Natuurlike plaagbeheer

groente-van-tuin-tot-tafel_cover-high-resNatuurlike plaagbeheer in groentetuine laat ʼn mens baie dink aan natuurlike gesondheidsorg by mense. Soos met mense, is ʼn sieklike plant meer geneig om siektes op te doen en is daar omstandighede wat maklik tot siekte lei. Plaagbeheer is ʼn geïntegreerde benadering tot plantgesondheid, met behandeling wat slegs in krisisgevalle gedoen word.

Die plae wat die meeste skade aanrig is virusse, swamme en insekte.

Die enigste raad is dat voorkoming nie beter as genesing is nie. Saadmaatskappye moet verseker dat hulle nie besmette saad verkoop nie. Hulle bestee ook baie geld daaraan om kultivars te kweek wat teen die belangrikste virusse bestand is.

VIRUSSE

Virusse teiken swakker plante, maar as dit nie onder beheer gebring word nie, kan sterk plante ook mettertyd deurloop. Die enigste raad is dus om virusbestande kultivars en gesonde plante te plant. Dis natuurlik geen waarborg nie, want virusse verander vinnig, sodat selfs “bestande” saad nie altyd virusbestand is nie.

SWAMME

Swamme is ʼn onontbeerlike deel van die ekologie. Dit voed gewoonlik op dooie plantmateriaal en help om dit in die kosbare humus, wat soveel voordele inhou, te omskep. Sekere swamme is nuttige voedselbronne, soos sampioene en truffels. Ander doen onopsigtelik goeie werk om hifes in die plantmateriaal in te stoot en harde plantmateriaal te ontbind. Ongelukkig is daar ook swamme wat op lewende plantmateriaal teer. Dit is hierdie swamme wat skade in ʼn groentetuin kan aanrig.

Omdat swamme in klam toestande floreer, help dit om só te besproei dat blare droog bly. Dit help ook as plante ver genoeg van mekaar staan sodat dit vinnig droogwaai. ʼn Mens moet onthou dat plante vog vrystel wanneer dit transpireer en dat die voginhoud in die lug somtyds baie hoog kan wees. Daarom is ventilasie tussen plante so belangrik. Sekere tamaties en boontjies is van nature geneig om te rank, terwyl ander ʼn bosagtige vorm het. Die rankers moet ʼn struktuur kry om teen op te rank, anders lê die plant oorhoops met homself en trek swamme aan.

Kommersiële swamdoders is dikwels kopergebaseerde spuitstowwe. As die gebruiksaanwysings noukeurig gevolg word, is dit nie ʼn gesondheidsrisiko vir mense nie.

INSEKTE

Insekte is ook ekologies onontbeerlik. Hulle is klein organismes wat oor die algemeen ʼn kort lewensiklus het. Hul getalle volg ʼn tipiese fees-of-hongersnoodpatroon – wanneer ʼn spesifieke spesie se kos volop is, beleef hulle ʼn bevolkingsontploffing wat voortduur totdat die bron uitgeput is. Dan sterf hulle ewe vinnig weer uit.

Groot landerye van net een gewas (monokulture) is vir die insekte wat daarop teer, ʼn uitnodiging. Reuk en sig is die sintuie wat hulle na hul kos lei. Voedselbronne kan vir insekte versteek word deur plante wat op ʼn ander hoogte groei of wat ‘n oorweldigende reuk afgee, tussen die hoofgewasse te plant. Afrikanerblomme en kakiebos het albei hierdie kenmerk. Sommige plantmaats is juis maats vanweë hierdie kenmerk.

growth-839372_1920ʼn Mens moet altyd onthou die blote teenwoordigheid van ʼn bepaalde insek beteken nie jy het met ʼn plaag te doen nie. Dit is belangrik om dop te hou wanneer die voorkoms daarvan ekonomies belangrik word voordat mens optree.

