Name van 32 Bataljon blink gepoets

Om deel van ʼn eenheid soos 32 Bataljon te wees, is werklik soos ʼn broederskap, meen Noël Viljoen, ʼn oudkorporaal van dié eenheid. (Foto: Verskaf)

Om deel van ʼn eenheid soos 32 Bataljon te wees, is werklik soos ʼn broederskap, meen Noël Viljoen, ʼn oudkorporaal van dié eenheid. “Daarom is dit so belangrik, en boonop ʼn voorreg, om die naamplaatjies van ons makkers skoon te hou.”

Viljoen het Saterdag saam met lede van die bekende 32 Bataljon instandhoudingswerk aan die Erestomp by die Voortrekkermonument gedoen. Die gedenkteken is uit die stam van ʼn hardekoolboom gekerf en daarop verskyn die name van 142 lede wat tydens die oorlog gesneuwel het.

Dit is op 25 Mei 1985 tydens ʼn spesiale parade op Buffalo‑basis in die Wes-Caprivi in Namibië onthul en is in Oktober 2009 van Zeerust na hierdie Muur van Herinnering geskuif.

32 Bataljon is van 1976 tot 1989 hoofsaaklik in Angola tydens die Grensoorlog ontplooi as offensiewe buffer tussen die Suid-Afrikaanse Weermag se gewone magte en die “vyand”. Aktiwiteite het gestrek van teenopstand- en guerrilla-operasies, tot verkenning- en selfs semi-konvensionele operasies in die laaste fases van die oorlog.

Lede van 32 Bataljon besig met instandhoudingswerk aan die Erestomp by die Voortrekkermonument. (Foto: verskaf)

Nadat die vredesooreenkoms in 1989 gesluit is, is dié bataljon na Suid-Afrika verplaas, waar die buitelandse lede Suid-Afrikaanse burgerskap ontvang het. Ná ʼn finale tydperk van stedelike ontplooiing, het 32 Bataljon in 1993 ontbind.

Viljoen dink terug aan die lede van die eenheid wat dood is.

“Pretoria is een van die windstilste stede in die wêreld, maar elke keer wat ons ’n gedenkdiens hou of as ons hier kom skoonmaak, waai die wind. Ek glo dit is ons makkers se siele wat die wind laat waai om vir ons dankie te sê dat ons hulle onthou.”

Die Voortrekkermonument doen gereelde instandhoudingswerk om die Erestomp, en werk deurlopend saam met die Raad vir Militêre Veterane om hulle gedenktekens op die terrein in stand te hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Eclectus ·

In 1986 was ek op afgedeelde diens by Buffalo toe RSM Nortje eendag Brasso en Woodoc in my en Faan se hande stop met die opdrag om die stomp te poets vir ‘n viering. Respek aan die gesneuweldes en aan die wat hulle herinnering eer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.