Nagkantoor hou ’n Natsteennaweek

Die skaap is op die spit! (Foto: Foeta Krige)

In Junie blom die aalwyne vurig rooi tussen die rotse van Kaapsehoop, die klein bergdorpie in Mpumalanga. Dit is die ideale skilderdoek vir ʼn feestelike byeenkoms. Op die naweek van 23 tot 25 Junie het mediamense van oraloor in Kaapsehoop opgedaag vir die eerste geskiedkundige Natsteennaweek. Getrou aan hulle aard weet koerantmanne en -vroue hoe om te kuier, en kuier sou daar gekuier word!

De Wet Potgieter het in Augustus 2020 die deure van sy Nagkantoor Kaapsehoop Kuierkroeg vir die eerste keer oopgemaak. Hy het vir byna 50 jaar lank as joernalis gewerk by verskeie publikasies soos Oggendblad, Vaderland, Beeld, Burger, Rapport, Sunday Times en het aan hierdie kuierkroeg ʼn nostalgiese mediatema gegee. Die mure hang vol ou koerantplakkate, spotprente, nuusfoto’s en ander memorabilia. De Wet het ook al vir ʼn tydjie geloop met die idee om ʼn reünie hier by Nagkantoor te hou en van die mense wat deur die jare met hom saamgewerk het, saam te kry vir ʼn lekker kuier. Die uitnodiging is gerig aan enigeen wat in die mediabedryf werksaam was, of is, en sowat 50 mediamense het besluit om saam te kom kuier.

ʼn Natsteen, vir die wat nie weet nie, is ʼn gebruik in die dae toe die blaaie van ʼn koerant nog deur loodsetters in houtrame gepak is. Die steen was ʼn smal langwerpige tafel (gewoonlik met ʼn granietblad) waarop die blaaie gepak is deur die loodletters in die houtrame te pak. Boonop onderstebo. By geleentheid, soos met elke 100ste uitgawe, is dit dan op ʼn manier gevier. Eers wanneer die blaaie na die drukker gestuur is sodat die koerant gedruk kan word, is die steen skoongemaak en dan is daar drank en eetgoed daarop gepak en heerlik gekuier tot hanekraai. Nie net die redaksie nie, maar ook die mense van die ‘fabriek’ waarin die koerant gedruk word. Dit is dan ʼn natsteen genoem. Dit was tyd om hierdie tradisie op Kaapsehoop te laat herleef.

Cobus Bester, Izak du Plessis en Foeta Krige. (Foto: Izak du Plessis)

Op Vrydagmiddag het die gaste begin opdaag en dit was ʼn blye weersiens. Sommiges het mekaar dekades laas gesien. Ná ʼn heerlike feestafel het almal beweeg na die artistieke venue by Nagkantoor wat ook sommer die naweek gedoop is as Oppitoneel – vernoem na een van Dana Snyman, wat deesdae ʼn permanente inwoner op Kaapsehoop is, se boeke. Jannie du Toit het saam met Susan Mouton en Chanie Jonker die musiek van Koos du Plessis lewendig gemaak in die vertoning Doep is nie dood nie. Heelwat van die joernaliste in die gehoor het vir Koos du Plessis persoonlik geken en saam met hom gewerk. Koos was nie net ʼn joernalis nie, maar het ook as hoofsubredakteur die kopie van die koerant taalkundig versorg en gehelp met die beplanning en bladuitleg. Hy was ʼn meester met die uitdink van die bewoording van koerantplakkate. Jannie se konsert het almal teenwoordig aan die hart gevat en wonderlike herinneringe is opgeroep. Trane is stilweg weggevee aan die nagedagtenis van hierdie koerantman wat veels te vroeg weg is.

Op Saterdag is die kuier voortgesit en het al die besoekers Kaapsehoop en al sy besienswaardighede behoorlik verken. Die wilde perde, waarvoor Kaapsehoop bekend geraak het, het ook deur die dorpie se strate gedrentel en die yweriges het met die staproete na die uitkykpunt bo Kaapsehoop gestap. Van daar het ʼn mens ʼn wonderlike uitsig oor die Makhonjwa-gebergtes en Barberton aan die oorkant van die Kaap-vallei.

