Nico Moolman, die man wat skatte versamel

Jaco Cilliers, hoof van erfenisbewaring by die Voortrekkermonument, oorhandig die oorkonde aan Nico Moolman. (Foto verskaf)

Die skrywer, amateurhistorikus en versamelaar Nico Moolman het onlangs ʼn oorkonde van die Voortrekkermonument ontvang vir sy bydrae tot die nuwe Vrijheidsreis-uitstalling.

Die heel eerste museumvoorwerp wat te sien is by die nuwe uitstalling, wat op 14 Junie in die monument geopen is, is ʼn stokou vlag van die Republiek van Natalia. Die vlag kom uit Moolman se persoonlike versameling wat hy aan die Voortrekkermonument vir die uitstalling geskenk het.

Maroela Media het vroeër berig dat Moolman dié oorhandiging van die vlag as “ʼn stukkie uitruilkultuur van die Buskruit en Laventel-museum na die Voortrekkermonument se museum” beskryf het. Die Buskruit en Laventel-museum word deur Moolman op sy plaas buite Utrecht in KwaZulu-Natal bedryf.

Toe die Vrijheidsreis-uitstalling nog net ’n idee was, het personeel van die Voortrekkermonument Moolman se huismuseum besoek. Hierdie is nie ’n museum soos enige ander nie. In Moolman se museum word daar met die hande gekyk. Dit is ʼn ware kuiermuseum, ’n plek waar stories vertel word en waar kennisse vriende word.

Moolman versamel al jare lank interessante voorwerpe en oudhede. Dit is juis hoe hy op die ou vlag van Natalia afgekom het.

Alhoewel dit ’n ongewone ervaring is om aan allerhande museumvoorwerpe te mag raak, vertel Moolman dat dit juis vir hom belangrik is dat mense kan sien en voel.

“Mededeelsaamheid,” som hy dit in een woord eenvoudig op en vertel dat dit tog nie sin maak om hierdie tipe skatte in ’n kluis te bêre en vir niemand te wys nie.

Dit is onbekend hoe oud die vlag waarlik is, maar daar is ’n moontlikheid dat die vlag vanuit die Groot Trek se era dateer.

“Toe ek die vlag die eerste keer sien, kon ek oombliklik sien dat dit ’n outentieke vlag is,” sê Moolman.

Moolman geniet dit om skatte te versamel, maar hy geniet dit nog meer om hierdie skatte met ander te kan deel. Hierdie is nog ’n skat wat danksy Moolman nou ook vir die publiek van waarde kan wees.

Volgens Belinda Naudé, projekbestuurder van die Vrijheidsreis-uitstalling, het sy baie inspirasie geput uit Moolman se huismuseum en so het hy ook ’n aandeel aan die finale produk van die uitstalling soos wat dit vandag is.

Die Republiek van Natalia was ʼn Boererepubliek met ʼn kortstondige bestaan. Dit is in 1839 deur Natalse Voortrekkers gestig kort ná die alombekende Slag van Bloedrivier. Die republiek was aan die kus van die Indiese Oseaan, ten noorde van die Oos-Kaap, geleë en is tevore Natalia genoem deur Portugese seevaarders. Die republiek is in 1843 deur Brittanje beset en geannekseer.

Op 31 Mei 1844 is Natal as ʼn aparte distrik onder beheer van die Kaapkolonie geplaas, en in Desember van die volgende jaar is ʼn luitenant-goewerneur met verskeie departementshoofde na Natal gestuur. Britse heerskappy sou 66 jaar duur totdat Natal op 31 Mei 1910 deel van die Unie van Suid-Afrika sou word.

In meer as een opsig het die bloed wat die Voortrekkers in Natal gestort het, die weg vir Britse immigrasie en die verdere ontwikkeling van Natal gebaan.

“Dit is werklik ʼn eer en ʼn voorreg om so ʼn skenking te ontvang. Hierdie is nie net ʼn stuk van ons geskiedenis nie, maar die vlag self, is ʼn stuk geskiedenis,” sê dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK en Voortrekkermonument, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

piket ·

Waarom bly vewys na “Moolman…….”
Is sy naam nie Nico nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.