  • Net soos die plaaginsek reageer op die skielike beskikbaarheid van voedsel, reageer die roofinsek, voël, of watter natuurlike vyand ook al, op die beskikbaarheid van voedsel. Dit sal altyd ʼn paar dae later wees, want bevolkingsgetalle moet kans kry om by die nuwe geleentheid aan te pas. Deur ʼn rukkie te wag, kan die probleem homself oplos. ʼn Goeie voorbeeld hiervan is plantluise wat deur liewenheersbesies gevreet word. Om vir die liewenheersbesies te wag, verg soms senuwees van staal, maar die vreugde om hulle aan die werk te sien, maak dit die moeite werd.
  • Dit is belangrik om vir insekte se natuurlike vyande ʼn habitat te skep. Perdebye en vlermuise is maar twee voorbeelde van onversadigbare insekvreters, waarvan die habitat maklik versteur word. In die omgewing van ʼn groentetuin moet daar altyd ʼn area wees wat onversteurd gelaat word met stompe, klippe en plantegroei.
  • Habitatskepping vir perdebye kan aangemoedig word deur gaatjies in die stomp te boor. ʼn Growwe muur skep ook bouplek vir perdebye.
  • ʼn Vlermuishuis kan gebou word deur ʼn kas twee meter of hoër bo die grond te hang. Die kas moet dig wees, behalwe vir ʼn spleet aan die onderkant. Die binneruimte hoef nie dikker as twee sentimeter te wees nie. Skadunet aan die binnekant laat hulle ook tuis voel. Een vlermuis kan meer as ʼn duisend muskietgrootte insekte per nag vang. Boonop kan die mis wat onder uitval, nuttig gebruik word.
  • Daar is onselektiewe insekvangers wat liefs nie buitenshuis gebruik moet word nie. Die goggabraaiers, wat bestaan uit ʼn buislig met ʼn rooster van skokstafies onderaan, kan binneshuis gebruik word om muskiete te vang, maar buite wis dit alles wat leef uit.
  • ʼn Soortgelyke plan is ʼn liggie in die middel van die tuin, net bo ʼn skottel water. Dit is baie effektief en verskaf lekker happies vir dankbare hoenders, maar vang goed en sleg.
  • Voëltjies wat blommetjies en jong vruggies afpik, kan ʼn tuinier se bloeddruk opjaag. Onthou sommige voëls is ywerige insekvreters. Sorg dat daar genoeg inheemse bome is om voëls te lok en verskaf water in vlak bakkies.
  • As ʼn spesifieke plant aangeval word, lyk hy dalk vir die insekte siek of sterwend. Besluit of jy die plant met blaarvoedings en deklaag wil troetel, of uittrek en op die komposhoop gooi.
  • Mediterreense vrugtevlieë is ʼn doring in die vlees. Soos die naam aandui, is dit nie inheems nie en is daar ook nie natuurlike vyande in Suid-Afrika nie – tuiniers buite rekening gelaat. Hul larwes is die wurmpies wat dit so riskant maak om ʼn tuinperske te byt sonder om te kyk. Hulle val ook pampoene en ander vrugte en groente aan.
  • Vroeë vrugte is gewoonlik vry van vrugtevlieg, maar die situasie versleg namate die seisoen vorder. Die rede is eenvoudig. ʼn Klein getal vrugtevlieë oorleef die winter. Die enkeles wat daar wel is, lê hul eiers in vrugte wat beskikbaar is – dikwels veldvrugte of sierplante wat vroeg in die seisoen blom en vruggies dra wat nie benut word nie. Wanneer die vrugte val, beweeg die wurm uit die vrug in die grond in, waarvandaan dit later as ʼn vrugtevlieg verskyn. Dit is die swak plek in hul lewensiklus. As alle vrugte opgetel en vir hoenders of skape gevoer word, kan die vrugtevlieë nie uitbroei nie. Om dit net op die grond te laat lê, is nie net onnet en onwelriekend nie, dit laat die pes oneindig vermeerder. Om dit bloot weg te gooi of op ʼn komposhoop te laat, help ook nie, want die siklus word êrens voltooi.
  • Omdat alle vrugte nie opgetel word nie, al jou harde werk ten spyt, gaan daar nog steeds vrugtevlieë wees. Een raad daarvoor is om ʼn bak suikerwater of selfs vrugtesap in ʼn skottel naby die vrugtebome neer te sit. Hopelik ondersoek die vlieë eers hierdie lekker reuk en val daarin. Nog iets wat beter is as om ʼn klomp gif in die atmosfeer uit te spuit, is om ʼn spanspek of waatlemoen oop te sny en vol gif te spuit. Uiteindelik is die kans goed dat al die moeite nie gaan help nie. Kies dan tussen ʼn angswekkende spuitprogram, die moeisame taak om slegte plekkies uit te sny, of om al die vrugtebome met vroeë kultivars te vervang.
  • Daar is ook skadelike organismes in die grond. Die grootste probleem is aalwurms of nematodes, ʼn klas mikroskopiese wurmpies wat op plantwortels teer. Daar is letterlik duisende spesies aalwurms, waarvan net ʼn klein aantal skadelik is. Die enigste langtermynoplossing vir aalwurm is groter hoeveelhede organiese materiaal in die grond. Kompos en deklaag is dus die antwoord. Die gif wat kommersieel daarteen gebruik word, is geweldig skadelik. Dit vernietig alle lewe in die grond en moet vermy word. As die probleem ernstig is, kan gewasse wat meer bestand daarteen is, geplant word totdat die organiese inhoud van die grond opgebou is. Dit is veral tamaties, aartappels en vrugtebome wat vir aalwurm sensitief is. Sekere kultivars is juis vir bestandheid geteel.

Teks uit Groente van tuin tot tafel, Wynand Boshoff (LAPA Uitgewers, 2016)

Lees hier hoe om jou eie kompos te maak

Bestel dié boek aanlyn by www.lapa.co.za of skakel LAPA Uitgewers direk by 012-401-0700.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Johann Marx ·

“Kyk na die voëls van die hemel. Hulle saai nie en hulle oes nie….en tog het hulle geen tekort nie.” En dit is wragtag so…………want hulle’t almal kom vreet aan die vrugte van my 8 perskebome…tot daar NIKS oor was nie, behalwe die kaal pitte!!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.