’n Sonboord in die Ceresvallei

Ian Versfeld en sy seun Luke. (Foto: Verskaf)

In die Ceresvallei word daar nou nie net meer met graan en vrugte geboer nie, maar sommer ook met die energie van die son. Ian Versfeld het ʼn 630 sonpanele laat installeer, wat sy vrugteboorde, plaaswerkers en die munisipaliteit van elektrisiteit voorsien.

Versfeld wat aan die stuur van El Cuesta Farming staan, het in die omgewing grootgeword en is sedert 2010 die eienaar van die Vadersgawe. Die plaas wat aanvanklik net gebruik is vir die verbouing van koring, het egter wonderlike potensiaal as vrugteplaas gehad en Versfeld en sy span het geleidelik begin om al hoe meer vrugtebome te plant. Daar is tans 60 hektaar vrugtebome op die plaas en die langtermynbeplanning is om tot 90 hektaar uit te brei.

Enige vrugteboer sal weet hoe belangrik elektrisiteit in die suksesvolle verbouing van vrugte is. Die meeste vrugteboere is afhanklik van besproeiing en om te besproei, het jy elektrisiteit vir die pompe nodig. Elektrisiteitsverskaffing is iets wat toenemend onder druk is in Suid-Afrika. Aangesien die plaas afhanklik is van elektrisiteit wat deur die Witzenberg Plaaslike Munisipaliteit verskaf word, het Versfeld besluit om te kyk na goedkoper alternatiewe. Met die baie sonskyn in die vallei, was die logiese volgende stap om sonkrag te oorweeg. Sonenergie, ook genoem fotovoltaïese energie, word deur middel van fotovoltaïese selle of sonpanele in elektrisiteit omgeskakel. Hy het ʼn maatskappy, New Southern Energy genader oor die moontlikheid van sonpanele om die elektrisiteit op die plaas aan te vul om sodoende kostes te bespaar.

‘n Lugfoto van die plaas se sonpanele. (Foto: Verskaf)

Deesdae plaas Vadersgawe se sonboord tussen 15 en 20 persent elektrisiteit terug in die plaaslike elektrisiteitsvoorsieningstelsel.

“Ons het ʼn terrein op die plaas gekies met swakker grond waar dit minder geskik is om vrugte te plant, en ons het die sonpanele daar opgerig. Ek noem dit sommer my sonboord wat tussen die vrugteboorde lê. Dit is hier waar ek dan elke dag van sonenergie elektrisiteit kan opwek om te oes.”

Die volgende uitdaging was om toestemming van die Witzenberg-munisipaliteit te kry.

“Hulle het reguit gesê dat dit ʼn taai toffie vir hulle is, omdat hulle inkomste gaan verloor indien ons ons eie elektrisiteit gaan opwek. Uiteindelik het ons hulle oortuig met die voorwaarde dat 15% van die kapasiteit wat ons opwek, teruggeplaas sal word in die munisipaliteit se kragnetwerk (grid). Ons is nou al op ʼn punt waar ons tussen 15 en 20 persent verniet vir die munisipaliteit lewer en ek sien dit as ʼn goeie voorbeeld van waar die een hand die ander was en waar dit tot almal se voordeel strek,” sê Versfeld.

Die sonkragstelsel wat deur New Southern Energy op Versfeld se plaas geïnstalleer is, bevat 630 sonpanele van 360 W elk en kan jaarliks 376 882 kWh produseer.

David Masureik, die uitvoerende hoof van New Southern Energy, is vol lof vir die besluit van Versfeld om sonkrag in te span.

“In Suid-Afrika dink mense nog nie naastenby genoeg aan sonenergie nie. Dit lyk tog asof daar stadigaan ʼn ommekeer is en al hoe meer mense sien die voordele van sonenergie raak – ongelukkig nog nie vinnig genoeg nie. Die grootste uitdaging met die sonenergiestelsel wat ons op Vadersgawe geïnstalleer het, was om die nodige toestemming te kry. Die installering self het net twee maande geduur, maar die goedkeuring ʼn hele paar maande.”