Om vieruur het al die rugby-entoesiaste weer in Oppitoneel bymekaar gekom. Dit was tyd vir die Curriebeker-eindstryd en die Cheetahs het kragte gemeet teen Mpumalanga se rugbyspan, die Pumas. Die Pumas het in 2022 die Curriebeker verower, en dit was veral die plaaslike inwoners wat gehoop het dat die Curriebeker terug huis toe sou kom. Maar die Cheetahs het koning gekraai en die Pumas moes maar tevrede wees met ʼn tweede plek.

Die groot kuiervuur was reeds aangesteek en op die spit is ʼn groot skaap tot perfeksie gebraai deur Sakkie van Rooyen van Nelspruit. Magnus Heystek, wat self op sy dag Vaderland se finansiële redakteur was, het ʼn ruim skenking van wyn vir die geleentheid gemaak. ʼn Paar legendes het die geleentheid gekry om elkeen ietsie te sê.

Andreas Jordaan en Dana Snyman. (Foto: Izak du Plessis)

Rudi du Plessis, ʼn plaaslike inwoner, het meer vertel oor die geskiedenis van Kaapsehoop wat terugstrek tot die ontdekking van goud in 1872. Harald Pakendorf, een van die land se mees gerespekteerde redakteurs en politieke kommentators, het nostalgies teruggekyk na sy dae in die redakteurstoel, maar het ook, tipies Harald, kommentaar gelewer oor die huidige politieke toestand in die land. Johan Pretorius, ʼn politieke kommentator van die SAUK en ʼn bekende gesig op televisie het ook wonderlike herinneringe gedeel oor die SAUK van ouds. Hierna het Tim du Plessis ʼn spreekbeurt gekry. Tim het gesels oor die stryd wat daar destyds tussen Naspers en Perskor was, en het ook staaltjies uit sy dae as senior politieke joernalis in die persgalery gedeel. Sy lewensmaat, Inge Kühne wat tans die redakteur van Rapport is, het gesels oor die stryd wat daar tans is om met ʼn klein personeel, ʼn volledige Sondagkoerant uit te gee. Haar visie vir die toekoms het almal opgewonde gemaak, en dit was heerlik om te hoor dat, al is die dae van papierkoerante waarskynlik getel, daar altyd ʼn groot behoefte sal wees vir behoorlike verslaggewing. Dana Snyman het een van sy nostalgiese stories gedeel en gesorg vir ʼn lag en ʼn traan.

Daar is nog laataand om die groot konkavuur gekuier en baie stories uitgeruil. Heerlik gelag, maar ook ʼn paar trane van heimwee weggevee. Een van die wonderlike stories wat gedeel is, is toe Aletta Pakendorf vertel het hoe Koos du Plessis tydens ʼn braai wat by hulle huis gehou is, gevra het of hy sy kitaar, hy het daarna verwys as sy snare, kon gaan uithaal. Dit was lank voordat hy musikant geword het. Aletta sê sy was eers skepties, maar die oomblik toe Koos die eerste note op sy kitaar speel en begin sing, was almal stil. Daarna sou daar nooit weer gekuier word sonder Koos en sy kitaar nie. In Nagkantoor is daar ook nog tot laatnag gekuier, gedans en gejol.

Om mense soos Harald en Aletta Pakendorf, Johan Pretorius, Dana Snyman, De Wet Potgieter, Tim du Plessis en Inge Kühne, Sarel van der Walt, Foeta Krige, Madelaine Page, Andreas Jordaan, Lukas Groenewald, Cobus Bester, Retha Fourie, Jac du Toit, Neels Jackson, Helene Cilliers, Nico en Annemarie van Burick, Pieter Steyn, Annemarie van der Walt, Izak du Plessis en hulle gades in een geselskap te hê, was voorwaar ʼn besonderse hoogtepunt. Danksy ʼn borgskap van die Dagbreek Trust het hierdie naweek ʼn werklikheid geword en ons hoop dat dit die eerste van vele sal wees. Daar sal immers altyd stories wees om uit te ruil.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

‘n Generasie wat nou uitsterf. Nooit sal ek vergeet hoe hierdie groep die “verkramptes” verguis het nie. Was kwansuis teen vooruitgang. Nou is ons teen die planke.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die lot van hul eens belangrike koerante weerspieël die gemors waarin ons nou sit.

Philip ·

Al die Nasionale Party rugkrappers bymekaar in hulle nuwe Hoofkwartier of die wat oor is.Wat hulle nou kort is net Roelf/Kortbroek/ en sommige Bothas om voltallig te wees .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.