ʼn Storie van hoop   

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

As maatskaplike werker kry ek daagliks te doen met die beproewinge van mense en staan ek voor stories oor pyn, hartseer, verlies, onsekerheid en mense wat hopeloos sonder enige oplossing voor uitdagings staan. Die lewe het die wind uit hierdie mense se seile kom slaan.

So ʼn geval is dié van ʼn 17-jarige seun wat my pad gekruis het deur middel van ʼn aansoek vir hulp om sy koshuisgeld te betaal. Tydens die assesseringsproses het ek hierdie kind se storie leer ken. Sy storie is ʼn hartseer verhaal wat begin met die verlies aan sy biologiese moeder en daarna die afwesigheid van sy biologiese pa. ʼn Dubbele verlies.

Hy het ʼn ondersteuningstelsel gehad en is opgeneem in die maatskaplike sisteem, maar toegang tot die skool op die dorp waar hy woon, was beperk en daarom sou dit beter vir hom wees om in die skool se koshuis te woon. Hy is egter sonder enige finansiële ondersteuning gelaat.

Die Bemagtig ʼn Kind-inisiatief in samewerking met die Solidariteit Helpende Hand Vrystaat Streek het vir hierdie kind die geleentheid gebied om in die skool se koshuis te woon terwyl hy sy skoolloopbaan kan voltooi. ʼn Ligpunt in sy omstandighede wat eens so donker en hopeloos gelyk het. ʼn Keerpunt in sy lewe, ʼn kans om op ʼn nuwe pad te stap, om te herstel en te groei.

ʼn Merkwaardige verbetering is in hierdie seun se akademiese vordering opgemerk sedert hy deur hierdie inisiatief ondersteun word. Dit wys dat wanneer ʼn kind die nodige ondersteuning ontvang, selfs wanneer hy uit die moeilikste omstandighede kom, hy kan floreer en sy volle potensiaal bereik.

student-seun-janeb13-pixabay.jpg

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: janeb13/pixabay.com) 

Hierdie 17-jarige seun se lewensverhaal is vir my ʼn herinnering dat daar vir ons almal altyd hoop is, selfs wanneer dinge donker lyk. Die Bemagtig ʼn Kind-projek laat my opnuut glo in die krag van bemagtiging en om te strewe na ʼn wêreld waar elke kind die geleentheid gebied word om sy of haar volle potensiaal te bereik en voorspoedig te kan leef, ten spyte van die omstandighede waaruit hy of sy kom. Hierdie projek help bou en ontwikkel aan die kosbaarste bron van Suid-Afrika – sy kinders.

Die ware krag van hierdie verhaal lê nie net in die finansiële ondersteuning wat gebied is nie, maar ook in die betrokkenheid van die publiek wat as vrywilligers hulle tyd gee, skenkings maak aan die Ons Winkels, aankope by die Ons Winkels en ʼn maandelikse bydrae of eenmalige donasies.

Kinders is ʼn kwesbare groep in ons samelewing wat nie kies in watter huis of omstandighede hulle grootword nie. Jou bydrae kan help om vir ʼn kind ʼn brug te bou tussen sy of haar omstandighede en ʼn beter toekoms. Om ʼn tweede kans te gee. Om ʼn storie van hoop en oorwinning te kan vertel en om ʼn ligstraal en ʼn bron van hoop te wees in die gemeenskap. Die krag van ʼn gemeenskap word gesien in die saamstaan, saamwerk en opstaan, en die impak van die bydrae tot ʼn kind se toekoms strek verder as die skool se hekke waardeur daardie kind stap.

Om meer te lees of om deel te wees van hierdie projek besoek gerus www.bemagtignkind.co.za.

Chantell van Wijk – Maatskaplike Werker Vrystaat Streek, Solidariteit Helpende Hand

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.