Vele voordele aan die sonkragstelsel

Ian noem dit sommer sy sonboord wat tussen die vrugteboorde van die plaas Vadersgawe lê. (Foto: Verskaf)

Masureik sê die sukses van die projek lê op vele vlakke. Eerstens is dit ʼn groot kostebesparing vir die kliënt aangesien die koste van die energie baie minder is. Dit beteken die insetkoste van die landboubedrywighede is laer en die wins, daarom groter. Die kwaliteit van energie wat aan die netwerk gelewer word, is ook baie beter en skoner. Daar was in die verlede baie fluktuasies ten opsigte van elektrisiteitsvoorsiening in die area, soos elders in Suid-Afrika, en dit is nie altyd goed vir die toerusting wat op die plaas gebruik word nie. Die derde voordeel hiervan is dat daar baie addisionele elektrisiteit aan die groter kragnetwerk verleen word. Hierdie netwerk verskaf elektrisiteit aan Ceres. Die hele gemeenskap baat dus op ʼn manier by die sonplasie op Vadersgawe.

“Ons is geweldig tevrede met die projek en reeds in die eerste maand wat die sonboord aangeskakel is, kon ons die resultate sien. Hier by ons betaal ons nagenoeg R2 per eenheid, dit is bietjie duurder as Eskom se tarief, maar ons kan die krag maak vir 50 tot 55 sent per eenheid met behulp van die sonpanele. My kragrekening van die munisipaliteit is met 60% gesny,” sê Versfeld.

Hy vertel die werkers wat op die plaas bly, ook grootliks hierby baat. In die verlede moes hulle ook hul elektrisiteit aankoop teen die bedrag waarteen dit aangeknoop word met ʼn klein bietjie afslag. Versfeld het egter ʼn ooreenkoms met sy werkers aangegaan: Indien hulle toesien dat niemand met die sonpanele peuter of dit wegdra nie, sal hy die energie aan hulle verkoop vir 10c per eenheid. Die meeste werkers kom nou met R100 of R200 se krag in ʼn maand klaar wat baie meer geld in hul sak beteken.

Van die vrugte uit Vadersgawe se boorde word na die VK en Europa uitgevoer. (Foto: Verskaf)

“ʼn Groot deel van ons vrugteoes word deur Delecta Fruit na die buiteland uitgevoer waar dit in supermarkte in die Verenigde Koninkryk en Europa verkoop word,” vertel Versfeld.

“Vir die oorsese mense is die omgewingsimpak van jou produk baie belangrik. Die feit dat ons nou grootliks van sonenergie gebruikmaak om die oes gereed te kry, sowel as die verpakkingsproses af te handel, tel baie in ons guns. Ons is self baie bewus van ons koolstofvoetspoor en is baie tevrede dat ons dit op hierdie manier kan verklein. Danksy ons sonboord wat aan ons en die mense van die Ceresvallei energie verskaf, maak ons beslis ʼn positiewe bydrae.”

Waarom werk die sonboord so effektief?

Versfeld verduidelik dat ʼn mens volgens landswette steeds jou sonpanele moet koppel aan die elektrisiteitsnetwerk. Wanneer daar dan beurtkrag voorkom, skakel die kragopwekkers aan wat die waterpompe sal laat loop. Die kragopwekker se revolusies word afgebring sodat dit net staan en luier en effektief word die son se krag dan gebruik om die pompe te laat loop. Op daardie manier kan die boerdery voortgaan ten spyte van beurtkrag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Boerkind ·

Uitstekend! Hoop maar die vandale bly weg… Dit is eronies dat daar soveel rompslomp is wanneer (die geplunderde) Eskom nie die mas opkom nie?? Hier waar ons soveel sonskyn per dag het, behoort ‘n verstandige munisipaliteit en regering mos die geleentheid aan te gryp om ons kwynende energiebron te ondersteun. Hoop die stelsel steek ander boere ook aan!

Frank ·

Ek verstaan nie. Anders as in die buiteland, MAG ons nie elektrisiteit terug aan die netwerk verkoop nie?? Daars mos nou al ‘n jarelange geveg aan die gang daaroor? Sover ek verstaan staan Eskom dit self teen?? Is ek verkeerd?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.