ʼn Streep in die sand

ʼn Vriendin van my sê dit voel asof die laaste paar jaar inmekaargebloei het. Daar is nêrens ʼn streep in die sand getrek om aan te dui hiér is die begin en dáár is die einde nie.

Al voel daardie opsluitdae van Covid-19 nou soos iets uit ʼn sci-fi-rolprent, glo ek baie van daardie “inmekaarbloei” het daar begin. Die rolbos het toe begin tol en nog nie weer haakplek gekry nie.

Nou, ná ʼn paar salige dae by die see of net tuis in die tuin het die nuwe jaar ingeklok en aangemeld vir diens. Tensy ons egter nie gereeld strepe in die sand trek nie gaan die rolbosse in die warrelwind lig en net weer begin tol en tol. Ons gaan vergeet om stil te staan, in te neem en te waardeer en voor ons onsself weer kom kry sê ons (opnuut) vir mekaar: Sjoe, maar die jaar het gevlieg!

Ons gespartel om net deur elke dag te kom ontneem ons van kalmte en helderheid en ʼn kop wat raas maak die voordeur oop vir chaos en frustrasie. Kenners sê daar is veral sewe sondebokke:

  1. Te veel afsprake en vergaderings
  2. Te veel besluite – klein of groot
  3. Te veel e-posse en subskripsies
  4. Te veel items op jou doenlys
  5. ʼn Oorvol kalender
  6. Te veel nuus lees, veral wanneer dit slegte nuus is
  7. Te veel tyd op sosiale media

Kom ons baklei vanjaar daarteen om nie net mindlessly meegesleur te word nie. Kom ons hou ons koppe kalm en bly in die oomblik. Dalk sal dit help as ons aan die einde van elke dag net vir ʼn paar minute gaan stilsit en die lekker en die sleg neerskryf sodat dié 24 uur nie oorbloei na die volgende 24 nie. Hulle sê ʼn skoon kop verlaag jou kortisol- (die streshormoon) en bloeddrukvlak, stabiliseer jou metabolisme en kan selfs jou lang- en korttermyn geheue verbeter. Ons gaan boonop minder angstig voel, meer kreatief kan wees en sommer net meer raaksien en geniet.

Einste vriendin wat tydelik in Engeland woon het voorgestel ons neem nou dooierus en betrag alles wat die afgelope jaar oor ons pad gekom het – die goed, die sleg en die lelik voordat ons weer ons kaartjie vir die mallemeule van die volgende 365 dae koop. Daar is vir my baie grys kolle van vergeet met baie van die detail wat soos ʼn Disprin in water opgelos het. Wat ek wel onthou, is kosbare kuiers met goeie vriende en die heerlikheid wat my twee hondedogtertjies elke dag vir my besorg. Maar vir die res het daardie rolbos in die warrelwind getol. Ek troos my wel daaraan, soos wat Bill Fay sing in daardie roerende lied, “Cosmic Concerto”: “Life is people!”

Ek en die vriendin het laastens besluit om elkeen ʼn oujaarsafskeidritueel uit te voer – ek hier in Kaapstad en sy in Oxford. Ek weet nog nie wat sy gedoen het nie maar myne was eenvoudig. Ek het doodgewoon, op my stappaadjie teen die voet van Tafelberg, ʼn klippie opgetel en ʼn streep in die sand gaan trek. Ek het 2022 met daardie streep gegroet en sommer vir myself daar tussen die fynbos (én indringers) beloof ek gaan my woelige kop se fader dié jaar met so ʼn paar strepies afstoot.

En so met die wegstap, vorentoe, dieper in die berg, het die Suidoos begin waai. Ek het geweet my sandstreep sou die volgende dag weg wees, maar die klippie was veilig in my sak.

Om my te laat onthou dat ek nie moet vergeet nie.

Meer oor die skrywer: Lizma van Zyl

Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johan ·

Aangrypende skryfsel en ‘n kolskoot. Ek gaan die sewe sondebokke met kopskote afmaai. En dit gaan vir lekker wees want ‘n mens kán sonder die sondes vry leef.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.