Nege dae te perd vir herdenkingsrit

Johan Nell, Bea Hildebrand, Fiona van Staden, Hechtor Beukes en Theunis van Staden tydens die 2015-herdenkingsrit (Foto: Verskaf)

ʼn Groep van altesaam nege perderuiters gaan volgende maand op ʼn herdenkingsrit van Bloemfontein na Kimberley vertrek en op dié reis verskeie erfenisgebiede en monumente besoek. ʼn Herdenkingsrit is dit wel, sê die groep ruiters, maar dié rit is nie nét ʼn geskiedenisles nie.

Hoewel die rit ten doel het om bewusmaking te skep rakende die land se ryk erfenis, plaas die ruiters ook ʼn groot fokus daarop om stories uit gemeenskappe te versamel en aan te teken.

Die groep meen dié ritte is daarom ná ses jaar steeds ewe suksesvol. Die eerste rit is in 2012 deur drie ruiters onderneem. Die ruiters het nagenoeg 500 km tussen Pretoria en Bloedrivier afgelê – en buiten die erfenisgebiede wat hulle besoek het, ook stories en staaltjies versamel.

In 2013 het die ruiters van Sterkfonteindam na Bloukrans gereis, in 2015 van Pretoria na Bloemfontein en in 2017 tussen die Uniegebou en die Voortrekkermonument in Pretoria. In dié ses jaar het die ruiters nagenoeg 26 monumente besoek en meer as 1 500 km te perd afgelê.

Op vanjaar se rit beoog die groep om erfenisgebiede soos Perdeberg, Jacobsdal en Magersfontein te besoek. Die ruiters vertrek op 23 Junie waar Kraal-uitgewers die boek Wes-Transvaal: Militêre brandpunt van die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902 bekend sal stel.

Theunis van Staden, sameroeper en een van die ruiters, sê dié jaar beoog die groep om met ʼn ryke oes van stories na hul onderskeie huise terug te keer.

Van Staden sê hy het in 2012 besluit om dié herdenkingsritte te begin nadat hy nie ʼn vriend kon antwoord oor watter veldslag by die Voortrekkermonument plaasgevind het nie. Dit was ʼn strikvraag aangesien daar nié ʼn veldslag by die Voortrekkermonument was nie – maar dít het hy nie geweet nie. “Ek was geskok dat ek hom nie kon antwoord nie,” sê hy. “Ek het besef dat ons toenemend al meer van ons geskiedenis begin vergeet; veral die jonger generasies. Daar was ʼn behoefte onder ʼn groep mense om dit te keer sodat daardie geskiedenis aan die lewe gehou kan word, en dié herdenkingsritte is dus begin.”

Die ruiters met hul perde tydens die 2015-herdenkingsrit (Foto: Verskaf)

Die simboliek wat perde in die geskiedenis gehad het, is die rede waarom die groep die ritte te perd doen. “In sekere sin is perde nog altyd grensverskuiwers gewees. Perde was in die geskiedenis ʼn gemene deler oor kulture, tale en lande heen. Dit kon ons saambring of uitmekaar laat spat. Buitendien is ek baie passievol oor perde,” sê hy.

Van Staden sê hoewel die ritte in die verlede baie bewusmaking oor Suid-Afrikaanse geskiedenis bewerkstellig het, is dit die stories wat die ruiters én die gemeenskappe bybly. “Ons het ʼn staaltjie wat ons altyd met mense deel: Tydens ʼn vorige rit het ons op een van die dae beoog om by ʼn plek met die naam Bettiesdam oor te slaap. Ons het deur Secunda gery en was onder die indruk dat ons ʼn kortpad gevat het, maar dit het uiteindelik nege uur geduur om deur Secunda te ry.

“Toe dit daardie dag donker begin word, het ons nukkerig met mekaar geraak. Ons was moeg en wou net by die bestemming uitkom. Op pad na Bettiesdam het ʼn man verby ons gery en gevra waarheen ons op pad is. Ons het verduidelik van die herdenkingsrit en dat ons na Bettiesdam gaan. Hy het gery en later teruggekeer met ʼn tweede man. Toe sê hy: ‘Daar bestaan nie eintlik iets soos Bettiesdam nie. Dis ʼn stuk grond met ʼn plaashuis, maar nie ʼn oornagbestemming nie. Ons het in elk geval vir julle die hek oopgesluit, julle is welkom om daar te slaap.’ En ons hét en dit was wonderlik. En dis sulke stories wat ons nog jare lank verder wil oorvertel.”

Die groep gaan op hul reis stilhou by die Aasvoël-klub in Bloemfontein, De Brug, die Kandirri-wildreservaat, Perdeberg, Laerskool Jacobsdal en Magersfontein se oorlogmuseum.

Vir meer inligting, besoek Herdenkingsritte se Facebook-blad of webwerf. Volg die groep se roete hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Eish ·

Ek is ook totaal in die donker met watter veldslag by die Voortrekker monument plaasgevind het.

Claudia kort hulp asb ·

Wil julle nie dalk terwyl julle op julle rit is nog n saak bevorder nie? Kyk gerus na die facebook blad Claudia se pad na genesing

Mien ·

Eish daar was nie ‘n veldslag by die Voortrekkermonument nie.
Dink hierdie ruiters verdien ‘n op duimpie of twee. Geniet dit !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.