’n Strategie om armoede die nekslag toe te dien

Argieffoto.

Deur dr. René Hattingh-Rust

Ons het reeds in die tweede artikel van hierdie reeks gekyk na die gevolge van ’n geestelike ontwaking in die vroeë Suid-Afrikaanse geskiedenis. Met dit in gedagte en die konteks van ons huidige armoede (deel 1 van 3), asook wat die Afrikaner voorheen gedoen het om uit diep armoede te kom, wat nie ten volle bespreek is nie, het ons reeds ’n paar rigtingwysers om mee te werk.

Waar sal die fokuspunte van ’n armoedeverligtingsplan wees?

Ons kan begin met ’n plan wat hoofsaaklik ’n selfhelpveldtog vir elke geestelike leier en groep sal wees, maar ons moet geen groep aan sy eie lot oorlaat nie. Ons moet betrokke bly met samewerking, ondersteuning en motivering, want te veel is op die spel. ’n Selfhelpveldtog is ook ’n aktiewe alternatief vir ’n ideologie van ’n staat wat sogenaamd vir mense sorg en vir hulle ’n utopie belowe in ruil vir die opsê van persoonlike regte en verantwoordelikhede. Die Instituut vir Rasseverhoudings is van mening dat korrupsie en rassespanning veroorsaak dat ons uit die oog verloor dat daar in Suid-Afrika ’n groter plan aan die ontvou is, naamlik ’n doelbewuste druk na ’n kommunistiese stelsel. Lees ‘n artikel oor die aard van pres. Cyril Ramaphosa se ‘nuwe daeraad’ en die SAKP se kaping van die Suid-Afrikaanse demokrasie op die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhouding se webwerf The Daily Friend.

Groepe moet bemagtig word om entrepreneurs te ontdek en te ondersteun, want om alleen as entrepreneur ’n sukses te maak, is baie moeilik. As ’n groep egter saam daaroor praat, bid, droom en beplan, kan dit baie bydra tot die entrepreneur se sukses. Saampraat kan ook help om hulpbronne, kennis en samewerkingsmoontlikhede te ontsluit en om motivering en dissipline te bied. Entrepreneurs is ’n boublok vir ’n vryemarkstelsel en persoonlike vryheid.

Ons moet ’n nasionale werkkultuur ontwikkel, wat gunstig vir persoonlike verantwoordelikheid en ekonomiese groei is. Die politieke joernalis Jan-Jan Joubert noem dat die hoofstroomvakbonde in Suid-Afrika ten doel het om so min as moontlik te bied vir soveel as moontlik en dat hulle nie in pas is met internasionale vakbonde wat produktiwiteit ook insluit in hul onderhandelinge nie.

Vaardigheidstekorte in eie geledere moet geïdentifiseer word en gesamentlike oplossings daarvoor gekry word.

Die familiestrukture moet versterk en ondersteun word. Andrew Murray het in ’n brief aan sy vrou in Maart 1860 geskryf dat hy aangegryp is deur die vers “Elkeen wat so ‘n kindjie in my Naam ontvang, ontvang My; en elkeen wat My ontvang, ontvang nie net vir My nie, maar ook vir Hom wat My gestuur het.”

Hy was van mening dat as ons dit reg verstaan, dit groot gevolge mag inhou. Dit mag wees dat die kindertoelae onbewustelik en onbepland die persepsie van kinders uitgekalwer het.

Die groepe moet ook bemagtig word om krities te dink oor hoe om onderwystekorte in te haal. Die 1939-Afrikaner se ekonomiese bemagtiging het sterk gesteun op die filosofie van bemagtiging deur middel van onderwys (liberation through education).

Emeritus Professor J.L. Sadie, van Universiteit Stellenbosch se department van ekonomie, noem dat in die Afrikaner se dringendheid vir onderwys het hy soms die fout gemaak om meer te fokus op “sagte” akademiese opsies, soos ’n algemene BA-graad terwyl wiskunde en natuurwetenskap, verkieslik vermy is. Hy meen verder dat die Afrikaner ook bevooroordeeld teenoor tegniese- en beroepsopleiding was. Ten spyte van hierdie tekorte, argumenteer hy dat hierdie strewe van die Afrikaner na opleiding hom steeds tot ekonomiese voordeel gestrek het.

