Negejarige klim 13 pieke vir renosterwesies

Mackenzie Knott. (Foto: verskaf)

’n Flukse, toegewyde negejarige meisie, Mackenzie Knott, het ’n yslike uitdaging aangepak om geld ten bate van drie renosterwesies in te samel.

Knott het in die Junie-skoolvakansie die 13‑pieke-uitdaging hiervoor voltooi om saam met Fit 4 Rhinos geld vir die liefdadigheidsorganisasie Rhino Connect in te samel. Dié organisasie is verantwoordelik vir byna 3 000 renosters landwyd, en versorg ook die kalfies wat in die renosterweeshuis beland.

Dit het Knott ses dae geneem om die uitdaging te voltooi en sy het duisende rand in die proses ingesamel.

Sy het beoog om R20 000 in te samel, maar het op die ou end R7 000 ingesamel.

Dit is die tweede keer in haar lewe wat sy die 13‑pieke-uitdaging aanpak, met die eerste een wat in Mei verlede jaar voltooi is. Dít het sy in persoonlike hoedanigheid gedoen en dit was nie deel van ʼn geldinsamelingsprojek nie.

“Die opsie om geld te skenk is steeds oop, indien mense graag nog bydraes wil lewer,” het Liezl Schoeman, bestuurder van die Fit 4 Rhinos-organisasie, aan Maroela Media gesê.

Dié geld sal gebruik word om melk vir David, Monica en Joey, drie van Rhino Connect se renosterwesies, te koop.

“Een renosterkalfie drink om en by 21 liter melk ʼn dag,” het Schoeman vroeër aan Maroela Media gesê.

Joey, een van die renosterwesies. (Foto: verskaf)

“Die babarenosters in die ‘weeshuise’ het dringend melk nodig. Vetvrye langlewe-melk is baie na aan die melk wat hul ma sou produseer. Ons het dus besluit om ʼn geldinsameling van stapel te stuur om dié melk in die hande te kan kry.”

Knott is ’n kranige landloopatleet en deel dié liefde met haar pa. Dit is ook nie haar eerste geldinsamelingsprojek wat sy aanpak nie.

In Maart vanjaar het sy ten bate van die Suid-Afrikaanse fonds vir die bewaring van kusvoëls (SANNCOB) die 4‑pieke-uitdaging voltooi. Sy het tydens dié uitdaging ’n stewige R15 000 ingesamel.

Knott het die 4‑pieke-uitdaging, wat die klim van vier pieke behels, in 11 uur en 45 minute voltooi.

Schoeman vertel verder dat Knott elke jaar só ’n uitdaging ten bate van ’n dierewelsynsorganisasie wil aanpak.

“Sy is hou redelik vol dat sy alles self moet doen, maar hier en daar help haar pa haar omdat sy te kort is om van een rots tot ’n ander rots te kom,” het Schoeman vertel.

Die Fit 4 Rhinos-organisasie het talle projekte deur die loop van die jaar van stapel gestuur en beoog om R100 000 teen die einde van die jaar ingesamel te hê. Hulle het reeds sowat R80 000 ingesamel.

  • Vir meer inligting oor Fit 4 Rhinos en waar skenkings gemaak kan word, kan hierdie Facebook-blad of hierdie webwerf besoek word.
  • Vir meer inligting oor Rhino Connect, besoek die webwerf.
  • Om ’n bydrae aan Knott se 13‑pieke-projek te lewer, besoek hierdie webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.