manie, Christel en jou Ma Ina.

Linda ·

Daai roos het erg kompitisie met daai ketting om sy arm en knuckle duster ring . Whow!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.