’n Toekoms vol hoop, ʼn blink toekoms vir Sonia

Argieffoto (Foto: Pexels/Pixabay)

“Dankie, juffrou, ek waardeer julle moeite,” hoor ek myself sê en maak die kantoordeur saggies agter my toe. Ek sluk hard om trane van opgewondenheid te keer en glimlag oor hierdie onverwagse, reusegeskenk!

Ek is te vroeg vir die bussie wat ons moet oplaai en terugneem kinderhuis toe. Ek waardeer egter die paar minute se stilte voor die res van die kinders kom en dink terug oor wat ek sopas gehoor het!  Ek, ʼn kinderhuiskind, is raakgesien!  Die vooruitsig om na ʼn “gewone” skoolkoshuis toe te mag gaan saam met “gewone” kinders is oorweldigend vir my en ek betrap myself hardop lag van opgewondenheid!

Tog, die kinderhuis was die afgelope vyf jaar goed vir my.  Ek was 11 jaar oud toe ek kinderhuis toe is. In die begin was die aanpassing vir my baie moeilik, weg van my bekende onstuimige omgewing, my ma en selfs die vele angsvolle oomblikke. Daar was soveel reëls wat ek nie verstaan het nie, ons het alles gedeel, selfs klere, en soms was ek net moedeloos veral as iets wat net myne was, weggeraak het. Maar hulle is die enigste familie wat ek ken en ek wonder wie gaan hulle nou ontferm veral oor die nuwe kinders wat inkom… of sal die Here sommer self na hulle kyk soos wat Hy na my omsien?

My gedagtes gaan weer terug na my gesprek met die hoof: “Sonia*, ons het jou die afgelope paar maande dopgehou. Ons het gesien hoe jy jou kant bring op alle terreine by die skool. Jy maak ons trots.”

Die woord trots is vir my ʼn groot woord. Om te leer met ʼn kamer vol besige kamermaats, was nie maklik nie! Dan moes ek nog ander ook help met hulle skoolwerk.

Juffrou gaan voort: “Ons het dit daarom goed gedink om aansoek te doen by die Helpende Hand Bemagtig-’n-kind-fonds wat jou moontlik in staat sal stel om jou eie kamer in die skoolkoshuis te kan kry. Ons besef jy het nog twee jaar oor van skool en jy gaan jou alles moet insit as jy wil voortgaan met verdere studies. Indien die aansoek tot befondsing goedgekeur word, mag jy oorgeplaas word na die skoolkoshuis.”

Ék, ’n eie kamer!

Die maatskaplike werker kon dit weer nie hierdie jaar regkry om aan te beveel dat ek teruggaan huis toe nie.  Ek is seker daarvan my ma probeer, maar die keuses wat sy soms maak, veral as dit kom by vriende, laat nie te veel na wense oor nie. Die kinderhuis was dus vir die komende jaar, weereens, my voorland. “Dis beter so,” het die maatskaplike werker my probeer moed inpraat.

En vandag hoor ek dat my drome vlerke kry ver bokant wat ek verwag het!  Dis asof ek my ouma hoor sê, as die nood op sy hoogste is, is die uitkoms naby. Ek droom al lankal daarvan om eendag verpleegkunde te gaan studeer, maar ek het begin twyfel of dit ooit sal realiseer.

Vanaand gaan ek met dankbaarheid in my hart slaap met die wete dat daar tóg mense is wat omgee.  Mense wie se name ek seker nooit sal ken nie. Ek sal onthou om vanaand vir hulle te bid en dankie te sê.  Ek tel my tas op en stap bussie toe, wie weet dalk vir die laaste keer…

**Sonia se storie is nie nét ʼn storie nie. Sy is een van vele kinders wat gehelp is deur die bydraes wat gemaak word aan die Bemagtig-‘n-kind-fonds. Elke bydrae bring hoop en help bou aan ʼn kind se toekoms.

As jy hierdie artikel lees, en jy wil en kan ook help, besoek gerus ons webwerf, sluit aan as ʼn ondersteuner of SMS die woord KIND na 45763 (SMS kos R2) en help ons om kinders te bemagtig.

Geskryf deur Suzette Oosthuizen – Hoof: Sentrums en Nasionale takke van Solidariteit Helpende Hand

*Sonia is ʼn skuilnaam wat gebruik word om die identiteit van hierdie dogter te beskerm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

AmY ·

Dis so lekker om so goedvoel storie te lees.
Mag Sonia net die hoogste hoogtes bereik.
Sterkte vorentoe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.