Huidige onderwysdenke is beïnvloed deur die 1976-opstand se slagspreuk, naamlik “Eers vryheid, dan onderwys” (Liberation Before Education). As die gehalte van onderwys in ons land in ag geneem word, mag dit wees dat hierdie slagspreuk steeds ondermynend is. Volgens Mcebisi Jonas, voormalige minister van finansies, is onderwys Suid-Afrika se grootste verleentheid en statistieke toon dat dit steeds versleg.

Oplossings moet geskep word om kleuters te help om skoolgereed te wees. Leerders moet ondersteun word met strukture en fasiliteite wat studiehulp bied. Baie kinders het nie eens ’n lessenaar of iemand wat met moeilike huiswerk by die huis kan help nie.

Die armoedeverligtingsplan kan saamgevat word in die voorstelling ’n hand. Die palm van die hand is grootskaalse geestelike ontwaking, gekenmerk deur ’n persoonlike ontmoeting en verhouding met die opgestane Christus. Die vingers verteenwoordig sake wat voortvloei uit die handpalm en wat ons moet uitbou en versterk.

(Grafika: Verskaf.)

Hierdie drie artikels was ’n poging om te besin oor ’n strategie wat saam met ’n veelvoud van strategieë staan, elkeen met ’n eie invalshoek.

Die skrywer Anoeschka Von Meck[1] merk op dat in haar reise en navorsing vir die boek Net voor die droogte my breek, het sy telkens moes hoor hoe boere getuig dat die droogte hulle verander het, beter mense gemaak het, en veral tot ’n dieper verhouding met God gelei het.

“Ons het afgesien van ons eie planne, ons verwagting en hoop is net op God.”

Is hierdie nie die eerste groen spruite van ’n grootskaalse geestelike ontwaking nie?

Mag die Here vir Suid-Afrika die laatreën stuur. Slawereën, wat buite seisoen geval het die dag toe almal grootskaalse weerwraak van die pas vrygestelde slawe gevrees het, maar in stede daarvan het die kerke oorgeloop van vrygespreekte mense wat God gedank het.

 Voetnota:

[1] https://maroelamedia.co.za/afrikaans/boeke/net-voor-die-droogte-my-breek-n-stem-vir-boere-wat-oorleef-in-droogte/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Stefan ·

Kom aan mense, jy kan hulle vandag almal R100.000 gee, volgende week het hy weer niks!!

Gail ·

Baie dae as ek van die dorp af terug huistoe ry, in die bloedig hitte of storm reën, wens ek het groot bus om al die mense op te laai met hulle kinders en sakke vol groceries….
*Die wet moet verander*
Vir alle rassistiese mense.
Die mense wat tronk toe gestuur word vir rassistiese uitlatings, moet liewer, plekke ruil en saam met die mense gaan lewe op wie hulle rassisme uithaal.
Sodat ons in mekaar se skoene kan loop.
Jou plig, terwyl jy daar lewe moet wees dat jy iets goeds gedoen en het vir daai familie. Hulle help leer om uit hulle omstandighede te kom en nie afhanklik van die Government wees nie.
Asook om die wit mense se oogklappe te laat afval, dat die nood groot is, daar waar hulle bly. Dit help nie ons skreeu van die kantlyn Government moet dit en dat nie. Dit begin by ons kerke. Bring terug al die missionaries van oorsee… Mense hier is groter nood in ons eie land as oorsee. Bestee die geld hier in ons eie omgewing en doen die regte ding.

Michiel ·

In Europa het jy “social startups” waarmee crowdfunding geld gebruik word om allerhande sosiale uitdaginge te befonds. Byvoorbeeld op impactcity.nl.
Ideaal is ‘n Afrikanerfonds waarmee jong ondernemers kan wedywer om werkgeleentheid te verskaf.

BBBEEE is ‘n bedekte seën wat ons volkie loskoppel van die deur ANC misbruikte Europese sentrale staat-idee, en meer klein Boputhatswana ei(land)jies gaan word. Ons eie geld, in eie projekte, eie internasionaal erkende geldeenheid, om ons eie mense te help.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.