’n Vrou met ’n omgeehart en gewillige hande

Cornémari Viljoen. (Foto: Verskaf.)

Deur Elize Perrin

Dít is Cornémari Viljoen – vrou vir David, ma vir Divan en Marné, prokureur en ook voormalige Mev. Suid-Afrika.

Vriende het haar in 2004 oorreed om in te skryf vir die Mev. SA-wedstryd. Haar wil om ’n positiewe verskil te maak, het haar laat deelneem.

“Om mense weer hoop te gee, was vir seker ’n hoogtepunt en iets wat my laat besluit het om te bly doen wat ek doen,” vertel sy. So is JUMP (Jesus Unique Master Plan), haar nuutste projek, saam met vriende om ’n braaivleisvuur in November 2017 gebore. “Die Here het nog altyd liefdadigheidswerk op my hart gedruk,” sê sy.

Alhoewel JUMP se hulp landwyd strek, het Cornémari ’n deel van haar hart in die Karoo verloor. Ná ’n kuier by vriende op Victoria-Wes het die greep wat die droogte op die boere en gemeenskap het, aan haar hart gevat en het sy in Oktober 2019 bederfboksies in Victoria-Wes, Loxton, Vosburg en Williston versprei. Vir die boervroue het Cornémari baie respek.

“Plaasgemeenskappe is baie trotse en gereserveerde gemeenskappe, maar ontsaglike warm, hartlike en vriendelike mense,” sê sy. “Dis mense wat altyd by jou sal staan deur dik en dun. Dis mense wat nie net ’n oop hand het om te ontvang nie, maar ook om te gee.”

Bale vir Boere het gevolg en tot op hede is reeds veertien vragte voer afgelewer. Die eerste aflewering van voerbale was vir Cornémari ’n aan-die-hart-vat-ervaring.

“Byna al die boere het saam met ons die trokke langs die pad ingewag. Toe die trokke arriveer, moes ons onmiddellik aflaai. Dit was vir my ’n ongelooflike ervaring om te sien hoe die boere saam staan en werk; en dit alles vir hul diere,” vertel sy.

’n Droogte raak almal en daarom is drie ton groente ook aan die genoemde omgewing geskenk. ’n Privaat skool is met skryfbehoeftes bederf en die ouetehuis op Victoria-Wes se inwoners het kombersies ontvang.

Cornémari tydens ’n Bale vir Boere uitreik op Victoria-wes. (Foto: Verskaf.)

Cornémari is ’n gereelde gesig in die Karoo aangesien sy gereeld tussen Gauteng en Victoria-Wes pendel. Sy is aktief betrokke by die uitdeel en aflewer van skenkings.

Wonder jy waarom een persoon so baie moeite doen vir ander, is sy gereed met ’n antwoord. “Ek glo dat mens nou ’n verskil moet maak, want môre is dit dalk te laat. ’n Mens moenie ’n weldaad weerhou van iemand aan wie dit toekom nie; veral nie as dit in jou mag is om dit te bewys nie.”

Die boere, vir wie droogte meer as ’n woord op papier is, het groot waardering vir Cornémari en haar span.

“Ek weet die boere waardeer hierdie groot en wonderlike gebaar van Christenskap,” sê een van die ouer boere in die omgewing. “Hierdie is groot finansiële en geestelike hulp wat boere inspireer en in staat stel om met nuwe moed voort te gaan. Hulle (JUMP) leef hul naam waarlik uit.”

Ook Gerrit Naude, wat verantwoordelik is vir die verspreiding van die voer, beaam dat dit ’n positiewe ervaring is. Hy vertel dat ’n mens nie onaangeraak kan bly wanneer ontvangers trane in die oë kry wanneer hulle die voer ontvang nie.

“Daar was boere wat voer weggewys het omdat hulle geweet het daar is mense slegter af as hulle op daardie oomblik,” vertel hy. Hy wys daarop dat die organiseerders baie moeite gedoen het om voer duisend kilometer aan te ry.

“As die boere dit self moes doen, sou dit nie sin maak nie,” sê hy, “maar met die voer en vervoer gratis, help dit baie.”

Gerrit wys ook daarop dat dit ’n groot hoeveelheid werk is om alles gereël te kry. “Dit neem tyd om alles bymekaar te kry,” sê hy, “daarom het die ontvangers baie waardering vir die hulp.”

Cornémari bederf inwoners van die ouetehuis op Victoria-wes. (Foto: Verskaf.)

Vir hulpverlening is geld nodig, maar dit skrik Cornémari nie af nie.

“Ons hou jaarliks twee groot geldinsamelings en gebruik dan daardie geld weer om ander se lewens te verander en te verbeter. So leef ons ’n lewe van gee,” sê sy.

Hul volgende projek vul haar met groot opgewondenheid. In Mei 2020 gaan Cornémari en haar medewerkers ’n week in die Karoo deurbring om leerders van gr. R tot gr. 7 se oë te toets. Brille sal in Junie, tydens Victoria-Wes se Wildsfees, aan die begunstigdes verskaf word.

“Ek is super opgewonde,” vertel sy. “Dit is ’n groot projek en ’n reusevooruitsig.”

Vra jy haar of mense in ons land nog genoeg vir mekaar omgee, huiwer sy ’n oomblik.

“Dit is ’n bitter moeilike vraag,” antwoord sy dan. “Ek het met die Droogtehulpprojekte gesien dat mense tóg omgee vir mekaar en help. Maar ek was ook al in situasies waar mense bang was om te help, omdat hulle nie altyd seker is of die hulp reg aangewend gaan word nie. Verder druk die ekonomie ook en is dit nie altyd vir mense moontlik om finansieel te help nie. Ek sê altyd daar is maniere om by ’n projek of gemeenskap betrokke te raak en jou liefde en omgee te wys, sonder dat dit geld kos. Mense moet mekaar net daardie liefde en omgee gun.”

En so vind Cornémari se hand telkens iets om te doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Lorayne

Gewoonlik lees ek nie hierdie tipe berigte enduit nie. . . Maar ek het ‘n les in hierdie berig gevind! Jy is ‘n engel Cornemarie! Mag God jou in oorvloed seen!

Maria M S

Het ons land maar meer van jou kaliber gehad!