ʼn Spesialis se gratis geskenk aan baba

Levantro van der Merwe van Pretoria voor en ná sy operasie om die drukking op sy brein te verlig. Hy is gebore met hidrokefalie. Foto: Verskaf

ʼn Baba van Pretoria kon sy eerste Kersfees sonder ongemak geniet danksy ʼn neurochirurg wat tot sy redding gekom en hom van sy lyding verlig het.

Yolande van der Merwe vertel haar kleinseun Levantro is in Januarie die jaar met hidrokefalie gebore. “Dat hy deurgetrek het, was klaar ʼn wonderwerk,” vertel sy.

Hidrokefalie is ʼn toestand waar serebrospinale vloeistof opbou in die ventrikels (harsingkamers) van die brein. Dié vloeistof omring die brein en die spinale koord. Wanneer die sirkulêre pad van die vloeistof blokkeer word, begin die ventrikels vergroot en druk bou in die brein op.

Levantro van der Merwe en sy ma, Chinue. Nadat ʼn neurochirurg van Pretoria gratis op hom geopereer het om die druk op sy brein te verlig, is dié knapie sommer baie beter. Hy is met hidrokefalie gebore. Foto: Verskaf.

Sy vertel die ginekoloog wat haar dogter, Chinue, behandel het, het niks vooraf gesien nie, net met die laaste besoek voor die geboorte opgemerk die fetus het ʼn groter kop.

Levantro is met ʼn noodkeisersnee in ʼn staatshospitaal gebore. ʼn Dag later het hulle “die vreeslike nuus aan ons gegee”. Hy was die eerste drie maande in die hospitaal en 11 dae ná sy geboorte het hy die eerste operasie ondergaan.

Daarna het nog twee onsuksesvolle operasies gevolg en Levantro het ernstig siek geraak. Hy was in en uit die hospitaal, veral met infeksies.

ʼn Algemene behandeling vir hidrokefalie is ʼn ventrikulêre-peritoneale-omleiding, in Engels kortliks ʼn “shunt”. Die omleiding dreineer die serebrospinale vloeistof uit die ventrikels in die brein. Dit word gedoen deur ʼn buis in ʼn ventrikel in die brein te plaas, wat dit na die abdomen omlei. ʼn Klep keer dat die vloeistof in die verkeerde rigting vloei en sorg ook dat die vloeistof net dreineer wanneer die druk te hoog is.

Yolande van der Merwe en haar kleinseun, Levantro, nadat hy uiteindelik ʼn suksesvolle operasie ondergaan het om die drukking op sy brein te verlig. Hy is gebore met hidrokefalie. Foto: Verskaf.

Van der Merwe sê ná die drie onsuksesvolle operasies in die staatshospitaal was hulle so raadop dat hulle besluit het om ʼn prokureur te gaan sien.

In dié tyd was Levantro ongemaklik en huilerig. “Ek kon sien hy het pyn gehad en nie lekker gevoel nie,” vertel sy ma.

Die prokureur het hulle vertel van ʼn neurochirurg wat dalk kon help. En hy het. Hy het gratis op Levantro geopereer en hulle het geld ingesamel om die hospitaal te betaal. Die dag nadat hulle hom gebel het, het hy die bal aan die rol gesit om Levantro te help.

“Voor die operasie het hy nie regtig sy mylpale behaal nie, maar nou haal hy stadig maar seker in. Hy is ʼn soet seuntjie en raak elke dag ouliker,” vertel ma Chinue. Hy vier in Januarie sy eerste verjaardag.

“Daar was baie emosies. Ek was so verlig dat hy ons gehelp het. Só verlig,” sê sy.

  • Die dokter wat die operasie gedoen het, se naam word weerhou omdat hy nie vir kommentaar beskikbaar is nie. Hy is tans self ernstig siek en in ʼn hospitaal se intensiewesorgeenheid.
  • Elsabé Brits is ʼn vryskut wetenskapjoernalis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.