’n Seeperdjie so groot soos ’n ryskorrel

‘n Jong Hippocampus nalu. (Foto: Richard Smith/The Conversation)

Deur Susan Maré

Die dwergseeperdjie van slegs 15 mm lank wat in 2018 deur navorsers in Suidoos‑Japan ontdek is, is met die grootte van ʼn ryskorrel vergelyk. Die Hippocampus japapigu (“Japan pig”) is gevind toe navorsers die seelewe sowat 287 km suid van Tokio verken het. Hippocampus is die Griekse woord vir “geboë perd”.

Twee jaar later het ʼn Suid-Afrikaanse duikinstrukteur ʼn dwergseeperdjie van 22 mm in die sanderige koraalrif in Sodwanabaai in Suid-Afrika ontdek. Dié seeperdjie is volgens die webblad Africa Geographic die eerste van sy soort in Afrika en heet Hippocampus nalu, vernoem na die duikinstrukteur Savannah Nalu Olivier.

Knysna-seeperdjies (Hippocampus capensis) was in September 2018 in die nuus toe swaar reën lewende perdjies op die hoë deinings van strande in Plettenbergbaai aan die Suid‑Kaap uitgespoel het. Dié seeperdjies kom hoofsaaklik in die Knysna-strandmeer voor en in kleiner getalle in die Keurboomsrivier naby Plettenbergbaai en Swartvlei naby Sedgefield. Mense is gevra om die lewende seeperdjies in die Keurboomsrivier vry te laat en so min as moontlik te hanteer. Die Knysna-seeperdjie is op die Wêreldbewaringsunie (IUCN) se lys van die mees bedreigde spesies ter wêreld. Dit is die enigste soort seeperdjie ter wêreld wat in riviermondings voorkom.

Van waar, Gehasi?

‘n Volwasse Hippocampus nalu. (Foto: Richard Smith)

Fossiele van uitgestorwe spesies van ongeveer 13 miljoen jaar oud en uit die Middelmioseen-tyd is in die Tunjice-heuwels in Slowenië gevind.

Seeperdjies kom voor in die vlak water (1,2-1,7 m) soos in die iSimangaliso-vleilandpark by Sodwana. Hulle behoort tot die Synqnathidae-familie (pypvisse, pypperde, seedrake) en volwassenes van die dwergspesies is tussen 18,9 mm tot 22 mm lank. Sewe nuwe dwergseeperdjies is die afgelope 20 jaar ontdek.

Swem is nie eintlik hul forte

‘n Seeperdjie wat aan ‘n seegrassstingel geanker is. (Foto: Hans Hilewaert)

As een van die skepping se natuurwonders het menigeen al met ongeloof voor die glasbak waarin seeperdjies in akwariums vertoon word, gestaan. Die regopswemmende perdjie wat nooit ʼn Olimpiese swemspan gaan haal nie, word deur ʼn klein vin op die rug aangedryf wat glo van 35 tot 75 keer per sekonde wapper. Twee stuurvinne aan die agterkop help om hulle rigting te bepaal. Om roofdiere te systap, verander hulle soos blits van kleur.

Die perdjie het ʼn benerige, pantseragtige voorkoms en ’n buisagtige snoet. Aan die einde van die snoet is ʼn bek wat graag plankton en vislarwes opslurp. Hulle is getooi in kaleidoskopiese kleure en kan hulself meesterlik kamoefleer. Oë wat onafhanklik funksioneer, help ʼn seeperdjie om sy prooi en gevare van alle kante raak te sien. Hulle eetlus is abnormaal – ʼn mens kan sê hulle eet om te leef. Nee, hulle word nie 969 jaar oud soos ʼn Metusalem nie – hul lewensduur is ʼn beskeie een tot vier jaar.

Om lewendig in die water te bly beskik perdjies oor “swemblase” en haal deur kieue asem.

Hierdie skubloses meer hulself soms in aalgras, seewiere en ander plante vas deur hul sterte om ’n stut te krul. Vierkantig- gesegmenteerde sterte sorg vir ʼn ekstra sterk vashougreep. Warm seewater is hul voorkeur en hulle is altyd op die uitkyk vir ʼn lewe in ravyne waar sterk strome en seegras is.

Een egpaar vir lank of vir altyd

Seeperdjieduet. (Foto: Richard Smith)

Die verantwoordelikheid van ouerskap rus vierkant op die skouers van die mannetjie. Mevrou Seeperdjie plaas 100 of meer eiers in ʼn sakkie op die buik van haar man. Mnr. Seeperd se werk is om sperm in die sakkie te los vir bevrugting en hierna ontwikkel embrio’s in die sak, gevoed deur individuele dooiersakke. Die swangerskap kan glo dae duur en by lewendige geboorte is van die perdjies so klein as een millimeter. Die pa sal ongelukkig nie huiwer om van die pasgebore kinders te begin verorber om sy ewigdurende honger te stil nie. Die egpaar leef lewenslank monogaam en is glo romanties en erg oor mekaar. Soggens neem hulle aan rituele danse deel om met mekaar te kommunikeer. Hulle is lief vir die liefde.

Nou nie juis ʼn lekker voorgereg nie

Hoewel krapdiere graag seeperdjies eet, seker ook maar net omdat eet éét en ʼn nodigheid is, is daar min seepredatore wat in sulke voorgereggies sal belangstel. Niemand is juis lus vir so ʼn taai, benerige vissie nie. Benerig en pantseragtig gaan seeperdjies ook nie die spyskaart van ʼn fynproewersrestaurant haal nie, al is hul self karnivore wat eet sonder ophou. Die buissnoete werk oortyd om hulle voorkeurkos in te slurp. Hulle vinnige spysverteringstelsel laat hulle onophoudelik eet om aan die lewe te bly.

Besoedeling van see knou seeperdjies

‘n Seeperdjie aan ‘n plastiek oorstokkie geanker in seebesoedeling by Indonesië. (Foto: Justin Hofman)

Ongelukkig is die besoedeling van die see deesdae hul groot gevaar. Na raming kom meer as 8 miljoen ton plastiek die oseane jaarliks binne. Omdat plastiek biologies nie afbreekbaar is nie, bly dit onbepaald in die see, versprei en vergiftig mariene ekostelsels reg oor die wêreld. Elke vierkante kilometer van die see het afvalplastiek. Hierdie besoedeling beïnvloed die totale seelewe – van seeperdjies tot walvisse.

Wyshede wat ons van seeperdjies leer

Vind jou vreugde in die klein dingetjies van die lewe. Wees gelukkig in die water of daar waar jy woon. Geniet jou lewensmaat en wees getrou. Wees goed geanker in die lewe en moenie toelaat dat iets of iemand jou ontanker nie. Moet nooit ʼn gegewe perd in die bek kyk nie en moenie die kar voor die perdjie span nie. Moet ook nooit ʼn verkeerde perd opsaal nie.

Wees altyd net jouself – spesiaal soos ʼn perd van ʼn ander kleur, selfs al is jy ʼn visspesie so groot soos ʼn ryskorrel.

Vierkantige stertsegmente. (Foto: Chris Smith)

  • Die berig is gewysig sedert dit aanvanklik gepubliseer is. – RED

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Daleen ·

perdjies so klein as een sentimeter ……….. moet dit nie dalk een millimeter wees nie…. want ‘n ryskorrel is nie eens een sentimeter nie…. hoe dan nou die babas?? — Groete. BAIE MOOI STORIE.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.