Naudé wen Hertzogprys met ‘Dol heuning’

Die Hertzogprys vir prosa word toegeken aan SJ Naudé vir sy kortverhaalbundel ‘Dol heuning’ (Umuzi). (Foto: Verskaf)

Die raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het pas die gesogte Akademiebekronings vir 2021 bekendgemaak. Hier volg die lys van wenners.

Hertzogprys vir prosa
Die Hertzogprys vir prosa word toegeken aan SJ Naudé vir sy kortverhaalbundel Dol heuning (Umuzi). Dié prys is die vernaamste prestigeprys in die Afrikaanse letterkundewêreld en is genoem na die groot kampvegter vir Afrikaans, genl. JBM Hertzog. Die prys is beperk tot oorspronklike letterkundige werk in Afrikaans en word jaarliks om die beurt toegeken vir poësie, drama en verhalende prosa in dié volgorde. Die prys word toegeken op aanbeveling van die Akademie se letterkundekommissie.

Ronelda S Kamfer se Kompoun (Kwela), Etienne van Heerden se Die biblioteek aan die einde van die wêreld (Tafelberg), Ingrid Winterbach se Voorouer. Pelgrim. Berg. (Human & Rousseau), Zirk van den Berg se Ek wens, ek wens en Tweegevreet (Kwela), en Jan van Tonder se Die verevrou en Grootgeluk (Human & Rousseau) was saam met Naudé se Dol heuning op die kortlys.

Eugène Maraisprys
Ashwin Arendse ontvang vanjaar die Eugène Maraisprys vir poësie vir sy digbundel Swatland (Kwela), terwyl die Eugène Maraisprys vir prosa aan Frederik de Jager toegeken word vir Man op ʼn fiets êrens heen (Protea).

Die toekenning van hierdie prys word jaarliks oorweeg vir ʼn eerste of vroeë bellettristiese werk of werke van ʼn skrywer in enige genre en kan net een keer aan ʼn skrywer toegeken word.

Fanie Viljoen (Foto: Fanie Viljoen/Facebook)

Scheepersprys vir jeugliteratuur
Die prys word aan Fanie Viljoen toegeken vir sy roman Offers vir die vlieë (Lapa). Die toekenning van hierdie prys word driejaarliks oorweeg vir ʼn jeugboek in Afrikaans in enige genre.

Viljoen se Brand (Tafelberg) was ook op die kortlys saam met Elrien Scheepers se Donkerbloed (Human & Rousseau) en Jan Vermeulen se Baster (Lapa Uitgewers).

Alba Bouwerprys vir kleuterliteratuur
Jaco Jacobs ontvang die prys vir Die boekwinkel tussen die wolke (Pan Macmillan). Die toekenning van hierdie prys word driejaarliks oorweeg vir ʼn Afrikaanse kinderboek in enige genre. Slegs boeke wat oorspronklik in Afrikaans geskryf is, kom vir die prys in aanmerking.

Jacobs se Oupa Zombie (Pan Macmillan) was ook op die kortlys saam met Adeline Radloff se Die skandalige susters Smit (Tafelberg) en Fanie Viljoen se Pieksel (Lapa).

Jaco Jacobs (Foto verskaf)

Hier volg die volledige lys wenners:

  • Huberte Rupertprys vir klassieke musiek: Die prys word aan die sopraan Emma Renzi toegeken.
  • Erepenning vir visuele kunste (skilderkuns): Die erepenning vir visuele kunste word toegeken aan die kunstenaar Emma Willemse. Willemse is ʼn multimedia-kunstenaar wat reeds vier dekades lank ʼn impak in die Suid-Afrikaanse kunswêreld gemaak het.
  • Erepenning vir natuurwetenskap en tegnologie: Die erepenning vir natuurwetenskappe word toegeken aan prof. AR Coetzee. Coetzee is emeritus-professor en uitvoerende voorsitter van Universiteit Stellenbosch se Departement Anestesiologie en Intensiewe Sorg in die Fakulteit Gesondheidswetenskappe op die Tygerberg-kampus.
  • NP van wyk Louw-medalje: Prof. HP van Coller is buitengewone professor aan die NWU en emeritus van die Universiteit van die Vrystaat (UV). Die prys word toegeken vir ʼn persoon se skeppende bydraes tot die ontginning, organisasie en volgehoue uitbouing van ʼn vertakking of vertakkings van die geesteswetenskappe, wat as ʼn wesenlike en belangrike bydrae tot die bevordering van die geesteswetenskappe beskou kan word.
  • MT Steyn-prys vir natuurwetenskaplike en tegnologiese prestasie: Lise Korsten, verbonde aan die Departement Plant- en Grondwetenskappe aan die Universiteit van Pretoria.
  • Gustav Prellerprys vir literatuurwetenskap en letterkundige kritiek: Die prys word vanjaar toegeken aan WJ Henderson, emeritus-professor van die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte aan die Universiteit van Johannsburg.
  • Christo Wiese-medalje vir bedryfsleiding: Hendrik du Toit, stigter en hoof- uitvoerende beampte van Ninety One.
  • Protea Boekhuisprys: Die prys word toegeken aan Carel van der Merwe vir Kansvatter: Die rustelose lewe van Ben Viljoen. Die prys kan jaarliks toegeken word en roteer tussen ʼn gepubliseerde werk, die beste magisterverhandeling, en die beste doktorale proefskrif in geskiedenis of kultuurgeskiedenis in Afrikaans. Dit word vanjaar toegeken aan die beste gepubliseerde werk in geskiedenis of kultuurgeskiedenis in Afrikaans in die afgelope drie jaar.
  • Havengaprys vir fisiese wetenskappe: HC Swart, verbonde aan die Departement Fisika, Universiteit van die Vrystaat.
  • Douw Greeff-prys vir beste artikel in die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir natuurwetenskap en tegnologie: KT Mwepu, SJ Lubbe en PL Crouse van die Departement Chemiese Ingenieurswese, Universiteit van Pretoria, ontvang die prys vir hulle artikel “Litiumontginning uit Zimbabwiese petaliet met behulp van ammoniumbifluoried”.
  • Junior Kaptein Scott-gedenkmedalje (dierkundige wetenskappe): Die medalje word toegeken aan Amoré Malan van die Universiteit Stellenbosch. Die medalje kan jaarliks toegeken word vir die beste verhandeling wat by ʼn Suid- Afrikaanse universiteit vir die M.Sc.-graad ingedien is (om die beurt in die dierkundige of plantkundige wetenskappe).
  • Poortprys: Mikayla Pretorius van Windhoek High School in Namibië ontvang die Poortprys vir poësie vir haar gedig “Die diagram van die hart” en JD Carr van die Hoërskool Upington wen die Poortprys vir prosa vir “Wabi sabi”. Die Poortpryse word jaarliks toegeken vir die twee beste skeppende bydraes (poësie, prosa, drama) deur leerders in gr. 10, 11 en 12 wat aan die Poortkompetisie deelgeneem het.
  • Beste ontwerp vir die Poort-boekie se voorblad vir 2022: Janke Labuschagne van die Hoërskool Reitz.

Die pryse sal tydens twee virtuele bekroningsplegtighede later vanjaar oorhandig word. Bekroondes is waar moontlik reeds mondeling oor die bekronings ingelig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.