Zimmermann het Woensdag sy eindbestemming in Istanbul bereik. Die rit was egter nie sonder uitdagings nie en hy moes ʼn visumprobleem in Turkmenistan, sterk winde en wisselende temperature, soms tot minus 8 grade, trotseer.
Hy het op 15 Mei saam met 14 ander fietsryers vertrek op die sogenaamde Syroete en het hulle deur tien lande, insluitend China, Mongolië, Rusland, Iran en Turkye, gery.
Sy doel was om 12 280km in 145 dae af te lê. Zimmermann het deurgedruk, maar kon nie die 650km-reis deur Turkmenistan meemaak nie, nadat sy visumaansoek afgekeer is. Hy het van Oesbekistan na Iran gevlieg, waar hy weer by die res van die span aangesluit het.
Zimmermann het in 2015 van Kairo na Kaapstad gery. Hy het na afloop van die jongste ekspedisie gesê hy voel trots Suid-Afrikaans. “Ek voel moeg en mal maar ek het wel tot die gevolgtrekking gekom dat ons almal gebore is om leiers te wees.”
Hy kom Saterdag in Suid-Afrika aan. Hy het so ʼn groot avontuur aangepak om ʼn paar redes, maar dit was hoofsaaklik om jong mense te help om tersiêre onderrig te ontvang. Die bedrag geld wat ingesamel is, sal later bekendgemaak word.
Besoek Zimmermann se Facebook-blad of webwerf om meer oor sy projekte te lees en hom te ondersteun.
Maroela Media sal later volledig oor Zimmermann se ekspedisie berig.