ʼn Wenresep vir ʼn Pendoring: Passie en koekies


Kief-Koekies

Foto: Facebook

In die reklamebedryf is die Pendoring-toekennings soos die Oscars in die rolprentbedryf. As jy een van dié toekennings ontvang, sê dit jy is die beste van die beste. Vanjaar het die kreatiewe agentskap, Etiket, met drie Pendorings weggestap vir hul kreatiewe aanslag met “Kief Koekies”.

William de Bruin, pa van dié projek, sê egter hulle het nie beplan om “Kief Koekies” vir die Pendorings in te skryf nie. “Ons het dit nie aangepak om iets te wen nie – dit was passie wat ons gedryf het. As jy iets doen wat vir jou lekker is, sal jy jou beste gee.”

Vir Erika Venter, ontwerper by Etiket, was dié projek baie na aan haar hart omdat haar ma die kliënt was. “My ma het gesê sy wil ʼn ekstra inkomste verdien deur koekies te verkoop. Ek het besluit om vir haar ʼn logo te ontwerp, want dis wat ek doen. Ek het nie gedink dit gaan iets groots wees nie. Toe ek die logo klaar ontwerp het, het Tiaan Ras, inhoudsdirekteur, dit gesien en hy het besluit om dit verder te vat”.

Bobaas bakker, Riekie Venter, raak sommer tranerig as sy haar storie begin vertel. “Dit het begin met ʼn babatjie (Erika) wat gebore is en wat ʼn probleem gehad het. Die mediese fonds wou nie al die kostes dek nie en daarom moes ons sommige dele self betaal. Ek kon nie gaan werk nie, want niemand anders sou verstaan hoekom my kind huil nie. Ek het besluit om my eie ding te doen en my eie kind grootmaak en dis waar die bakkery begin het.”

Nou, jare later, is Erika gesond en dis asof die kring voltooi is met die ma en dogter-span wat weer bymekaar gebring word met koekies. Riekie meen sy het Erika en William ten volle vertrou om die regte besluite te maak, maar sy het ook ʼn sê gehad. “Kyk, ek het gesê hulle kan my enigiets noem, maar hulle noem my nie ‘tannie-tert’ of ‘tannie-koekie’ nie. Dis waar ek die streep gestrek het!”

Erika en William praat met lof oor die kultuur wat by Etiket heers. “Ons word toegelaat om te wees wie ons is en ons word ook die vryheid gegun om kreatief te wees.

Luister na die podsending om te hoor hoe William en Erika saam gewerk het aan dié wen-projek.

Besoek gerus Kief-Koekies se Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Reinhardt ·

Afrikaans is tog so ‘n kleurvolle taal! Jis ekt nou gelag vir daai foto! xD

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.