ʼn Tyd om saam te bid

’’n Groep Tuks-studente bid saam op kampus in 2016. Foto: Daniella van Heerden, eNuus (via Facebook)

Suid-Afrikaners leef in onstuimige en uitdagende tye, maar Christene het ʼn uiters belangrike rol juis in sulke tye.

Dit is die motivering agter die SA Pray-gebedsprojek wat Jannie Pelser van die ToekomsVenster-inisiatief vanaf Hemelvaartdag op Donderdag 25 Mei oor die tien dae van Pinkster tot Sondag 4 Junie van stapel stuur. Pray SA word deur verskeie besorgde Christene in Suid-Afrika ondersteun wat vertrou dat God betekenisvolle verandering in die land kan bring deur gehoorsame en diensbare kinders van die Here.

“Ek vra elke landsburger wat hom- of haarself ʼn Christen noem om te bid dat Suid-Afrika van korrupsie, rassisme, vrees, armoede en misdaad gered moet word. Ons het vanjaar se Hemelvaartdag op 25 Mei gewaarmerk vir gebed waarin Christene hulle opnuut sal toewy aan God se wil,” het Pelser gesê.

Hy het verduidelik dat SA Pray nie ʼn amptelike aansluiting by Angus Buchan se onlangse It’s Time-gebedsgeleentheid in Bloemfontein is nie, maar eerder ʼn informele voortsetting van iets waarmee die kinders van die Here moet besig wees.

“Een van die kenmerke van Christene is dat hulle bid en daarom moet ons voortgaan met gebed. Dit is ongelukkig ook so dat Suid-Afrika nie oornag, sommer so in die verbyloop, gaan verander nie. Die tydvak waarin ons nou lewe, is kritiek, ek dink nie ons hoef mekaar daarvan te oortuig nie, maar dit is ook ʼn wonderlike geleentheid vir kinders van die Here om ʼn verskil te maak.”

Hy doen ʼn beroep op alle Christene om oor die tydperk hande te vat en tyd uit hulle dag te neem om saam te bid.

“Ek dink dit is belangrik dat ons ʼn opoffering maak om tyd saam met God deur te bring. Die idee is dat die samelewing daagliks van 25 Mei tot 4 Junie tussen 12:00 en 13:00 tot stilstand sal kom om ʼn hartsverbintenis met God te maak waar ons hierdie gedeelde lewensruimte wat Suid-Afrika is na Hom kan bring en vra vir ʼn nuwe dag.”

Pelser het gesê een van die wonderlike dinge van die gebedsgeleentheid in Bloemfontein was dat ʼn mens na enige ander persoon kon stap en vir die persoon vra om saam met jou te bid. “Dit sal wonderlik wees as ons dit kan verder neem en self, maar dalk veral, saam met vreemde mense bid net daar waar ons ons bevind – of dit nou in die bank, by die werk of op ʼn skoolterrein is.

“Dit is belangrik om tot stilstand te kom en God te vra om ons die pad vorentoe te wys. So kan ons deel van die antwoord word vir hierdie tye.”

Hy vra dat mense sal aansluit by die SA Pray-webwerf waar hulle op die “I was there!”-skakel kan klik om deel te word van ʼn geloofwaardige gebedsnetwerk.

  • Luister gerus ook na die onderhoud boaan hierdie berig om meer vas te stel oor die SA Pray-gebedsinisiatief. Jannie Pelser gesels met Esté Meyer Jansen onder meer oor die krag van gebed.
  • Besoek www.sapray.co.za vir meer inligting oor die gebedsinisiatief wat van 25 Mei tot 4 Junie sal plaasvind. Volg SA Pray op Twitter en Facebook om op die hoogte te bly van die gebedsinisiatief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Chris ·

Dit is regtig ‘n goeie inisiatief. Ek dink dat daar nie ‘n oproep vir sulke aksies hoef te wees nie, maar dat dit elke Gelowige se plig en voorreg is om elke dag te bid. Groot saamtrekke is goed en gaaf, maar gereelde verootmoediging en gebed, is ook goed.

Tribbes ·

Voor almal begin bid, glimlag eers vir mekaar in die verkeer.
Kyk of julle dit kan regkry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.